VAN ‘N SIEK BOKKIE TOT OORLE MTN
Iets skort. Dit kon jy dadelik aan sy houding en optrede sien, maar veral in die oë van die bosbokrammetjie wat al om die huis, al om die huis lusteloos aan die groen blaartjies peusel. In daardie oë was ‘n smeking: help my asseblief! Hulle het stip op die twee mense op ons stoep vasgenael gebly.
Aan die bokkie was n vreémde rustigheid. Aan geselsklanke en selfs ‘n keer toe die water spat met die induik in die swembadjie het hy hom klaarblyklik nie gesteur nie. Dalk die ongewoonste was sy trae bewegings. Rukkies het hy gaan sit, sommer in die oopte op die plaveisel. Dan staan hy op en begin sy lyf oral krap terwyl die oë joune soek.
Tokkie het die verkyker op hom gerig. Bosluise, was haar bevinding. Sy lyf was vol swere. Tussen sy spoggerige horings was ‘n opgehewe seerplek soos ‘n man se vuis. Ek wou nie kyk nie. Hy moet net nie hier by die stoep doodgaan nie, was my vrees.
By die kantoor hoor ons die bokkie is al lank siek. Dis nie bosluise nie, maar ‘n aansteeklike siekte wat ook na ander diere, byvoorbeeld kameelperde, kan versprei. Daar is lank na hom gesoek. Hy het egter soos ‘n groot speld verdwyn. Daar is toe aanvaar dat hy dood is.
Bel ons as hy weer opduik. Ons sal hom ongelukkig moet “uithaal” was die versoek. Daaroor voel ek half aardig. Maar die siek bosbokkie was nog nie weer hier rond nie.
LAASTE OOMBLIKKE
Waarskynlik ‘n bokkie wat die slagoffer van ‘n luislang geword het, raai ek. Dat die slagoffer ‘n bokkie was, is in elk geval seker te oordeel aan die uitgerekte angsgeluide. Na die geluide het ek en Tokkie gisteraand in die skemer op die agterstoep lank sit en luister; die eerste keer in 25 jaar dat ons ‘n vangs so net met die gehoorsintuig waarneem.
Dalk was die aanvaller ‘n luiperd of ‘n hiëna. Verbeel my juis ek het so tussen die al hoe sagter wordende geblêr die ingenome kekkellaggie van ‘n skuinsrug opgetel. So lank het dit egter geduur om die laaste asem uit die slagoffer te wurg dat die luislang-opsie die waarskynlikste is.
Hoop maar dit was die siek bosbokkie waarvoor die dood – hoewel stadig en pynlik – tog wel ook ‘n verlossing sou gewees het.
EERWAARDE LIKKEWAAN ?
As ‘n bondeltjie dun “takkies”skielik in beweging kom, weet jy: stokinsek se kind daardie.
As ‘n stuk “braaihout” kop optel en begin vorentoe waggel, is dit …. ‘n likkewaan (nommer drie die vakansie). Dit gebeur by die ontbyttafel op die agterstoep.
Lyk of die ou die nag onder die braaier skuiling gevind het. Nou sorg hy vir ‘n kostelike brekfiskabaret soos hy dan hier, dan daar uitloer. Die sonnetjie lok hom uiteindelik onder die braaier uit. Hy gaan lê met sy kop op ’n halwe baksteen – lyk kompleet of hy ‘n kansel of kateter bestyg het.
Dalk wil hy vir ons ‘n tafelgebed doen, waag iemand. Vir die res van die ete was hy egter net ’n stille toeskouer by die dis.
ANDER DIEREPETALJES
Amper het slim sy baas gevang met ‘n alleenloper-bobbejaan. Omdat bobbejane wegbly, raak ek lui om die swembadseil op en af te rol. Die eerste dag toe ek dit waag om die bad oop te los, kom die bewys dat Murphy se wet ook in die bos geld. Die bobbejaan slaan toe.
Gelukkig het die ou die versoeking weerstaan om in te duik. Nat spore op die stoep en stukkende Charka-sakke het egter geen twyfel gelaat wie in ons afwesigheid hier opgeduik het nie. Nou rol ek maar weer … of ‘n boggom in die lug is of nie.
Op die motorpad moes ek twee hindernisse oorwin.
Een was ‘n skilpadjie wat van die huis tot in Wildevy manhaftig voor die Honda uitgestap het. Die tweede was ‘n amoreuse sebrahings. Hy het die motor een kyk gegee en voortgegaan met sy ontdekking van die merrie se aanloklikheid.
Die nagapies kom weer in groter getalle en klopm redelik gereeld die ou grote wat ook ‘n gereelde besoeker is om die eerste sarsie piesang.
OORLE MTN
Vir die selfoondiensverskaffer MTN vleg ek ‘n kransie van stinkblaar. Lyk of hy stil ontslaap het hier in Sabiepark. Ons is amper vier weke hier. Met enkele kortstondig onderbrekings was dit die hele tyd: “No service”.
Sondag toe ons uit die kerk in Skukuza kom, wag ‘n rits boodskappe wat weens ‘n skynbare stuiptrekking van rigor mortis afgelewer word.
Een is van Jacob: “Kan ek oupa gou bel?” Bo- aan word aangedui dat dit 41 minute gelede ontvang is.
Ek bel dadelik en begin met ‘n verskoning oor die 41 minute se wag. Hy reageer verbaas. Sy boodskap is nie 41 minute oud nie; wel ‘n week en 41 minute.
Laat ek nie sleg praat van die dooies nie. Ek vind dit tog wel vermeldenswaardig dat Tokkie se Vodacomfoon konstante diens liewer.
(Boodskap: As ek nie op iemand se boodskap gereageer het nie, was dit dus nie uit onbeskoftheid nie.)