TOE NASPERS VRYE WEEKBLAD WOU RED

Max du Preez se Vrye Weekblad groet vandag ‘n derde keer. Hierdie keer is dalk finaal. Sy geldsake is eenvoudig te beroerd.
Of ‘n mens nou met die blad se sienswyses saamgegaan het nie, moet jy benadruk: die verlies van elke publikasie laat ‘n leemte en moet betreur word. Vir Afrikaanse lesers is dit skok op skok nadat ook Rapport en Beeld in resente tye pad gevat het.
Ek deel graag ‘n minder bekende stukkie geskiedenis oor die eerste ondergang van die blad wat in 1988, drie jaar nadat die Rand Daily Mail daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad gemaak het.
Sy ondersoekende joernaliste – moet Max du Preez nie onderskat nie! – doen toe plek-plek uitstekende werk met deurvorsende joernalistiek, soos die onthulling van die Vlakplaas-skandaal (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om op trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe, disrespekvolle politieke aanslag verower nie die mark nie.
In 1993, ná net vyf stormagtige jare, loop dinge vir hom sleg skeef – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie aard se dag nou aangebreek het.
Wat doen die Nasionle Pers toe? Hy skink nie vonkelwyn en verlustig hom in Vrye Weekblad se penarie nie, maar loods vanuit die Perssentrum in die Heerengracht ‘n klandestiene reddingspoging.
‘n Senior oud-amptenaar, Jan Prins, word dadelik na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt te gaan ondersteun. Die Pers het al die koste gedra en Jan boonop ‘n salaris betaal.
Selfs dié pogings kon ongelukkig die ondergang nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad vroeg in 1994 sy deure sluit – die eerste keer.
‘n Naskrif op ‘n ligter noot oor Du Preez se eie metodes van geldwerwing vir sy publikasie . Dit was soms bra onortodoks. In sy biografiese ontboeseming, Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (Zebra Press, 2011) vertel hy byvoorbeeld sonder skroom van ‘n kuiertjie met ‘n kinkel by ‘n eensame, ryk weduwee. Hy moes as’t ware “sing for his supper” maar hy is nie onbeloond met leë hande huis toe nie.

FRONT VAN OUD-REDAKTEURS

Ses van laaste sewe redakteurs van Die Volksblad/Volksblad het die brief onderteken.  Hulle is Hennie van Deventer, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan  Crowther, Jo van Eeden en Gert Coetzee.  Ainsley Moos (derde van regs) is reeds oorlede.

Veertien voormalige redakteurs van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport – onder andere Ton Vosloo, Meneer Naspers oor vier dekades –  spreek in ‘n brief hul sterk teenkanting uit oor Media24 se ingryende planne met koerante.

Hulle vra Media24 om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.

Die redakteurs spreek die wens uit dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.

Hulle vra dat redaksies met voldoende hulpbronne bemagtig word om, soos in die verlede, diens aan die Afrikaanse leefwêreld in sy verskeidenheid te lewer.

Die oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 tot nou. Almal nog in lewe en bereikbaar het hul gewig agter die brief ingegooi.

Die volledige brief hier onder  is op 27 Junie 2024 per e-pos gerig aan Prof Rachel Jafta, voorsitter: Media24-direksie. met ‘n afskrif aan mnr. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof, Media24:

Geagte prof. Jafta

Re Media24 se besluit rakende die algehele sluiting van Beeld en Volksblad asook die gedrukte weergawe van Rapport met ingang 1 Oktober 2024:

Ons rig dié brief aan u in ons hoedanigheid as oud-redakteurs van die Naspers/Media24-publikasies Die Burger, Volksblad, Beeld en Rapport.

Ons boekstaaf hiermee ons teleurstelling en ernstige kommer oor die gevolge van dié besonder drastiese ingryping, nie net vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans nie, maar ook vir die breë Afrikaanse gemeenskap.

