Mar 18, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Cappucinno with the Cornells.
Die Oppiwaterkunstefees verskuif tot 25 -30 Januarie 2021 op die MSC Musica. Vir die VanD’s is dit ‘n skip met vele herinneringe. Ons is op hom langs Oos-Afrika op terug na Europa in 2019, al langs die Somaliese kus met sy seerowergevaar. En deur die Suezkanaal. Wat ‘n ervaring!
Waar die Adriatiese kus van Montenegro en Kroasië ons voete op die vaart met sy natuurskoon onder ons uitgeslaan het, het die weldaad van twee wildvreemde Britte dit met hul ruimhartigheid gedoen. Ons het langs die swembad, een van drie, oor ‘n koppie tee met die twee, Garry en Christine Cornell van Hayling Island, Hampshire, aan die gesels geraak. Ek bekla toe my lot oor ‘n selfoon wat, ondanks voorsorg en die beloftes van die diensverskaffer, geen sein wou optel nie.
Ek bemerk Garry loer vir Christine en Christine loer vir Garry. Die volgende oomblik verras die twee my met hul gulle aanbod. ‘n Internetdiens is deel van hul toerpakket maar hulle gebruik dit nie. Ek kan dit met plesier kry as ek wil. Vinnig-vinnig is die MSCMusicahotspot gevind en verbind. Van daardie oomblik is my alias Garry Cornell. Skakel ek die rekenaar aan, groet Google my met ‘n “Hello, Hennie”. Gaan ek na die Musica-toep is dit: “Hello, Garry”.
Later stel ons vas dit is die dag, Donderdag 2 Mei, Christine se verjaardag. Aan wyn sit die twee Cornells nie hul monde nie, maar ons het die verjaardag darem met sterk Italiaanse cappucinno gevier. Cappucinno met die Cornells het ‘n instelling geword. Gewoonlik is dit die een wat verjaar wat die geskenk kry. Die ander kry koffie en koek. Hier het dit net mooi andersom gewerk – tot ewigdurende voordeel vir die ontvanger se lewenslange sug na kommunikasie met die buitewệreld. Hoop Christine sal die Bybelse woord oorvloedig beleef dat dit beter is om te gee as om te ontvang!
Vir haar volgende verjaardag het ek vir Christine ’n eksemplaar van my reisboek “Na verre hawens” Hampshire toe gepos met ‘n vertaling van die relevante paragrawe. Soos dinge sooms onverklarbaar uitwerk, kry ek net gister van Garry uit die bloute ‘n Facebook-boodskap: die boek is daar. Met die komplimente van die SA Poskantoor en UK Mail. Enkele ure later kom die nuus dat die Oppiwaterfees nou Musica toe verskuif. Is dit nou nie toeval nie!
Nov 25, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kaptein Pinto
“Hennie van Deventer volg die spoor van die Melody deur gevaarlike waters langs die Oos-Afrikaanse kus.” So word vanoggend op Media24 se boekeblaaie berig in ‘n kort bekendstelling van my boek “Na verre hawens”. Ek wonder hoeveel mense onthou die seerower-aanval op die Melody in 2009.
Die huidige gesagvoerder van die Musica, kaptein Ciro Pinto, was destyds in beheer van die Melody. Hy het laataand – toevallig juis oor die onwaarskynlikheid van seerowery in die geweste – met Suid- Afrikaners by ’n kroeg sit en ginnegaap toe twee verskrikte passasiers aangehardloop kom met die skoknuus: “Ons word deur seerowers aangeval!”
Die ongeloof was groot. Die verrassingsaanval was ’n verbluffende 1 000 seemyl (sowat 1 850 kilometers) van die Somalilandse kus af. Die twee het voet by stuk gehou. Hulle het hortend vertel van ’n snelboot by die boeg, en van dapper passasiers se stryd om die vasberade aanvallers af te weer.
