BLIK VOL KLIPPE

Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was ‘n Fred-CD in die pos. Toe Tokkie vyf jaar later volg, ditto.

Wat 1941 – my geboortejaar – betref, is oorlog en musiek stalmaats. In die Tweede Wereldoorlog het te midde van al die troostelose ellende musiek gekom wat onvergeetlik geword het.

Op Fred se “CD vir HvD” is Duitse bydraes soos Lilli Marleen (waarskynlik die grootste treffer van die Tweede Wereldoorlog), Mowe, du fliegst in die Heimat en die marslied Erika. Hartsmusiek!

Aan die Geallieerde kant was die Amerikaanse Colonel Bogey van die gewildste marsmusiek (saam met die ewe bekende The Stars and Stripes forever). Op Fred se CD is die Boston Pops se weergawes, albei met die groot Arthur Fiedler as dirigent. Vera Lynn was die “Force’s Favourite”. Van haar is twee nommers op my CD: The White Cliffs of Dover en A Nightingale Sang in Berkeley Square.

Tokkie se CD lê in Sabiepark. Hoekom, weet ek nie.   Vir ‘n paragrafie oor musiek van 1946 moes ek op Google staatmaak.

Volgens daardie bron is van die nostalgiese pop-herinneringhe van daardie jaar  Nancy (With the Laughing Face) deur  Louis Armstrong, Perry Como se They Say It’s Wonderful, Bing Crosby se  Aren’t You Glad You’re You,  die Ink Spots se  To Each His Own en  Dinah Shore se Laughing on the Outside. Kennende Fred, sou nie net popliedjies op Tokkie  se CD ingesluit gewees het nie, maar nietemin.

Dit bring my by die eintlike rede vir my skrywe: ‘n musiekgebeurtenis in 1946 waarcvan seker nie eens die gedugte Fred sou weet nie. Op 15 Maart 1946 nogal – presies Tokkie se geboortedag –  is naamlik  ‘n kantate van Arnold van Wyk uitgesaai.

Johan van Wyk vertel daarvan in sy nuwe boek, So is dit nou – nog stories van gister en vandag: hoe in die komponis se geboortekontrei, die Roggeveld,  die mense in groot afwagting gesit het om hul kortgolfradio’s, gekoppel aan 6 volt-batterye wat heeldag deur windlaaiers gelaai is.

In een huis was dit nie lank nie voor die oupa opdrag gee: “Draai af die draadloos. Arnold se lawaai is erger as Booi se geraas.” Booi, die stalkneg, het – so lig Johan van Wyk ons in –  die gewoonte gehad om ‘n  paraffienblik vol klippe te skud om die perde skrik te maak!

Sal nooit weer aan 15 Maart 1946 dink sonder om die mooi anekdote ook te onthou nie.

* Ek en Tokkie het ook ander herinneringe van ons geboortejare as net die musiek. In 1941 is die Perdeberg-wynkelder gestig. Ter ere daarvan was Perdeberg op die tafel met die viering van ons onderskeie bakenverjaardae – 75 en 70 –  op 26 Maart vanjaar.  Ek was daardie dag geklee in ‘n Jeep-hemp –  nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie.  Kyk op die etiket. Einste anno 1941.  Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.

Tokkie is, soos eld, anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het.  Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou  – ‘n rooie dalk  – nie  uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.

KLOKKIES IN DIE NAG

Middag uit Melkbos

Klokkies lui aaneen in onder andere André Rieu-hulle se orkes-weergawe van daardie aangrypende Russiese volksliedjie “Odnozvuchno gremit kolokolchik” (“Eentonig lui die klokkie”).

Eintlik is dit ‘n lied vir ‘n mannekoor – die Russiese weermagkoor lewer daarmee ‘n kragvertoning – maar Ivan Rebroff gee ‘n mens self ook hoendervel as hy “Klokkie” (terloops, vir Afrikaans gegaps onder die titel Liefste Madelein) met sy diep stem aanhef.

Oor “Eentonig lui die klokkie” sou iemand ‘n blog uit eie reg kon skryf – dis ongetwyfeld die mooiste Russiese volksliedjie (vir my), en daar is baie mense wat glo dis die mooiste melodie van enige volkslied in enige taal. Die lirieke handel oor die wiele van ‘n perdekoets wat oor die eindelose Siberiese steppe voortrol; die koetsier het eers ‘n liedjie gesing, maar het stil geword en nou is dit net die klokkie wat lui, lui, lui.

“Oh, how lonely the coach bell is ringing
As it swings in the night to and fro.
And my coachman has now fallen silent,
And I still have a long way to go …”

My tema is egter nie die liedjie, dis ‘n nag in die hospitaal, gekoppel aan ‘n slaapapnee-masjien, wat in ‘n stadium na my voorland gelyk het. Dis maar ‘n vreemde manier van slaap vir ‘n oningewyde, só met ‘n “snorkel” op jou neus. Ek was heelwat wakker. In my wakker tye het ek die klokkies hoor lui, lui, lui.

Soos ‘n perdekoets s’n op die uitgestrekte Russiese grasvlaktes.

