Oct 13, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Viering vandeesweek by die Woordfees wat ek ongraag misloop, is die uitgewery Naledi se 20ste verjaardag. Met Naledi is my bande van so ‘n aard dat ek werklik wens my omstandighede was anders. Naledi is naamlik die uitgewer van vyf van my laaste sewe boeke in die afgelope agt jaar: naas die jongste, Wag-‘n-bietjie , ook Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman in 2017, Na verre hawens in 2019, Koerantkamerade in 2021 en Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord in 2023 (foto).

Aan hoofman Johan Coetzee en al sy kollegas met wie ek in die publikasie van die vyf boeke kon saamwerk, my dank vir ’n verrykende ervaring. Veral aan Eugenie Wiggins (boekredakteur) en Karen Cronje (ontwerper) ’n spesiale buiging vir hul bydrae tot produkte wat danksy hul kundige insette in die proses steeds beter en beter as die oorspronklike geword het.
Ek klink graag – en met die grootstste respekte vir die plek en aansien wat hy in 20 jaar in die SA boekebedryf verwerf het – op Naledi en sy mense ’n feesglasie. Ek doen dit met ‘n Beeld-glasie nie om dowe neute nie, maar ter ere van Naledi en Barnard Beukman se welslae met die Beeldboek: Die (vreemde) einde van ‘n koerant.
Oct 8, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dis seker so plus-minus die ergste ding wat op ‘n bruilof kan gebeur.
Ek praat nie van daardie bruilof in Kanaän waarvan ons in die Bybel lees nie, maar van ‘n bruilof op Queenstown van heelwat meer resente oorsprong. Ek lees daarvan in die rubriek 50 Jaar gelede in vanoggend se Burger.
Die bruidegom (darem al 52 en twee keer voorheen getroud) staan op om sy toespraak te lewer. Skielik val hy vooroor. Morsdood. Hartaanval.
Ek stel my voor sy maters was oorgehaal om te begin sing: Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan. Dalk het die eerste note al opgeklink. Die woorde moes in hul kele vasgesteek het.
In Wag-‘n-bietjie (Naledi 2025) is ook ‘n storie oor ‘n bruidegom wat swaar getref is. Ek het dit oorspronklik by studentemaat Pierre le Roux gehoor en moet bely dat ek dit al vooirheen vertel het. Maar ‘n goeie storie het mos ‘n lang lewe.
Kom saam met my na die swierige tweede huwelik van oom Wessie, ’n ryk Swartlandse boer, met ’n jong weduwee. Die twee se hartewens was baie gaste, ’n blommefees in die kerk en ’n feestelike onthaal om oor huis toe te skryf.
In die kerk val veral die enorme blommerangskikking voor die kansel die bruilofsgaste op. Dit skep ’n indruk-wekkende fokuspunt. Aan die einde van die seremonie moet die bruidspaar op twee satynkussinkies kniel. Die bruidjie in haar nousluitende wit tabberd sak elegant op haar knieë. Die gryse bruidegom in sy swaelstert en streepbroek is volgende aan die beurt.
Hy verloor sy balans, struikel-struikel en val vooroor asof ’n kwaai bul hom van agter af gestamp het. In sy vooroor-neerstorting tref hy die rangskikking met minstens ’n dosyn brandende kersies wat tussen die vrag blomme en droë takkies flikker.
’n Enorme vaas met lelies, plus-minus in die middel van die struktuur, tuimel eerste. ’n Domino-effek ontstaan. Stuk vir stuk stort die hele blomme-en-kerse-tafereel met opeenvolgende knalle flenters op die vloer. Die momentum is onstuitbaar.
In die vol kerk heers ’n geskokte stilte. Toe klink die bruidegom se luide stem op: “Moes die d***e knie nou gaan staan en ‘lock’ het!?”
* Wag-‘n-bietjie is reeeds wyd in boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:
naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.Dis seker so plus-minus die ergste ding wat op ‘n bruilof kan gebeur.