Ons verstaan die oorhoofse sakeredes. As oud-redakteurs weet ons maar te goed die kostes van druk- en verspreiding het onhoudbaar geraak. Ons besef ook die toekoms vir nuusmedia is digitaal en dat wêreldwyd die gedrukte media teen ‘n versnelde tempo digitaliseer. Elders ter wêreld oorleef sekere drukmedia steeds, ook in die VSA, hoewel Warren Buffet en Jeff Bezos onlangs nog daarin belê het. Dit ter syde.

Maar ons lewer ‘n ferm pleidooi vir die behoud van gehalte-joernalistiek in Afrikaans onder die vaandel van mashoofde wat oor dekades heen bekend en gerespekteer is in die Afrikaanse gemeenskap. Ons versoek ook dat al die geraakte titels op die Netwerk24-platform voortleef in PDF-formaat

Voorts vra ons dat Media24 se redaksionele spanne – wat mettertyd almal in die digitale sfeer sal werk – moet kan reken op dieselfde toewyding en hulpbronne as wat hul voorgangers in die druk-era van Naspers/Media24-direksies ontvang het.

Lede van die top-bestuur van Media24 gee nou in die openbaar te kenne dat geen verskraling sal gebeur wanneer die drukweergawes gesluit word. Maar hoe gaan dit moonlik wees as redaksionele poste afgeskaf word en begrotings gesny word op ‘n skaal wat nog nooit voorheen in Naspers/Media24 gesien is nie? Die waardeketting in die nuusbedryf – digitaal of gedruk – begin immers by bekwame redaksies wat met hulpbronne ondersteun word.

Sedert die stigting van Die Burger in 1915 was Naspers/Media24 se Afrikaanse koerante ‘n markplein vir idees, uitdagings, verkennende denke en om, in Ton Vosloo se woorde, “te publiseer vir ‘n voller samelewing”. Dis waar Afrikaanse mense met mekaaar stoei, stry, verskil en saamstem, waarná hulle meestal vorentoe beweeg. Tans is ons Afrikaanse titels een van die ruimtes waar wit en veral bruin Afrikaansspekendes bymekaar kom in een taalgemeenskap. Hierdie kultuurskat moet tot elke prys behoue bly. Daarby glo ons ‘n lewenskragtige, diverse Afrikaanse media, verbind tot die vooruitgang van die totale SA gemeenskap, is ‘n bate wat koestering verdien.

Ten slotte wil ons ons kommer betuig oor die verskraling van die Afrikaanse leefwêreld wat die beoogde planne sal meebring. In die grootste gedeelte van die land bestaan Afrikaans nie meer as ‘n regstaal nie. Afrikaans se status as ‘n volwaardige akademiese taal hang aan ‘n draadjie. Die Afrikaanse taal en kultuur verdien nie bywonerstatus in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie.

Ja, daar is steeds Afrikaanse skole, Afrikaanse kunstefeeste, ‘n gerespekteerde teaterbedryf, Afrikaanse rolprente, ‘n dinamiese letterkunde, enkele Afrikaanse tydskrifte en die TV-kanale kykNET en Via. Maar al dié instellings funksioneeer in ‘n ekosisteem waarvan lewenskragtige Afrikaanse nuusplatforms die suurstof én die bloedsomloop is. Die afskaling van ‘n behoorlike nuusaanbod in Afrikaans, dus die verwatering van eerstehandse verslaggewing, sal ‘n domino-effek op die hele taalgemeenskap hê.

Ons versoek dat die Media24-direksie die besluit ter sprake heroorweeg om geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning. Laat belanghebbendes toe om voorstelle te doen oor hoe die negatiewe impak van die besluit soos dit tans staan, teëgewerk of versag kan word. Oorweeg ook voorstelle van buite die maatskappy wat die lewe kan verleng van die gedrukte weergawes, al is dit tydelik. Dit sluit in gemeenskapskoerante.

Ons verneem graag u reaksie.

