LEUEN LEEF VOORT

More uit Melkbos

Glo dit as jy wil: In vanoggend se Volksblad herhaal Dana Snyman in sy rubriek oor die name van ouetehuise sy valse, spottende verwysing na die “Verrgeet-my-nie”-ouetehuis op Bultfontein wat dan “Amper Daar” sou heet.

Hier is die gewraakte Dana-paragraaf, nes dit vyf dae gelede in Die Burger verskyn het: Wat kan ’n mens sê van Huis Amper Daar op Bultfontein in die Vrystaat? Wie sou op dié naam besluit het? Hoe word die telefoon daar beantwoord? “Hallo, Huis Amper Daar.”

As Die Burger nie so traag was om die mistykie te erken waarop ek onmiddellik in ‘n (vrolike) briefie gewys het nie, of ‘n bietjie moeite gedoen het om mnr. Snyman of Volksblad in te lig, kon die herhaling van die fout natuurlik vermy gewees het.

Moet sê: Ek vind dit nogal ligweg amusant dat vanoggend op bladsy twee van Die Burger ‘n plegtige regstelling verskyn oor die naam van die Wollongong-universiteit (met of sonder g!), maar oor die doelbewuste en bra siniese misleiding vir “humordoeleindes” word in alle tale geswyg.

Sou Die Burger dalk nie graag wou hê lesers moet weet sommige rubrieksrywers suig ook maar lustig duim as hulle kans kry nie? Of is die beleid dalk deesdae om rubriekskrywers in watte toe te draai en tot elke prys teen alle kritiek te beskerm?

Die “grappie” gaan seker nog in Beeld ook opduik – hoekom ‘n goeie storie nek-om draai net omdat die feite verkeerd is?

(‘n Vriend in Bloemfontein deel intussen mee van die genadiglik abortiewe plan om ‘n NGK-tehuis vir oues “Transito” te noem. Goeie hemel – dis amper nog erger galgehumor!)

(hvd)

LEUEN OOR ‘N OUETEHUIS

More uit Melkbos

Danksy ‘n vlytige brieweredakteur by Die Burger is daardie koerant se lesers die intellektuele uitdaging gespaar om die briefie hieronder te verteer.

Die resultaat is dat lesers van daardie gewaardeerde Kaapse Afrikaanse dagblad steeds onder die skromelike wanindruk verkeer dat Bulfontein se ouethuis ,Amper Daar sou heet – wat darem sielstergende ligsinnigheid sou weerspieël.

Ek meen nie rubriekskrywers durf straffeloos rondloop wat die waarheid so geweld aandoen ter wille van effek nie, en ook nie dat koerante hul rubriekskrywers so tot elke prys in watte moet toedraai dat hulle maar ongeopponeer mag kwytraak wat hulle wil, sonder bekommernis oor die waarheid aldan nie van hul skryfsels nie. .

Hiermee my verwerpte briefie:

Dit is nie eens amper waar dat die ouetehuis op Bultfontein in die Vrystaat se naam Amper daar is nie.

As aangetroude Bultfonteiner (31 Desember 1966 in die NG Moedergemeente neffens die kerkhof) neem ek des te meer eksepsie aan mnr. Dana Snyman se wanvoorstelling in die rubriek Van Alle Kante van 29 November.

Die huweliksband van amper 50 jaar vereis immers lojaliteit aan die dorp, aan Huis Vergeet My Nie (korrek) en aan sy tydgenootlike inwoners, van wie aan my bekend is.

Boonop kom ek uit ‘n skool vir wie name heilig was. As ‘n vrou haar naam as Anna aangee, het jy haar gevra: Anna met twee n’e of Ana met een n? Het mnr. Snyman iemand gevra? Het hy net die kluts met die spul name kwytgeraak? Of het hy sommer met kwaadwillige asprisheid die naam uit sy duim gesuig?

As ‘n mens oor die naam van ‘n ouetehuis lieg, kan jy oor enigiets lieg. Ek is amper daar dat ek mnr. Snyman se mededelings met ‘n knippie sout neem. (hvd)