NATSTEEN-KAMERADE
Ons weet wat julle nie weet nie. Ons – ek praat nou van die spesie joernalis – weet watter vreugde ons uit ons beroep geput het.Die naweek is daardie vreugde op genoeglike wyse ten toon gestel op die tweede Natsteen by De Wet Potgieter se Nagkantoor-kroeg op die idilliese Kaapschehoop met sy slierte mis, byt in die lug en sierlike wildeperde.

Daardie beroepsvreugde is ‘n gemeenskaplike een. Dit vra nie of jy van Naspers, Perskor of die SAUK kom nie. Net die belewenis maak ons almal kamerade.
By die mooie tradisie wat hier Augustusmaande op die berg wortel skiet, is dit die hoofdimensie waar oakal saamgebondel en gekuier is: op Nagkantoor se stoep, in die kapel by die boekebekendstellings, by die geesdriftige ondersteuning van die Bokke by ‘n groot skerm in ‘n volgepakte saal en by ‘n skaapbraai uit die boek met groot vure en gieters wyn.
Die boekefees was ‘n satelliet van die Innibos-kunstefees. Een van die boeke op die program was Beeld se jubileumboek, “Beeld50: Om ‘n groot storie hard te slaan”.Barnard Beukman, redakteur, en Erika de Beer, samesteller van die boek, het boeiend oor hul breinkind gesels met Annemarie van der Walt van Kaapschehoop, oud-redaksielid en rubriekskrywer.
Die wete dat Beeld op sy laaste skof is, het swaar op almal se hart gerus. ‘n Begrafnis was dit egter geensins. Die vlag is eerder gehys op die dinge wat mooi en wat goed was oor ‘n veelbewoë 50 jaar – en dié is genoeg vir ‘n rak vol boeke.
Vir hierdie Beeld-pionier was dit ‘n emosionele oomblik toe al die Beeldmense aan die einde moes opstaan. Jy kon die trots oor hul wortels in hul houding sien. Flukse verkope is aangeteken.
Op die foto van die opstanery in die kapel is van links o.a. Annemarie van der Walt, Erika de Beer, Herman le Roux, Tim du Plessis, Barnard Beukman en die uwe,


Ander foto’s getuig van die gesellige saamkuier agterna, ook met nie-joernaliste wat saam kom fees hou het. Die braaivoorskoot wat Barnard vashou, is hierdie ou s’n. Niemand gaan dit by hom wegvat nie.