Met vriendelike groete

  1. Ton Vosloo Beeld 1977 – 1983
  2. Hennie van Deventer (Die Volksblad 1980 – 1992)
  3. Ebbe Dommisse (Die Burger 1990 – 2001)
  4. Johan de Wet (Volksblad 1992 – 1994; Beeld 1996 – 1999; Rapport 1999 -2001)
  5. Willie Kühn (Beeld 1993 – 1996)
  6. Paul Marais (Die Volksblad 1994 – 1999)
  7. Jonathan Crowther (Volksblad 1999 – 2009)
  8. Peet Kruger (Beeld 2001 – 2009; 2011 – 2013)
  9. Tim du Plessis (Rapport 2001 – 2008; Beeld 2009 – 2012)
  10. Bun Booyens (Die Burger 2010 – 2016)
  11. Bokkie Gerber (Rapport 2010 – 2012)
  12. Jo van Eeden (Volksblad (2012 -2015)
  13. Waldimar Pelser (Rapport 2013 – 2022)
  14. Gert Coetzee (Volksblad 2015 -2022)

Ton Vosloo, redakteur Beeld 1977-1983; besturende direkteur Naspers 1984- 1997; voorsitter Naspers 1997 tot 2015, ondersteun die brief met die volgende aparte verklaring:

As redakteur wat Beeld in 1983 geneem het tot die enigste Afrikaanse dagblad in die Noorde na die hewigste persstryd in die geskiedenis, het ek volle begrip vir die veranderende mediatoneel wereldwyd. SA loop ook deur en die leiers van Media 24 word daarmee gekonfronteer.

Ek het vertroue dat hulle in oorleg met Naspers se voorsitter Koos Bekker die uitweg sal vind wat Afrikaanse joernalistiek sal rig op die volgende fase van sy deurslaggewende bestaan.

VERBODE BOEK OOR NASPERS: TON VS KOOS

In die lig van die ingrypende verandering in die landskap van Media24 se  koerante wat aangekondig is, raak die vreemde lotgevalle van die jubileumboek Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld opnuut relevant, selfs insiggewend.

Die joernalis Dana Snyman het reeds in sy rubriek vanoggend in Die Burger en Beeld en in ‘n radiogesprek vlugtig na die boeksage verwys. Hier volg die konteks:

Kroniek was bedoel as ’n amptelike geskiedenis van Naspers om sy 100ste verjaardag in 2015 te vier, maar is weens interne botsings toe nooit gepubliseer nie.

Nege jaar lank vergaar die historiese boek  – breinkind van Ton Vosloo en pennevrug van prof. Lizette Rabe – nou al stof. Dit is agter stewige slot en grendel, en die sleutel is in die hand van Koos Bekker, die man in Naspers se voorsitterstoel. Dit is Bekker wat teen Vosloo se grein in publikasie geveto het – en in sy weerstand volhard. Jy kan die veto natuurlik ook sensuur noem, en dit sal nie verkeerd wees nie.

Vosloo, oud-voorsitter en dinamo agter die boek, en opvolger Bekker, wat onder sy voorganger se beskutting vir die maatskappy ongekende rykdomme ontsluit het, het jare as bondgenote in gelid saamgestap. Oor die boek bots die twee bulle egter kop teen kop.

So ongelukkig is Vosloo oor die boek se lot dat hy al die ongewone gedoen het om ’n openbare pleidooi om ’n hartsverandering tot sy protégé te rig. Dit was vrugteloos. Die status van Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld bly dus onveranderd; dit is ’n geslote boek en gaan klaarblyklik geslote bly solank dit Bekker behaag – of totdat iemand ’n plan prakseer om die huidige toerniket-wurggreep te omseil.

Maar die troefkaart is in Bekker se hande. Kopiereg berus by Naspers – in ’n klousule, ironies genoeg, op inisiatief van Vosloo in die kontrak ingeskryf.