Kaptein Pinto het toe alarm gemaak. Hyself het na die brug gehardloop waar hy die kluis oopgesluit en pistole aan die Israelse veiligheidsmanne aan boord oorhandig het. Die seerowers het blindelings met hul handgranate en AK 47’s op die skip losgebrand. Die Israelse veiligheidsmanne het teruggeskiet.
Dit het soos “oorlog gevoel”, vertel kaptein Pinto. ’n “Honderd koeëls” het om die koppe van die veiligheidsmanne gefluit. ’n Veiligheidsman het ’n ligte kopwond opgedoen en ’n passasier is in die been getref. ’n Reddingsboot asook talle patryspoorte is stukkend geskiet. Die kort, hewige skermutseling is deur die veiligheidsmanne en passasiers gewen. Die aanvallers is verdryf en later aangekeer.
Een van die passasiers op die MSC Melody tydens die aanval was mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai. Haar vertelling laat jou hare rys. Die tumult het losgebars terwyl die meeste passasiers op ’n binnedek na operasangers sit en luister het, vertel sy. Eensklaps het geweerskote met die applous gemeng. Die gehoor het net vuurvonke gesien soos die aanvallers met handgranate en AK 47’s op die skip lostrek.
Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gang is. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down, down.”
Passasiers moes dringend na hul kajuite terugkeer en is beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en hul oranje reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ’n bottel water en jamaikagemmer vir naarheid as vlug in die reddingsbote hul voorland sou wees.
Die nag het verder rustig verloop. Die oggend loer Koos versigtig by die deur uit. “Meneer kan maar gaan ontbyt eet,” stel een van die kajuitpersoneel hom toe gerus. Die volgende middag het ’n Spaanse oorlogskip en ’n helikopter hulle verder tot by die Suez kom begelei. Daarna is saam met ’n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend”. Sy sal nietemin graag weer daarheen gaan. Dit verstaan ek maar te goed. Dis ‘n opwindende vaart.
Dat die bedreiging aan die bemannning van die Musica vat en vir hulle spanning inhou, kon ’n mens egter agterkom, veral aan die senior offisiere. My eie direkte ervaring was as lid van die sogenaamde “MSC Voyagers Club” (passasiers wat voorheen al op ’n MSC-skip gevaar het). Ons is deur kaptein Ponti genooi vir ’n formele welkom-terug-skemerkelkpartytjie op Donderdag 9 Mei in die deftige Crystal Lounge.
Ons gasheer daag toe nie op nie, omdat ons in ’n “sensitiewe area” is en “belangrike sake” op die brug sy aandag vereis. So is ons meegedeel. Die waarheid is natuurlik dat hy op waak was oor moontlike verdagte bewegings in die gevaarlike waters.
Oct 26, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Cappuccino with the Cornells on the MSC Musica.
On a recent cruise on the MSC Musica northwards to its home in Italy we were swept off our feet by the beauty of the Adriatic coast. We were similarly bowled over by the kindness of two British strangers. Over a cup of tea next to the swimming pool, one of three on Deck 13 of the Musica, we struck up a conversation with Garry and Christine Cornell from Hayling Island, Hampshire.
‘Despite my precautions and the promises of my service provider,’ I grumbled , ‘my cell phone picked up no signal.’
Garry looked at Christine, and Christine looked at Garry, I noted. The next moment I was surprised by a generous offer. Their tour package included internet service which they did not use, and I was free to avail myself of it. Promptly the MSCMusicahotspot was found and connectivity activated. From that moment on my alias was Garry Cornell. Switching on my computer, Google greeted me with a ‘Hello, Hennie’. Turning to the Musica App, I heard, ‘Hello, Garry’.
Hopefully no fraud or similar impropriety was committed. Garry had, after all, paid for the service fully. Magnanimously, I merely supplied the device, of course!