Die titel van “Eentonig lui die klokkie” (“Monotonously rings the little bell “ op Engels) het by my opgekom terwyl ek Woensdagnag lê en wonder watter individuele nood agter elke lui skuil – dalk erge pyn, eensaamheid, verveeldheid? ‘n Mens kan jou verbeelding vrye teuels gee.

Soos op ‘n voortrollende perdekoets in die nagstilte.

Ek het aan ‘n ander hospitaalnag lê en dink: langs my pa (Tony Malan) se sterfbed in die kankersaal van die destydse H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria. Waar ek by hom waak, het ek sy hortende asemhaling gehoor. Ook die asemhaling van die ander pasiënte, almal doodsiek.

Vroeër het ek ook “U Eie Keuse” gehoor oor die radio langs die bed van die man in die verste hoek van Pa Malan af. Die aanbieder was toe nog Robert Young. Die musiek was gekies asof die aanbieder geweet het van die eensame stryd van ‘n 12-tal kankerlyers in die geslotenheid van ‘n hospitaalsaal op die hoeveelste verdieping van ‘n onpersoonlike hospitaal. Dit was een hemelse lied op die ander.

Later het Robert Young (die koetsier?) se stem stil geword. Die radio is met ‘n klik afgeskakel. Buiten die onrustige asemhaling was die enigste geluide dié van die verpleegsters se voetstappe en natuurlik die klokkies wat lui, lui, lui.

Pa se klokkie het nooit gelui nie. Hy was nie meer in staat om die knoppie te druk nie. Of hy graag sou wou, weet ek nie. Of hy die ander klokkies, enige geluide, nog dofweg kon hoor, weet ek ook nie. Maar hier in die Milnerton Medi-Clinic onthou ek elke klokkie se dringende lui van daardie nag skielik weer met ‘n koue rilling langs my ruggraat af. Die klokkie … dan voetstappe … dan ‘n fluistergesprekkie by ‘n bed.

Het daardie gesprekkies troos gebring? Het dit hoop gebring? Het Woensdagnag s’n troos of hoop gebring in al die kamers rondom my waar ek in bed nommer een lê en wens ek het die wekker met sy verligte wysers saamgebring om te kan sien hoe eindeloos ver die nag nog strek?

‘n Mens sal nie regtig weet voordat die vinger wat daardie klokkie se knoppie druk jou eie is nie né! Maar wag nou, wag nou. Voordat ek oor oor sulke somber dinge begin tob, luister ek liewer weer na “Odnozvuchno gremit kolokolchik”. Sy “eentonige klokkies” voer jou ten minste mee, wek nie kwelvrae nie.

Die eerste klokhelder note klink op, en ek maak my klaar om my met vreugdevolle oorgawe aan dié verruklike musiek uit die verre Rusland te verlustig. Tot wederom. (HvD)

MINUET TOT MACARENA

More uit Melkbos

Van Brahms tot Los del Rio en van die minuet tot die macarena. Dit is die ver pad wat skoolkonserte in my ondermaanse bestaan van 69 jaar en amper 11 maande gestap het.

In ‘n bloedig warm skoolsaal by Welgemoed Primêr in Bellville het Oupa dit gaan uitsweet by die 6-jarige tweeling se verhoogdebuut. Hul graad R-klassie het ‘n Flintstone-storie opgevoer met dinosourusse en dinge. Oulik.

‘n Ander klassie het laat waai op die maat van lewendige diskomusiek, met allerlei wikkelboud-danse soos die Spaanse macarena wat die musiekwêreld in die midel 90’s soos ‘n storm getref het.

‘n Derde se bydrae was ‘n onderwater-uitbeelding met haaie, seesterre, jellievisse en wat nog. Ook meerminne – pragtige klein meisiekindertjies wat op die maat van Roy Orbison se 1964-treffer Pretty Woman hul lyfies koketterig rondgeswaai het terwyl die diskoligte swiep.

Hierdie gryse se gedagtes is ver-ver teruggevoer – sy eerste skoolkonsert, Laerskool Diamantveld in Kimberley in 1947. Die uwe was in sub A. Ons klassie het ook danspassies moes leer vir die groot aand, maar – hoe het die wêreld nie verander nie! – dit was die grasieuse, romantiese minuet wat ons elke pouse vir weke der weke moes inoefen.

Op die pragtige Brahms-wals opus 39 nommer 15 (het julle al Wessel van Wyk dit hoor speel?) het ons ge-een-twee-buig, -een-twee-buig op 3/4 maat. Statig. Stadig. Stylvol. Ons kostuums was swierig en deftig soos in ‘n Franse balsaal van die 17de eeu.

Daar is dalk al ‘n saadjie geplant wat later uitgeblom het tot ‘n smaak en liefde vir klassieke komponiste soos die beroemde drie B’s (Beethoven, Bach en Brahms) en ander swaargewigte.

Maar vandag se kleingoed word gevoer op ‘n musiekdieet van Latyns-Amerikaanse ritmes. Ai, ai, ai. (HvD)