Oor die vreemde verloop van die sage rondom die nie-publikasie van ’n troetelprojek op sy laaste skof skryf Vosloo self openhartig in sy memoires, Oor grense (Jonathan Ball, 2018). Die feesboek-turksvy word onder meer ook insiggewend in Ebbe Dommisse se Fortuine – Die Wel En Wee Van Afrikaner-magnate (Jonathan Ball, 2021) en TJ Strydom se Koos Bekker’s Billions (Penguin Random House, 2022) aangesny. Hulle sien sake redelik eenders.

Naspers se geskiedenis oor 100 jaar se intieme saamleef met die Suid-Afrikaanae hartklop moet fassinerende inligting ontsluit. In die stadium weet egter net Rabe, Vosloo en Bekker – en dalk ’n paar ander – wat in die feesboek staan. Nie een praat uit oor die inhoud nie.

Bekker maak egter geen geheim van sy mening nie: dat die boek se aanpak, na sy mening, te eng is. Aan Dommisse het hy dit so gestel: “Ek meen die gebeure word geskets bloot uit ’n Afrikaner-perspektief, terwyl daar later verskeie strome by die Naspers-rivier aangesluit het wat nie uit die Afrikaner-bron van 1915 ontspring het nie.”

Die woorde bevestig wat die kardinale geskilpunt klaarblyklik is: die boek se openhartige terugblik op die koppeling van die maatskappy se koerante met Afrikaner-nasionalisme van sy stigting af. Die Burger en Die Volksblad het albei ’n lang geskiedenis as amptelike mondstukke en bondgenote van die Nasionale Party. Die Beeld, Rapport en Beeld se bande was losser, maar was tog in mindere of meerdere mate in dieselfde dampkring.

Die eerste spitwerk vir die boek is vier jaar voor die eeufees in 2015 gedoen. Vosloo, toe uitvoerende voorsitter en ’n man met ’n hart vir dié soort sake, is in 2011 met ’n voorstel na die direksie dat prof. Rabe, hoogleraar en hoof van die departement joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch (ook ’n oud-redakteur van die tydskrif Sarie), die ambisieuse projek aanpak. Die direksie het ingestem. Vosloo se idee was ’n gesaghebbende historiese werk in Afrikaans en Engels.

Die deeglike Rabe het vier jaar lank per kontrak met Naspers die geskiedenis omvattend nagevors en te boek gestel. Vosloo, self ’n oud-joernalis wat meer as 40 jaar se geskiedenis persoonlik meegemaak het (en heelwat van die geskiedenis self geskep het) was haar klankbord. Geen ander span as Vosloo en Rabe kon daardie rolle beter vertolk het nie.

Bekker was aanvanklik nie ongeneë vir ’n jubileumboek nie. Maar in 2014, op ’n sabbatsjaar aan die vooraand van sy aanvaarding van die nie-uitvoerende voorsitterskap (sy tweede sabbatsjaar by Naspers), het bedenkinge klaarblyklik by hom posgevat. Drie afgesante – almal “inkommers” in die Bekker-era van ná 1998 – is na Vosloo gestuur om hom te probeer swaai om weg te stap van die boek-idee: Cobus Stofberg, ’n studentemaat van Bekker, later ’n vertroueling en mededirekteur van Naspers; Steve Pacak, finansiële direkteur, en Gillian Kisbey-Green, maatskappysekretaris.

Geeneen van die drie kon aanspraak maak op ’n diepgaande kennis van die “ou” Naspers nie. Soos te wagte kon wees, kon hulle nie by die gedugte Vosloo hond haaraf maak nie.

Bekker het egter nie die stryd gewonne gegee nie. Toe hy in 2015 met ’n nuwe hoed en die nodige gesag die tuig weer opneem, het hy sy voet dadelik dwars gesit. Hy stuit publikasie, het hy Vosloo luiters ingelig. Een rede vir die drastiese stap, volgens Vosloo, was Naspers se duisende swart werknemers. As die maatskappy se verlede van Afrikaner-nasionalisme opnuut oopgekrap sou word, sou hulle dit, na Bekker se oordeel, negatief beleef.

