PERDEKRAG TOT WARE KRAG

Sestien maande gelede, op 18 Mei 2023, het ek op hierdie blad ‘n kans betreur wat ek laat glip het. Waarskynlik is die geleentheid vir altyd verlore, het ek my lot bekla.
Maar vir woorde soos “vir altyd” of “nooit” moet ‘n mens maar lugtig wees.
Op Vrydag, 27 September, kom die kans toe weer. ’n Verbluffende siklus word daardie dag in my lewe voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor het ek nou in my 83 (amper 84) jaar op aarde gery.
Met die treppie het my Oom Danie du Plessis my as vyfjarige en my weduweema op Kaallaagte kom haal as ons met die Oranje-Snel van Kimberley kom om by hulle op hul plaas in die distrk Paul Roux te kuier. Die seuntjie het hom van die agterste bankie verwonder aan die spogperde wat ons so ligvoet en kopspelend op die plaaspad karwei (en aan die groot speekwiele).
Vrydag het Johannes Moses my in Kusweg, Melkbosstrand, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem. Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee.
In Mei was dieselfde Johannes met dieselfde Volvo by my huis. Hy het ‘n pakkie vir een van die grootbase kom haal. Eers toe die Volvo geluidloos oor die bultjie verdwyn, besef ek: ek kon ten minste gevra het om tot op die hoek saam te ry het ter wille van ‘n historiese ervaring.
Vrydag het Johannes vir Ton Vosloo Melkbos toe gebring vir ’n ete. Ek sou nie weer met ‘n mond vol tande staan nie. Trouens, Johannes het my en die oud-voorsitter van Naspers saam voor die Volvo afgeneem – as iemand dalk dink dat ek lieg.
Die spesiale ervaring skep die geleentheid om oor die wiele in my lewe na te dink.
Los die babawaentjie en die driewiel maar daar. Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is op my lys.
Praat van motorfietse dan onthou ek veral my oom Willie Smith. ‘n diamantspeurder, se forse syspan-model. As hy die pad vat, het die wind deur jou hare gespeel.
Vragmotors het ek elke dag gery toe ek in 50’s ‘n jaar in die skooltjie op die myndorpie Enyati in Noord-Natal was. Soggens het ek en my niggies Lina en Elsa Maritz op Boshoek langs die pad gaan staan. ‘n Steenkoolvragmotor laai ons dan op. Smiddae was dit dieselfde storie terug. Die Studebakers was my gunsteling.
Vir openbare vervoer het, buiten die trein, regte, egte outydse trems, trolliebusse, stedelike dubbeldekkers en moderne My City’s gesorg – ook een van die 50’s se ou half-bus-half-vragmotor-gevaartes van die SA Spoorweë. Die verskeidenheid luukse-toerbusse en minder-luukse-toerbusse in verskei lande was enorm.
Motors? Onmoontlik om almal te probeer onthou. Die eerste was my pa se 1938-Plymouth. Nou ry ek ‘n redelik resente BMW X1. Tussenin was daar stasiewaens, SUV’s, sportmotors (‘n Tukkievriend se Karmann-Ghia), sedans, limousines, kombi’s, allerlei bussies, kewers, jeeps, Londense taxi’s – selfs ‘n Goggomobiel. Daar was V8’s, sessilinders, 4 x 4’s, wankelenjins en wat nog.
In ‘n renmotor was ek darem nie. Aan ‘n tydren het ek wel in die 60’s deelgeneem in ‘n Ford Zephyr. Minder suksesvol – ek, nie die Zephyr nie.
Amper vergeet ek my oom Marthinus Maritz se Chevvie met sy “dickey seat” (weet nie wat dit in Afrikaans genoem word nie). Vir oningeligtes: dit was ‘n oopslaan-sitplek waar jy nou die kattebak vind. Gewoonlik plek vir twee mense.
Van hom lees ek op Google: Dickey seats in early motor cars – sometimes called ‘mother-in-law seats’ – were inherited from horse-drawn carriages, where they were customarily occupied by servants or by guards on mail coaches. Originally they were called simply ‘dickeys’; the Oxford English Dictionary traces the first use of the term back to 1801.
Skoonma se sitplek! Die bynaam het ek nooit gehoor nie. En my skoonma was buitendien ‘n engel. Sy was welkom binne die motor.
Maar ek dwaal. Eintlik wou ek maar net sê: In watter era was ek nie bevoorreg om te leef nie en watter revolusionêre veranderings het ek nie alles in my leeftyd beleef nie. ‘n Ten volle elektriese motor – dit het nie te lank gelede nie geklink soos ‘n verbeeldingsvlug van ‘n wetenskapfiksie-skrywer. En nou maak hulle al karre wat hulleself bestuur. Keer voor!

