TWEE OUPAS EN ‘N SABIEPARK-KONNEKSIE
Soos Israel se eerste vors, koning Saul, kop en skouers bo sy volk uitgetroon het, verdwerg Stormers-rugbyster Neethling Fouché die uwe op die foto wat Saterdag by Skukuza se golfklub geneem is. By ons is sy vrou, Janca, en hul oulike meisiekind, Lente.
Agter die foto is ‘n storie: my verbintenis Neethling se twee oupas. Die naam Neethling kom van ‘n kollega by Die Volksblad in die 60’s. Die van Fouché kom van ‘n bevriende Bloemfonteinse motorhandelaar met wie ek meer as een keer sake gedoen het.
Die kollega was Johan Neethling, my voorganger as parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. Ek het hom in 1964 opgevolg.
Ons lessenare in die verslaggewerskantoor van Die Volksblad in Voortrekkerstraat, Bloemfontein (later Nelson Mandelastraat) was direk langs mekaar. (Johan het later na die onderwys teruggekeer en hoof van die Hoërskool Philippolis geword).
Die motorhandelaar was Buks, ‘n man wat veral Volkswagens verkoop het soos niemand anders nie. By hom het ek in 1980 met my aanstelling as redakteur van die koerant ‘n sjampanjekleurige Audi 200 gekoop. Die motor het my groot behae verskaf; altyd vir my gelyk soos ‘n slanke roofdier, gereed om grommend sy prooi plat te trek.
Vir gade Tokkie (die fotograaf) het ons by die nimlike Buks ‘n silwer Renault 5 gekoop, haar tweede. Haar vorige was geel en swart met ’n sondak – motortjies wat hul tyd vooruit was.
In April het ek op hierdie blad ‘n Volksblad-voorrry gekies “met drukkersink in hul are”: Neethling Fouché, Springbokstut, Dawie Theron, Springbokstut van die 80’s, en Piet Wessels, Springbokhaker van 1951/52.
Piet Wessels, haker (saam met Willem Delport) in Basil Kenyon /Hennie Muller se beroemde toerspan van 1951/52. Hy was ‘n lid van Die Volksblad se sportredaksie voordat hy nuusredakteur van The Friend geword en later naby Vanstadenrus voltyds gaan boer het.
Dawie Theron, later ‘n gedugte afrigter, is die seun van my kollega Piet Theron. Ek en Piet was nie net kollegas nie, maar studentemaats en woonstelmaats. Ek was seremoniemeester op sy troue met top-atleet Petro du Plessis. Dit sal ‘n oordrywing wees, maar ek kan amper daarop aanspraak maak dat Dawie voor my grootgeword het. Hy noem my Oom Hennie.
Vir Neethling Fouché het ek nog nooit ontmoet nie en sal ek seker ook nie, het ek toe geskryf. Toe net geweet dat hy die kleinkind is van oupa Johan. Saterdag, skaarsdrie maande later, kruis ons paaie egter toe in Skukuza. Verneem toe eers van die Buks-konneksie.
Via die Buks-konneksie kom ook ‘n Sabiepark-konneksie. Ry met Apiesdoringlaan suidwaarts rivier toe. By die laaaste uitdraai na links is die bordjie Umvunti. Wel, dis die Fouché’s se boshuis daardie, net om die draai van die Van Deventers se Tarlehoet in Wildevy.
“It’s a small world after all.”