Dit sou ook die aandag van die ANC-regering onvriendelik op die maatskappy kon vestig. Gereguleerde besighede, soos die Multichoice-groep se geldkraan in sub-Sahara-Afrika, DSTV, en digitale ondernemings, kon in die gedrang kom, het Bekker, aldus Vosloo, gevrees. Vosloo het vasgeskop. Bekker se standpunt is verkeerd en sy vrese oordrewe, het hy betoog. Naspers se herkoms is algemene kennis. Maar so ook die hervormings wat die maatskappy van 1984 af in eie geledere teweeg gebring het, asook sy “gewillige en hoopvolle inskakeling” by die nuwe, demokratiese Suid-Afrika. Niks kon Bekker egter oortuig nie, en Vosloo se hande was afgekap.

In Februarie 2016, ’n jaar ná die eeufees, het Vosloo Naspers ná ’n uitmuntende loopbaan as redakteur, besturende direkteur en uitvoerende voorsitter gegroet. Sy afskeid was ’n glansryke dinee in die koloniale Mount Nelson-hotel aan die voet van Tafelberg. Met die gaste se aankoms is deftige dasse, strikdasse en serpe met afbeeldings van spesiale koerantvoorblaaie aan hulle uitgedeel – ’n ironiese weerspieëling van juis daardie historiese bagasie wat Bekker so ongemaklik maak. Van die mans het, aandpak ofte nie, daar en dan hul formele dasse met die nuwes vervang. Of Bekker die voorbeeld gevolg het, het ek ongelukkig nie opgelet nie.

In sy gemoedelike afskeidstoespraak het Vosloo die slepende warm patat versigtig geopper. Sy beroep op sy opvolger om sy teenkanting te laat vaar, het geen kik uitgelok nie. Ná die toespraak het Vosloo na Bekker oorgestap en ’n geselsie aangeknoop. Het hy hom in die verleentheid gestel met die beroep om ’n groen lig, wou Vosloo hoflik weet. Nee, het die enigmatiese Bekker geantwoord – en net geglimlag.

“Ek respekteer sowel Ton as Lizette en werk al jare lekker met albei. Oor die boek wat Lizette as ’n ‘amptelike geskiedenis’ van die maatskappy wou publiseer, verskil ons egter beleefd,” het hy in 2019 aan Dommisse gesê. Hy noem dat Naspers besighede (groot en klein) in 120 lande het.

Kan die boek wel nog gepubliseer word?  Bestaan so ’n kans? Strydom is in sy boek hieroor nie positief nie. Hy stapel trouens die getuienis op oor hoe die “ou” geskiedenis van die Nasionale Pers vir Bekker maar altyd ’n lastige albatros was wat hy graag in sakebelang volledig sou wou afwerp.

Selfs van die naam Nasionale Pers sou hy in sy geheel weggestap het as die vorige direksie nie ’n stokkie daarvoor gesteek het en die huidige kompromie, Naspers, nie bereik is nie, meen Strydom.

My sienswyse stem ooreen met Strydom s’n. ‘n Mens kan wel tog wonder of die kruispad wat die koerantwese nou bereik het, Bekker nie dalk tot ander insigte oor die historiese waarde kan bring nie. Die tafel is immers gedek vir so ‘n soort boek, nou amper meer as met die eeufees.

As hy gaan volhard dat die boek tot elke prys onder die hoed gehou gaan word, wil ‘n mens die hoop uitspreek dat ’n slim gaping gevind word om die Rabeboek – al is dit ten minste vir ’n beperkte gehoor – verby die enigmatiese Bekker te smokkel.

 Naskrif: Die maatskappy – voorheen die Nasionale Pers Bpk. – is in 1915 uit die nood van Afrikaners ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) gebore. Aanvanklik was Die Burger, “kind van smart en hoop”, sy enigste koerant – soos hy nou weer gaan word as die andersoortige Son buite rekening gelaat word.

Later het Die Volksblad, Beeld, Rapport, City Press en andere, asook, tydskrifte en boeke gevolg. Op 12 September 1994 is die maatskappy as die Nasionale Pers op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. In 1998 het die naam Naspers geword.

