‘n VOORRY MET DRUKKERSINK IN DIE ARE

Wat het Neethling Fouché, aspirant-Springbokstut, Dawie Theron, Springbokstut van die 80’s, en Piet Wessels, Springbokhaker van 1951/52, gemeen?

Wed jou jy weet nie. Ek kan drie dinge noem:

Al drie het regstreeks of onregstreeks drukkersink in hul are;

Al drie het regstreeks  of onregstreeks ‘n Volksblad-verbintenis;

Al drie is of self of deur ‘’n bloedverwant aan die uwe bekend.

Laat ons by die oudste begin: Piet Wessels, haker (saam met Willem Delport) in Basil Kenyon /Hennie Muller se beroemde toerspan. Hy was ‘n lid van Die Volksblad  se sportredaksie voordat hy nuusredakteur van The Friend geword en later naby Vanstadenrus voltyds gaan boer het. Ons was in die 80’s op voornaamvoet.

Dawie Theron, ook later ‘n gedugte afrigter, is die seun van my kollega Piet Theron.  Ek en Piet was nie net kollegas nie, maar studentemaats en woonstelmaats.  Ek was seremoniemeester op sy troue met top-atleet Petro du Plessis. Dit sal ‘n oordrywing wees, maar ek kan amper daarop aanspraak maak dat Dawie voor my grootgeword het. Hy noem my Oom Hennie.

Vir Neethling Fouché het ek nog nooit ontmoet nie. Sal seker ook nie.  By kollega Herman le Roux verneem ek egter die interessante brokkie dat hy die kleinkind is van Johann Neethling, my voorganger as parlementêre verslaggewer van Die Volksblad in die 60’s.

Ons lessenare in die verslaggewerskantoor van Die Volksbkad in Voortrekkerstraat, Bloemfontein (later Nelson Mandelastraat) was direk langs mekaar.  (Johan het later na die onderwys teruggekeer en hoof van die Hoërskool  Philippolis geword).

Ek mag seker maar met die buitengewone verbintenis met die drie fris voorrymanne spog?