Later on we became aware of the fact that Thursday 2 May was Christine’s birthday. As the Cornells did not imbibe, we celebrated with strong Italian cappucinnos . For Christmas (and/or) er next birthday I sent Christine a copy of my new book, “Na verre hawens” ( To faraway harbours) with a translation of the relevant paragraphs.
‘Watch your mail box, Christine.’
Cappuccino with the Cornells became a ritual. Where to meet up was no problem at all. Near the ‘floating’ concert piano made of glass in the luxurious foyer of the Musica was just the spot. Glass replaced wood in this pièce de résistance – even the piano stool was of nothing but glass. One could watch the vibrating strings and the movement of the hammers through the glass lid as the pianist Sifiso from Sandton tickled the keys.
This unique grand piano stood against the backdrop of a glass waterfall on a platform of glass. To me it was the most marvellous object on the lovely ship. Peculiar, though, no one seemed to know the story of the piano.
Usually it is the person whose birthday it is who gets the gift. With the Cornells, it was the other way round – to the benefit of the receiver who perpetually yearns for communication with the outside world. May Christine abundantly experience the Biblical truth that it is better to give than to receive.
In the process of getting acquainted, we learned that the brother of Garry’s American grandfather worked as a slave in the famous American circus Barnum’s where he boxed against every possible contender. The surname Cornell he purloined from the American university. On a visit to London he put some distance between himself and Barnum ’s and became a decorated hero in the British army.
Currently, his story is being filmed. Illustrious indeed was my alias.
- In my 15 years of blogging this is my first try at one in English. If it is not perfect, please forgive an 78 year old Afrikaans man the errors. The peculiar incident described here is also described in my new book on cruising over a period of 50 years. The title is “Na verre hawens”. It is published by Naledi. If not available at book shops yet, it should be soon The ISBN no. Is 978-1-928518-18-1. You can also buy directly from Naledi at naledi.online.
Oct 17, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met vonkelwyn uit twee MSC-glase (‘n geskenk aan lede van die Seniorsklub op die MSC Musica ) het ek en Tokkie gister die verskyning van “Na verre hawens” by Naledi gevier. Heerlik, soos altyd, om ‘n varsgedrukte boek in die hande te hou. In die boek is o.m. hoofstukke oor minstens ses MSC-vaarte, wat twee na Venesie insluit. Ander vaarte sluit in een op die QM2 na Australie. Asook talle ander op veerbote, plesierbote en watter bote nog.
Die verhaal van die glase begin toe ons op 26 April 2019 in Durban aan boord die Musica kom. ’n Verrassing het op my en Tokkie in kajuit 8102 gewag: dieselfde geskenk van MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ’n vaart na Walvisbaai – ’n ysemmer met ’n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: nou al $75 teen $70 destyds) en daarby die twee elegante glase met die MSC-logo daarop gebrandskilder. Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf.
Vele van die proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ’n spesiale “goue oomblik” gebêre.
Ons “goue oomblik” het daardie aand in die Baai van Kotor aangebreek. Kan Moët et Chandon die kieskeurigste verhemelte (en die gees) ooit heerliker verkwik as te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele denkbaar; om op die agterstewe van dek 13 suinig-suinig daaraan te sit en teug terwyl die afgesonderde huise van skilderagtige kusdorpies soos Perast in die verte verdwyn?
Tussen die teue sjampanje het ek bly foto’s neem; ook van twee eilandjies met monnikekloosters, binne vyf of tien minute per veerboot van Perast af. Vernaamlik die potensiaal van die kleinste – so groot soos ’n voorstedelike erf in ’n middeslag-buurt – kon ’n mens nogal idealiseer. Die geringe lappie aarde heet “Lady On the Rocks” en hou letterlik skaars kop bo water. Dit het, volgens oorlewering, ontstaan deurdat seemanne ná elke geslaagde tog een klip daar in die water gegooi het.