Ek praat nie van daardie bruilof in Kanaän waarvan ons in die Bybel lees nie, maar van ‘n bruilof op Queenstown van heelwat meer resente oorsprong. Ek lees daarvan in die rubriek 50 Jaar gelede in vanoggend se Burger.
Die bruidegom (darem al 52 en twee keer voorheen getroud) staan op om sy toespraak te lewer. Skielik val hy vooroor. Morsdood. Hartaanval.
Ek stel my voor sy maters was oorgehaal om te begin sing: Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan. Dalk het die eerste note al opgeklink. Die woorde moes in hul kele vasgesteek het.
In Wag-‘n-bietjie (Naledi 2025) is ook ‘n storie oor ‘n bruidegom wat swaar getref is. Ek het dit oorspronklik by studentemaat Pierre le Roux gehoor en moet bely dat ek dit al vooirheen vertel het. Maar ‘n goeie storie het mos ‘n lang lewe.
Kom saam met my na die swierige tweede huwelik van oom Wessie, ’n ryk Swartlandse boer, met ’n jong weduwee. Die twee se hartewens was baie gaste, ’n blommefees in die kerk en ’n feestelike onthaal om oor huis toe te skryf.
In die kerk val veral die enorme blommerangskikking voor die kansel die bruilofsgaste op. Dit skep ’n indruk-wekkende fokuspunt. Aan die einde van die seremonie moet die bruidspaar op twee satynkussinkies kniel. Die bruidjie in haar nousluitende wit tabberd sak elegant op haar knieë. Die gryse bruidegom in sy swaelstert en streepbroek is volgende aan die beurt.
Hy verloor sy balans, struikel-struikel en val vooroor asof ’n kwaai bul hom van agter af gestamp het. In sy vooroor-neerstorting tref hy die rangskikking met minstens ’n dosyn brandende kersies wat tussen die vrag blomme en droë takkies flikker.
’n Enorme vaas met lelies, plus-minus in die middel van die struktuur, tuimel eerste. ’n Domino-effek ontstaan. Stuk vir stuk stort die hele blomme-en-kerse-tafereel met opeenvolgende knalle flenters op die vloer. Die momentum is onstuitbaar.
In die vol kerk heers ’n geskokte stilte. Toe klink die bruidegom se luide stem op: “Moes die d***e knie nou gaan staan en ‘lock’ het!?”
* Wag-‘n-bietjie is reeeds wyd in boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:
naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.
Aug 31, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Aangename kennis, boom.
Aangename kennis, boek.
So ontmoet wag-‘n-bietjie (die boom) toe Wag-‘n-bietjie (die boek) op hierdie dag, 30 Augustus 2025, in Sabiepark na ‘n vlugtige besoekie van die verheugde outeur vanoggend aan Hazyview om by Postnet ‘n pakkie van Naledi af op te tel.
‘n Nuwe boek bring altyd ‘n groot skep vreugde. Spesiale vreugdes vandag vir my: die ene is my allerlaaste (werklik); dis my dikste (‘n knewel soos die vette likkewaan op my dak) ; dis dalk – tipografies gesproke – my mooiste. Dankie, Naledi. Dankie, Hiemstratrust vir die ruim subsidie om publikasie moontlik te maak.
Oor die inhoud moet ander maar oordeel.
Maar wag nou ‘n bietjie. Ons gesels later weer. Ek gaan nou eers in Wag-‘n-bietjie rondblaai.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by
naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.
Jul 25, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Dit is nie ‘n kleed wat ek afgooi nie … dit is lewende vlees wat ek van my afskeur. Dit was die onvergeetlike woorde van Schalk Pienaar waarmee hy sy ontnugtering, pyn, verslaenheid en wrewel verwoord het met die “samesmyting”(ook sy woord) van die Sondagkoerant Die Beeld en Dagbreek in 1970.