In 2000 is al Naspers se koerante, tydskrifte en uitgewerye – as’t ware die ganse ou Nasionale Pers – onder een sambreel geplaas: die nuwe entiteit Media24 wat nou in die beoogde herstrukturering afgetakel word. ’n Naelstring is behou na Naspers wat ’n globale reus met hope vertakkings geword het.

(Vir die artikel is sterk gesteun op ‘n hoofstuk uit my jongste boek “Elke dag ‘n mooi meisie en ‘n moord”, Naledi 2023.)

OOR GLORIERYKER DAE

Agteros kom ook in die kraal. Verkoon as my storie ietwat koue kos is, maar die nuus dat Mediapark in Aucklandpark, Johannesburg, blykbaar al geruime tyd gelede aan UJ (Universiteit van Johannesburg) verkoop is, het by my verbygeglip. Ek hoor dit pas: Media24 se mense in die noord is sak en pak uit; bevind hulle nou by ‘n beskeier adres in Randburg. Hul vorige prestigetuiste in Kingsway, Aucklandpark, buurman van die ou Randse Afrikaanse Universiteit en die SAUK, huisves nou UJ se sakeskool.
Ek aanvaar goeie sakeredes het die deurslag gegee. ‘n Mens moet nou nie te sentimenteel raak oor glas en beton nie. Maar dit is tog vir my hartseernuus dat dit nodig geraak het, des te meer so oor my eie betrokkenheid by die totstandkoming. Die koop van daardie pragtige boomryke stuk parkland by die Johannesburgse Buiteklub vir R20 miljoen, as ek reg onthou, en die oprigting van die massiewe gebou vir o.a. Beeld en Rapport se redaksies was een van my laaste groot projekte as hoof van koerante voor my aftrede in 1997.
Die opdrag het vroeg daardie jaar van Ton Vosloo gekom: soek vir ons (bedoelende die Nasionale Pers, want dit was voor die era van Naspers en Media24) grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het dadelik Jan Malherbe, knap noordelike hoofbestuurder, ingekatrol. Die middag toe hy en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, vir my die pragtige perseel gaan wys, was ek in die wolke. My woorde was: As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop. Die direksie het die aanbeveling bekragtig. 
Nogtans moes ek in ‘n stadium sterk walgooi. Die toe nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, wou sommer daardie wonderlikse stuk grond dadelik weer verkoop. Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos dit by Die Volksblad was). In beginsel was ek dit van harte eens. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en advertensie-afdeling ook iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is. Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.
Ook die gebou self het ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter. Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman, Krige toegeken. By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan. Die volgende dag het ek die stoute skoene aangetrek en vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en an die verkeerde adres gerig.
Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.
Die ontwerp van die gebou is teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan tog nie ‘n gebou opig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.
Einde 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek. By my afskeid het Ton “opdrag gegee” dat ek na die inwyding genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie. Twee dekades het ek gebrand van nuuskierigheid oor daardie gebou. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.
Na 20 jaar het ek iets aan die saak gedoen. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging vinnig op pad was. Op Donderdag 9 Maart 2017 het ek die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap. (Foto’s).
Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en kollega Herman le Roux uitgerol. Johanna van Eeden, toe hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete.
Die ou gebou in Millerstraat / Voorhoustraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie nuweling was in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke moderne gerief. Hoe in my noppies was ek nie oor ons spogadres in die noorde nie. Nou is dit ook net nog ‘n herinnering aan gloriekryker dae.

VAN PLAASPONIE TOT SPOGKAR

Vir Johannes Moses het ek goed leer ken in my laaste vyf jaar by die Nasionale Pers in Kaapstad. Hy was om die beurt kelner en motorbestuurder en was in albei rolle die toonbeeld van ‘n netjiese, vriendelike, pligsgetroue en bekwame amptenaar.

