‘’DS MURPHY” ONTWRIG OUJAARSDIENS
Alles wat verkeerd kan loop, SAL verkeerd loop. Dié gesegde is so van 1952 se kant as Murphy se Wet bekend. In ’n Kaapse NG-gemeente het ‘n “ds. Murphy” by ’n Nagmaaldiens op ’n Oujaarsdagaand nogal beduidende dilemmas veroorsaak,
By daardie gewyde geleentheid het die moedswillige kwelgees Murphy uit die staanspoor begin knor. Die koster was met verlof en die leraar moes instaan. Dié vergeet die kerk se sleutels by die huis, en die pastoriemoeder kom lewer dit met skreeuende bande af.
Krisis nommer twee: ook die orrelis is weens onvoorsiene omstandighede afwesig.. Die begeleiding word dus ook die herder cum koster se taak. Maar dié arme man was baie senuagtig of totaal onvoorbereid … of albei, rapporteer ’n kerkganger. Hy sing toe ’n solo, want die musiek en woorde het nie op die skerm verskyn nie.
Krisis nommer drie raak die veeleisendste. Die Nagmaaltafel word in gereedheid gebring. Die net word verwyder en sorgvuldig opgevou. Maar, o jittetjie, waar is die brood dan? “Kan ons maar so sonder brood voortgaan?” pleit die moedelose leraar amper. “Nee,” skud nege Nagmaalgangers heftig die kop; nie sonder brood nie.
“Cometh the hour cometh the man.” ’n Ouderling vloog dadelik weg na die Engen-vulstasie om die nodige te gaan koop, terwyl die gemeente sing en die Here prys.
Maar, glo dit of nie, by die vulstasie word die vrywillige onvrywillig die getuie van ’n diefstal. Dit verg tyd en oorredingsvermoë soos min om hom weens die nood in sy gemeente voor die polisie se koms van die misdaadtoneel los te skeur.
Swetend daag hy ten einde laaste by die kerk op met ’n plastieksak in die hand. Die brood kan nou gebreek word en die geleentheid volgens die formulier voortgaan. Maar wat kom uit die konsistorie te voorskyn? Nie gewone brokkies Nagmaalbrood nie; net een bord met hompe “Chelsea buns”.
Die gemeente moes noodgedwonge dié taai brood moedig inwurg terwyl hulle in wroegende stilte verlang na ’n ekstra slukkie wyn.
Agterna skryf ’n besoeker in ’n kerkblad ’n mens bly ’n mens, onvolmaak en feilbaar, maar net te veel het darem by daardie diens skeefgeloop. Wat hom betref, staan die afkorting “vdm” vir “voor Donderdagmiddag”, en hy is glad nie oortuig dat die liturg hom in sy voorbereiding daaraan gesteur het nie.
Ai, antwoord dié toe, hy bely hy is skuldig – hy kon beslis beter voorberei het. Die fiasko het egter daartoe gelei dat die nuwe jaar vir hom baie nederig begin het … en as nederigheid, soos Andrew Murray dit stel, die sieraad van heiligheid is, dan was dit een nuwe jaar wat beloof het om ’n baie heilige jaar vir hom te wees!
Mag dit vanaand met dienste oral vlotter verloop
Voorspoedige nuwe jaar!.