Barnard Beukman, laaste redakteur van die dagblad Beeld, sal seker van soortgelyke emosies kan getuig oor die “wegraping”(Lizette Rabe se woord) van sy koerant in sy 50ste jubileumjaar weens bestuursinsigte waaroor ek my nie nou weer wil uitlaat nie om my bloeddruk onder beheer te hou.
Presies hoe hy gevoel het, sal ons kan lees in sy boek “Die (vreemde) einde van ‘n koerant” wat eersdaags by Naledi verskyn. Ek brand om die boek te lees om die storie agter die storie van hierdie onheuglike geskiedenis eerstehands te verneem.

Ook uit hierdie koerantman se pen verskyn eersdaags by Naledi ‘n nuwe boek. Die titel is “Wag-‘n-bietjie”. Grepe uit my koeranteloopbaan – van politiek tot moorde – word daarin vertel, ook stories oor mense, die bos, Melkbos en die kerk.
Natuurlik skryf ek ook oor die verdwyning van Beeld. As eerste nuusredakteur het ek reeds in April 1974 my Beeldmantel omgehang. Ek is dus loshande die oudste lewende redaksielid van daardie geliefde koerant. Die ou veteraan rou intens.
Twee oud-koerantmanne uit die Nasionale Pers-stal publiseer binne ‘n maand boeke by die onafhanklike Naledi. Ek kan dink dat sommige mense dit nogal interessant sal vind.
Ek wonder of Barnard dit nog sal onthou dat hy in 1999 vir Rapport ‘n resensie geskryf het oor my destydse boek “Kroniek van ‘n koerantman” – die storie van my redakteursera by Die Volksblad in die onstuimige 80’s. Sy bevinding was dat ek nie doekies omdraai nie. Ek glo ‘n mens sal dieselfde van sy boek kan sê.
NASKRIF: Albei die boeke sal teen Augustus/September in boekwinkels beskikbaar wees of kan bestel word by Naledi se uiters doeltreffende aanlynboekwinkel by
naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616).
Jul 9, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Uit twee oorde wat bande het met die Clack-gesinsmoord op 8 Januarie 1966 in Johannebsurg het ek in die laaste ruk gehoor: van ‘n nasaat van die moordenares, die ma, Freda Clack (42), en ‘n nasaat van die buurvrou en vertroueling wat by was toe die vyf lyke van die jong kinders ontdek het. By albei spook die rillerverhaal van hierdie moode -een van die grusaamste gesinsmoorde wat nog in die land gepleeg is – lewenslank. Veral die nasaat van die moordernares gaan uit haar pad om brokkies te versamel om haar eie legkaart daaroor te bou,
Drie van die kinders is destyds met ‘n mes in die hart gesteek terwyl die twee ander vermoedelik gesterf het na inspuitings. Die moeder, ‘n verpleegster, is daarna met ‘n taxi vort. Polisiemotors oral aan die Rand het na haar gesoek totdat haar lyk in Hillbrow gekry uis. Sy het van ‘n gebou gespring. Die hele land was diep geskok, veral namate haar man, Jimmy, se durende ontrou aan die lig gekom het.
In my nuwe boek, Wag-‘n- bietjie – stories wat gryp wat binnekort ny Naledi verskyn, is ‘n hoofstuk, Gesinsgruwel, wat lig werp soos daar waarskynlik nog in geen ander boek gewerp is nie oor wat alles tot Freda Clack se wanhoop byegedra het en tot haar donker daad gelei het.
Natuurlik is ek ietwat gefrustreerd dat hierdie bronne na vore gekom het nadat die boek ter perse is. Te laat dus om iets van hul betrokkenheid en belangstelling in te werk. Dit kon die storie nog beter gemaak het.
Wag-’n-bietjie, ʼn boek met ‘n groot verskeidenheid stories uit my loopbaan, sal teen Augustus/September in boekwinkels beskikbaar wees of kan bestel word by Naledi se uiters doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierkoste om dit by jou voordeur te laat aflewer!