Mar 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Elke mense het sy eie voorkeure. Daarom ‘n rits ekskuries by elke bestemming op ‘n toer.

Vir my beteken Walvisbaai die Namib. Vir die dag wanneer jou boot in die hawe is, soek ek duine, duine, duine. Van die kuspad tussen Walvisbaai en Swakopmund kan ek kwalik genoeg kry: met die stuk merkwaardige teerpad wat as’t ware die oseaan op sy plek hou en die woestyn op syne.

Lekker om te kameelsafari’s te sien en die profiele van vierwielfietsers bo die duine te sien uitsteek. Die klomp rykmansvakansiehuise by die modern Long Beach brei geweldig uit.

Ook op Swakop verrys paleise aan die strandfront, maar die bekoorlikste bly vir die besoeker die Duitse oudorp met sy Europese argitektuur soos ‘n skermgreep van ‘n verre verlede. Wat jy absoluut nie daar wil doen nie, is om 40 minute in ‘n verkeerde eetplek vir vriende te sit en wag weens verwarring by jou gids en gebrek aan selfoonverbinding weens verskeie redes.

Helaas, dit gebeur toe. Matteus, ons aangename gids met ‘n diep stem en ‘n mooi Afrikaanse uitspraak – hy is die ou saam met my op een foto – het taamlik oes gevoel. Maar toe verged hy darem hy deur Walvisbaai vir ons te wys soos ons die hawedorp nie voorheen in al sy fasette gesien het nie. Duin Sewe, die kilometerslange vleilande met swerms elegante flaminke en spierwit southope by die myne op pad Sandwich Harbour toe was ’n belewenis.
Ons was net betyds by die MSC Splendida waar ons om 14:30 aan boord moes wees. Ongelukkig was almal nie so voorbeeldig stiptelik nie.
Foto’s: Sommer so ‘n kontrei-verskeidenheidjie.
Mar 23, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Om by die einde van die storie te begin, moet ek meedeel dat passasiers op die eerste Kaapse vaart hierdie seisoen van die MSC Splendida (18 – 22 Maart na Walvisbaai) tot vier uur en langer later voet aan wal gesit het as geskeduleer. .
Een komplikasie was ‘n digte misbank wat die Kaap versluier het. Die hawe-owerheid het die hawe drie uur lank gesluit. Mense met voorkeur-pakkette wat gehoop het, hulle sou agtuur kon afklim, moes maar geduldig wag terwyl die groot skip anderkant Robbeneiland voor anker le. Toe die laaste skof kon voortgaan, was dit voetjie vir voetjie. Eers 11-uur was ons by terminaal.

Toe is daar skielik ‘n ander struikelblok. Klaring vir die skip om vas te meer, is normaalweg ‘n roetine-prosedure. Sommer tjoef-tjaf. Maar dit kom nie klaar nie, dit kom nie klaar nie. Later sien ons die swart lykwa langs die skip kom parkeer. Een van die passasiers is aan boord oorlede. ‘n Vrag papierwerk moet afgehandel word voordat die lyk verwyder kan word. Nog ‘n doellose uur verstryk.
Uiteindelik word die kis met groot waardigheid en dekorum uit die romp van die skip gestoot.

Intussen daag die nuwe passasiers vir die volgende vaart – ook na Walvisbaai – al in strome op. Die verkeer raak al hoe meer chaoties.
Min dinge in die lewe het egter nie ‘n positiewe kant nie. Was dit nie vir die mis-hindernis nie, sou ek en Tokkie nie op dek 16 op die agterstewe ‘n rustige heenkome gaan soek het nie. Was ons nie op dek 16 nie, ou ek hierdie foto’s nie kon geneerm het nie.
Die hooffoto bied ‘n besonderse blik op Tafelberg en Tafelbaai met die Splendida se stuurboord in die voorgrond.
Foto twee is geneem net toe die mis genoeg lig dat Tafelberg volledig sigbaar raak.
Foto drie is van die monster in die mis: van die agterstewe oor die swembad-area van die MSC Splendida boeg se kant toe.