Enkele dae gelede het ek Johannes weer gesien. Hy was op ‘n sending na Melkbosstrand.  Vir my lyk hy nes die Johannes wat ek 25 jaar gelede gegroet het. Hy dra sy jare goed. Dat hy al 41 jaar by Naspers is, sal jy nie sê nie.

Vreemd soos dit klink – en ietwat van ‘n verleentheid vir my – is dat ek nou, in Mei 2023, in een lekker gesels met hom meer oor die gewaardeerde kollega te wete gekom het as in die vyf jaar (van 1992 tot 1997) dat ons saam op die 18de verdieping van die Nasperssentrum werksaam was.

Ek het geweet hy is ‘n gebore Vrystater.   Nou weet ek eers dat hy van Gumtree  kom, ‘n gehuggie  tussen Ficksburg en Clocolan in die Oos-Vrystaat; dat hy op ‘n plaas grootgeword het en kleintyd koeie gemelk het, asook ‘n knap perderuiters en ‘n jokkie was.

Nou eers weet ek dat op 14 saam met ‘n oom Kaap toe gekom het wat hom opsluit in ‘n loopbaan in die boubedryf wou dwing.  Pleks van skool gaan, moes hy in sy oom se agterplaas bakstene rondgooi.

Nou eers weet ek dat hy by ‘n Moslemgesin in Somerset-Wes ‘n heenkome gevind en in hul winkel uitgehelp het, dat hy op ‘n eerste grootoog-besoek aan Seepunt by die ou Arthur Seat-hotel ingestap het om vir enige werk aansoek te doen; dat hy hom opgewerk het tot ‘n gewilde sjef vir die personeel  en dat hy later by die luukse-hotel Heerengracht ‘n kelner geword het.

Nou eers het ek gehoor hoe hy agter ‘n vriend aan na Die Burger is om aan  die veeleisende nag- en naweek-skofwerkery van ‘n kelner te ontsnap en ‘n bode vir bekendes geword het, soos vir Sakkie van Zyl van die advertensie-afdeling.

Met die trek van  Keeromstraat 30 na die huidige gebou in die Heerengracht – rondom 1980 as ek reg onthou – het die Nasionale Pers ‘n deftige eetkamer vir onthale gekry. Johannes se talente en ervaring  is vir Andrew Marais, nuwe skakelhoof, in die oor gefluister.

Aanvanklik het Johannes op leengrondslag kom uithelp.   Almal was verras oor sy kundigheid, tot met die dek van tafels en die skink van wyn.  Gou wou Marais hom afrokkel. Van Zyl het egter vasgeskop: “As julle hom vat, sal ek twee mense in sy plek moet aanstel”.

Maraais het die toutrekkery gewen, en Johannes het nooit weer omgekyk nie. Hy was oornag in ‘n pos met ‘n beter salaris en met pensioenvoordele. Hy het boonop sy werk geniet.  Net aanvanklik was daar ‘n klein komplikasie. Wanneer hy die aand laat moes werk, moes ‘n motorbestuurder ook laat aanbly om hom huis toe te vat.  Hy is aangesê om te leer bestuur. ‘n Persmotor is tot sy beskikking gestel.

So gou was hy tuis agter die stuurwiel dat hy tussen sy kelnerpligte deur senior amptenare begin rondkarwei het.  Vandag is dit sy nering. Hy ry die base rond in ‘n elektriese model Volvo – die eerste van die aard wat ek met my eie oë sien.

Wat ‘n ver pad het die kaalvoet-outjie van Gumtree nie gekom nie: van trippelpassies maak op ‘n plaasponie in die Oos-Vrystaat tot  woerts-warts in die Moederstad met ‘n ultra-moderne spogkar.  Al waaroor ek spyt is, is dat ek Johannes nie gevra het om my net een keer om die blok te vat nie.  Nou sal hierdie mede-Vrystater daardie kringloop waarskynlik nooit self ook voltooi nie.

FOTO:  Ek en  Johannes poseer op Melkbos vir Tokkie