‘N EKSIE-PERFEKSIE SOUT-VAN-DIE-AARDE-MENS

Tukkiebaadjies raak knap maar Tukkieharte klop warm.

Oor Cas Jacobs, studentemaat wat vanoggend op 85 oorlede is, kan jy lank en uitvoerig uitwei – oor sy liefde vir fyn kos en fyn musiek; sy verbintenis tot voortreflikheid en hoë standaarde; sy onwankelbare lojaliteit aan sy gesin, vriende en plekke van herkoms; sy taaie volharding en blymoedigheid in sy lang stryd teen kanker.

Ek en Cas het saamgeloop van 1958 af toe ons uit verskillende windrigtings by Tukkies se Kollegetehuis aangekom het.   Die lewenslange vriendskap is gevoed deur ‘n onblusbare verknogtheid aan Kollege en die vriende wat ons daar gemaak het, asook, later in ons lewe, ‘n gedeelde liefde vir die bos.

Ons eerste re-unie.

Intieme klein koshuisreünies in die Krugerwildtuin was lank ‘n jaarlikse hoogtepunt.  In die 25 jaar dat ons bostoevlug, Sabiepark, in die Van Deventers se  besit is, was Cas en die dierbare Nella 17 keer op besoek (Hy het getel, nie ek nie, en dit in sy sierlike handskrif in ons gasteboek aangeteken.)  Van geen ander mense is soveel spore oral in die huis te bespeur nie: van breekgoed tot braaitoerusting; van handgeverfde tafellappies tot kussings.  Hul Honda was altyd boordensvol gelaai as hulle daar aankom.

Kuier op Melkbos.

Cas het Tukkies toe gekom as ‘n soliede, ongekunstelde Karooseun wat, in kontrei-idioom, van ‘n “badskamer” en ‘n “puts” gepraat het. Ons was dadelik tot mekaar aangetrokke. Die studentevriendskap het tyd en afstand oorbrug. Toe hy vandag, 22 April 2024, die aarde verlaat het, het ‘n intense melankolie my beetgepak. Sulke vriende is skaars.

Een voorbeeld: in 1960 was ek met my studentemotor, ‘n onversekerde Peugeot 203 uit 1953, in ‘n ongeluk.  Later kry ek van my koshuismaats ‘n bultende koevert – om te help betaal vir die herstel van die kar.  Cas was die dryfkrag..

In Sabiepark.

Die Peugeot was nooit weer dieselfde nie. Tog was hy op ’n epiese tog na Bloemfontein vir die Uniefees in meer as een opsig – ook as slaapkamer – ‘n staatmaker. Genadiglik was die handige Cas een van die vier passasiers. Met behulp van ’n stuk bloudraad en ’n tang vir probleme met die vergasser het die boerseun van Carnarvon ons op die pad gehou.

Een grou Sondagmiddag het ek en Cas  die kar voor Asterhof gaan trek met ’n yslike “Hoekie vir eensames” teen die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!

Deur die jare het die Kollegemanne van daardie era graag saamgekuier, ook een keer by die mooi Jacobswoning in Drienielaan, Eldoraige, waar hulle goed ingerig was om plate-aande aan te bied en hul vriende op gereelde skaapbraaie te onthaal.

Piekniek op Granokoppie,

Van 2012 af was Balule, primitiewe boskampie in die wildtuin, en later Orpen ons bestemming.  Cas en Nella was altyd die voorvatters by die kospotte met vleis wat net reg gebraai is en ander fynproewergeregte.  Hulle was die mense wat die styl bygedra het met tafeldoeke, servette, kerse en keurige eetgerei.

Die tjops of steak was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny, die kole moes presies reg wees en die roosters blinkskoon. Vir die vriend  moes alles altyd eksie-perfeksie wees; met afskepery in watter opsig ook al had hy min geduld.

Van kuiers in Sabiepark het ons vele herinneringe, van stiltenagmale in die NG kerk in Skukuza en daardie gemeente se unieke paasdienste in die wildtuin tot pieknieks op die Granokoppie naby Skukuza met sy grenslose uitsigte en  wonderlike sonsondergange.

Afskeidsbraai in Sabiepark.

In Maart  2023 was Cas se afskeidsbesoek, al is dit nie so uitgespel nie.  Hy was toe 84 en ek 82.  Hy het al begin swaarkry met die gesondheid. Ons was vir oulaas saam in die swembadjie. Elke aand is ‘n vuurtjie aangesteek. Om weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het.

Ek groet Cas Jacobs met ‘n seer hart, maar ook innig dankbaar vir die voorreg om so ‘n sout-van-die-aarde mens langer as ses dekades my vriend te kon noem.