Wat ’n unieke, eksklusiewe Eden sou die afgesonderde eilandjie nie vir ’n wittebroodsvakansie wees nie of, sprekende uit die oogpunt van my eie generasie, wat ’n aftreeplekkie vir ’n alleenmens? Die rustigheid asook weergalose uitsigte oor Kotor se fjord moet hemels wees – soos die vonkelwyn uit die MSC-glas gisteraand met sononder op Melkbos op die verhemelte was!
- Die boek sal binnekort by boekwinkels te koop wees. Dit kan reeds aanlyn gekoop word by http://naledi.online . Die prys is R200. Die ISBN-nommer vir bestellings by boekwinkels is 978-1-928518-18-1.
Jun 12, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Musica in die baai van Kotor.
Vreemde woorde in vreemde tale – “magnifico” in Italiaans, “imposant” in Frans, “wunderschön” in Duits en allerlei verwante uitdrukkings van verwondering in ander tale – het skielik vir my betekenis gekry waar ek, op die dek van die MSC Musica die intog in die Baai van Kotor – Boka Kotorska – meegevoer indrink.
Ek was seker dat vreemdelinge wat Afrikaans nie ken nie, sou verstaan as ek die ontvouende natuurskouspel in my taal as “verruklik” of “aangrypend” sou beskryf. Of selfs sou verstaan wat ‘n Engelse dame bedoel het met haar luide uitroep van “supercalifragilisticexpialidocious”, ‘n speelse skepping uit die musiekfilm Mary Poppins waarin Julie Andrews in 1964 haar rolprentdebuut gemaak het – ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek vergeefs sal soek.
Vir baie van die 3 200 passasiers op die groot weeldeskip – tonnemaat 92, lengte 293 meter, hoogte 59 meter, bemanning 950 – op sy noordwaartse terugtog ná ‘n somerseisoen van vier maande in Suid-Afrika was die mirakel van Ferdinand de Lesseps se Suezkanaal (vorige blog) waarskynlik die verwagte hoogtepunt. Ander het gebrand om die ruïnes van die antieke Arabiese stad Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië te gaan verken. Dit word as een van die sewe moderne wonders van die wệreld gereken.
Nou is almal se asems skoon weggeslaan deur hierdie onverwagte Noorweegse “Bergen” in die suide van Europa waar fjords en die Middellandse See mekaar as ‘t ware ontmoet: vier baaie van inkblou Mediterreense see, omring deur ruwe swart rotswande wat soos ‘n reuseskoenlapper sy vlerke oopvou voor die steeds groter besoekende plesierbote wat toenemend derduisende besoekers op die ou Balkanstaat Montenegro kom verlief maak.
Teen O8:00 het die plaaslike piloot aan boord gekom. Van toe af kruie ons twee uur lank langsaam en versigtig deur ‘n reuse-S wat deur die vier skone komme, omring deur dramatiese swart pieke (monte negro), gevorm word. Eers daarna kon die MSC Musica anker gooi en die vrag passasiers met kragtige landingsvaartuie aan wal kom vir ‘n dag in een van die wệreld se mooiste ou historiese hawestadjies. Vir hierdie liefhebber van skeepvaarte bied die omgewing van die onvergeetlikste taferele wat hy in sy lewe van ‘n boot af aanskou het. Dit is groots. Glo my.
Toe ons in Durban aan boord kom op 26 April 2019 is ons verras met dieselfde geskenk van die redery MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ‘n vaart na Walvisbaai: ‘n ysemmer met ‘n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: $75) en twee elegante glase met die MSC-logo daarop het in die kajuit gewag. Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf. Vele proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ‘n spesiale goue oomblik gebệre.
Ons goue oomblik het daardie aand aangebreek. Kan Moët et Chandom die kieskeurigste palaat (en die gees) ooit heerliker verkwik te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele; om op dek 13 op die agterstewe van die Musica suinig-suinig daaraan te teug terwyl die huise van Perast en ander afgesonderde gemeenskappies in die verte al hoe kleiner word? .