Jun 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Een brokkie Volksblad wat geen onsimpatieke direksiebesluit in die verre Kaapstad tot niet kan maak nie, is die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, Bloemfontein, waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.
Hoe onmeetlik bevoorreg is my geliefde koerant nie dat so ‘n heenkome vir hom bestaan: ‘n plek waar ‘n mens kan instap en alles om jou heen herinner jou aan die omgewing waar jy jare van jou loopbaan geslyt het, of waar die produk vervaardig is wat jy elke liewe dag (buiten Sondae) in jou huis verwelkom het; ‘n vaste deel van jou lewenservaring.
In 2023 was die voorreg van so ‘n besoek hierdie veteraan uit die vorige eeu beskore. In die die geselskap van gewaardeerde kollegas kon ek ‘n uur of wat doerie dae se goue tye by die koerant in die nimlike Volksbladkamer gaan herleef.
Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie om op my ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar ek 12 jaar lank gearbei het nie, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit my kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.
Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat het ‘n lang geskiedenis. Dit was ook die lessenaar van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). Hy was aan die stuur toe ek as sesjarige in ‘n skakelhuisie in Kimberley aan my oupa se voete Die Volksblad begin “lees” het. Min kon ek toe dink dat ek in sy spore sou volg. In my era as redakteur (1980 – 1992) is die lessenaar tot sy huidige glorie vernuwe. Dit is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.
Die ander meubels in die vertrek is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié is verkoop en lyk bra bedremmeld.
Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.
Die gashere daardie dag was Wyno Simes en Annelien Diedericks van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok wat die redakteur sal wees wat einde September de deure finaal toesluit. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.
Kameras het natuurlik aanhoudend geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Die foto’s hierby is van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan), die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en die deur.
‘n Lewenservaring van enorme betekenis was dit vir hierdie 83-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die herbesoek aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.
Ek is diep dankbaar teenoort NALN wat die historiese waarde van die koerant gesnap en vir hom die tuiste gegee het en vir kollegas Gert Coetzee en Constant Steyn wat met die afronding hande uit die mou gesteek het. Ek is ook dankbaar teenoor daardie gedugte boekeman prof, Petrus Nienaber vir sy versiendheid om ‘n museum soos NALN tot stand te help bring.
Van hom gepraat: by die toekenning van die Taalfeeskomitee se goue medalje aan Die Volksblad in 1974 het hy gesê: “Blaai jy deur Die Volksblad (soos sy naam toe was) se lêer oor die afgelope 70 jaar kan jy die Afrikaner se taal- en kultuurgeskiedenis hieruit opstel. Die Volksblad is ’n bron nie net vir die politieke geskiedenis nie, maar veral ook vir ons kultuurgeskiedenis. Dit is ’n goudmyn.”
’n Goudmyn – hoe verstom sou Prof. Petrus nie gewees het noe as hy moes weet dat hierdie goudmyn van die gees, soos sovele gewone goudmyne in die Vrystaatse aarde, in die jaar van ons Heer 2024 – presies ‘n halfeeu later – by die einde van sy pad sou kom en dat net die kamer by NALN sal oorbly?
Jul 29, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die wêreld is ons woning nie. Daaroor is ek dit met die digter Totius roerend eens. Hy merk dit o.m. aan die son wat wyk, aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk en “in alle ding wat in die skemer my omring.” My lysie van tekens is heelwat langer as syne. Van veranderende waardes tot fisieke agteruitgang en verval maak my mistroostig.
Vanoggend het ‘n diepe mistroostigheid my oormeester toe ek ”Volksblad” se voorblad op Netwerk24 oopmaak. “NALN staan donker en gegrendel”, is die opskrif van die hartseer-hoofberig. Skatkamers van die Afrikaanse letterkunde het net nog ‘n slagoffer geword van die skromelike onbevoegdheid van die nikswerd ANC se treurige kaders.
Die Vrystaatse regering – berug om sy miljarde wat hy op onbekookte dagdromer-projekte mors – het nie geld om die kragrekening te betaal van die karaktervolle ou provinsiale gebou daar aan die bopunt van Maitlandstraat wat NALN huisves nie. Toegang tot die hart van skeppende Afrikaans is van die baan. Ook die toekoms van die Volksbladkamer met al die koerant se waardevolle meubels en onvervangbare memorabilia hang klaarblyklik in die lug. Hopelik net tydelik.
Wat ‘n ellendige besigheid. Om my nog mistroostiger te laat voel, is ‘n beklemming in my gemoed oor wat by INEG by die Vrystaatse Universiteit aan die gang is – nie net oor ‘n eie private versameling uit my koerantdae wat daar ‘n tuiste vind nie nie, maar oor die ramp vir die totale geheue van ons eietydse geskiedenis wat dreig as dinge skeefloop.
Hoop maar instansies soos die Erfenis-stigting en die Akademia-universiteit hou verwikkelinge fyn dop en maak al planne om te red wat te redde is, as dit nodig sou raak.
Nov 5, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Volksbladkamer by NALN was lank ‘n droom. Nou word dit ‘n werklikheid.
Met die trek uit die ou Volksbladgebou in Nelson Mandelarylaan (voorheen Voortrekkerstraat) in Bloemfontein na ‘n kleiner perseel in Westdene is vir ou en waardevolle stukke van historiese belang vier waardige nuwe tuistes beding.
Een is NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar die stylvolle redakteurskantoor ‘n tuiste vind. Dit sluit in ‘n statige lessenaar van Birmaanse kiaat wat uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948) dateer. In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe.
Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad. Die meubels – stoele, bank, tafels en boekrakke – sluit ook sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout in. Die meeste hiervan is onder Jan met sy hartstog vir hout se toesig of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die gebou in 1986.
Wat ook na NALN gaan, is die oorpronklike Volksbladgebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig. Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.
Met die opgradering het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry. Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Jan het gespook om ook die historiese deur te red, en ek het my gewig solied agter hom ingewerp; helaas ‘n verlore stryd.
Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting. Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes “weggesmyt”. Hoe verheug sou hy nie oor die nuwe lewe gewees het nie.
Ander Volksblad-eiendom van historiese belang sal deur die Nasionale Museum, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en INEG (Instituut vir Eietydse geskiedenis), nou bekend as ARCA, bewaar word. Dit is ook die tuiste van een eie private versameling (die ander is by die Erfenisstigting).
Ons veterane van vorige eras het maar asem opgehou oor wat van ons geliefde koerant – die oudste in Afrikaans – se sentrale plek in die geskiedenis van die Afrikaane perswese van die land gaan word noudat dit nie meer op papier verskyn nie. Ons almal slaak ‘n dankbare sug van verligting oor die nuus wat redakteur Gert Coetzee vanoggend bekend gemaak het.
In eie hoedanigheid – maar ook as oudste oorlewende redakteur (chronologies) – wil ek graag ‘n buiging maak na Gert en sy span vir toegewyde en vrugbare arbeid om vir Volksblad, naas die voortreflike digitale spruit wat hulle so bekwaam in stand hou, ‘n alternatiewe fisieke voortbestaan te gee met die bewaring van waardevolle historiese stukke by vier waardige tuistes.
Die besluite lyk sinryk en ek sien uit om by afhandeling ‘n besoek aan Bloemfontein te bring om in die goue herinneringe te kom deel.
- Op die saamgestelde foto is die redakteurskantoor soos hy besig is om in NALN se gebou tereg te kom, soos hy in my tyd was en dolleeg na die trek.
- Die volledige berig op Netwerk24 is te lese by https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/volksblad-en-sy-geskiedenis-kry-nuwe-tuiste-20211104