PROF. PERFORMER

Fransjohan Pretorius se memoires oor sy dosenteloopbaan op Netwerk24 laat die prentjie van prof. Nico van der Merwe voor my opdoem. Hy was ‘n jeugdige regsprof by Tukkies in die jare 60. ‘n ware “showman”. Ek sou sy delikteklas in Romeins Hollandse Reg III vir geen geld misloop nie.
Hy gee klas oor seduksie. Vertel van hierdie hofuitspraak en daardie handboek-definisie. Dan: “Goed, dis wat hulle sê. Maar wat sê ek, Nico van der Merwe?” As hy klaar is, slaan hy triomfantelik op sy bors: “En wie dink julle is reg? Natuurlik, ek, Nico van der Merwe.”
By ‘n ou met die bynaam Killer wil hy weet: “Killer, ek stap in die straat af en stamp die man wat van voor kom, teen die bors. Wat is dit?”
“Aa-aa-anranding, pro-o-o-ofessor,” antwoord Killer, nie ‘n man wat soos ‘n snelgeweer praat nie.
“Nee, Killer, nee. As jy hom stamp, is dit aanranding. As ek hom stamp, is dit moord, moord, moord!”
Ons skryf toets. Bo aan een – later ‘n bekende sakeleier – se vraestel staan: “Mooi so Mnr. So-en-So, as jy so aanhou, gaan jy net-net dop.”
Saam met ons in die klas was ‘n mediese dokter, ene Cor du Preez. In ’n ander toets moet ons die vraag beantwoord: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master (Gaan slaan dit gerus na). Hy skryf toe: Prof, ek het nooit geweet dat ‘n Engelse kerk my klokke so sou laat lui nie.
Prof. Nico antwoord: Ja dok, en dis toe nie die gelui van huweliksklokkies nie, maar die kluitlap op die kis!
Ongelukkig het ‘n blonde buurvrou in prof. Nico se lewe gekom. Hy beland op die voorblad van Die Transvaler. Of dit gelei het tot huweliksklokkies later weet ek nie. Wat ek wel weet: dit het ‘n briljante loopbaan kortgeknip.