TJORRE MET TITELS

Ter ere van die Chinese Sehol wat nou tot die mortormark toetree, deel ek graag ‘n hoofstukkie oor motorname uit my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” (Griffel, 2010). Dit is ook as e-boek by De Novo beskikbaar. Kyk onder.
TJORRE MET TITELS
“Bankrot Maar Windgat”. So spot sekere BMW-eienaars nogal graag met hulleself. Dit is seker ’n verkiesliker verklaring vir een van die bekendste akronieme op die pad as “Blik Met Wiele” of die Engelse “Bavarian Manure Wagon” – ’n klaarblyklike variasie op die tema van die ou DKW.
Ek soek nie baklei met BMW-eienaars nie – van my beste (en rykste) vriende ry Beamers. Die windgat-etiket kom maar net by my op toe ek by ’n winkelsentrum ’n spoggerige BMW-koepee sien met die plakker: “Was eers my man s’n”.
Dis nou fyn spog! Daardie vorige eienaar se egskeiding was klaarblyklik nie ’n goedkoop storie nie!
Tussen fyn spog en selfspot is soms net ’n fyn dun lyn. Nou die dag beland ek agter ’n rammelkassie met die bufferplakker: “My other car is a Porsche”. (Porsche staan glo vir: “Proof Only Rich Snobby Children Have Everything”!)
Van spot gepraat: Op Tukkies was my wiele in my laaste jare ’n piepklein Fiat 500-stasiewa. Dié Fiat is dadelik deur een seksie (spottend) die “Skoolbus” gedoop. Ander se spotnaam was die “Grassnyer”.
’n Amerikaanse webwerf het lyste en lyste van byname vir bekende fabrikate – speels en spitsvondig maar, interessant genoeg, tog hoofsaaklik onvleiend. Ekself is ’n trotse Honda-ryer en stem glad nie saam met die volgende nie: “Had One, Never Did Again!” Ek glo eerder: “Happy Owners Never Drive Anything else!”
Die BMW se twee Duitse mededingers, die weeldemotors Mercedes Benz en Audi, kom ook nie skotvry af nie. Hoeveel trotse Benz-eienaars sal saamstem dat “My Expensive Road Car Emits Dense Exhaust Smoke – But Efficiency Near Zero?” Audi-eienaars sal seker beledig voel oor: “Always Under Diagnostic Inspection.”
Die volgende willekeurige seleksie word nie lasterlik bedoel nie en moet asseblief nie ernstig opgeneem word nie:
Chevrolet: “Cheap, Hardly Efficient, Virtually Runs On Luck Every Time”;
Fiat: “Fix It All The Time”;
Ford: “Found On Rubbish Dump”. Of agterstevoor: “Driver Returns On Foot”;
Hyundai: “Here’s Y U Never Drive An Import”;
Jeep: “Just Expect Every Problem”;
Kia: “Kick It’s Ass”;
Toyota: “This One You Oughta Tow Away”;
VW: “Virtually Worthless”.
Sekere motors het nie spottende byname nodig nie. Motorname kan in sigself rampspoedig wees – veral daardie wat in ander tale gans iets anders beteken as wat die vervaardigers in gedagte gehad het.
Die Opel Ascona beteken glo in Spaans en Portugees ’n intieme deel van ’n vrou se lyf. Die Mazda Laputa is, volgens dieselfde bron, in Spaans die Mazda Slet. Die Pajero van die Mitsubishi Pajero beteken na bewering in Spaans “wanker” (iemand wat masturbeer). Die Nova van die Chevrolet Nova beteken in dieselfde taal eenvoudig: “Dit loop nie!”
In Japan is verskeie modelle met Engelse name wat ’n glimlag uitlok. Dit sluit in die Daihatsu Naked; Honda Life Dunk; Isuzu Mysterious Utility; Mazda Bongo; Nissan Fairlady Z; Suzuki Cappuccino; Toyota Deliboy en Volkswagen Thing.
’n Mooi Toyota-storie kom van ’n kollega wat diep wortels in die motorwêreld gehad het, wyle Fred Schnetler: Die student se meisie raak swanger en die tyd breek aan dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Hulle daag die Vrydagaand op by die pa se indrukwekkende plaas, maar hy besluit om te wag tot later, wanneer die oomblik geskik is, om die nuus oor te dra.
Die volgende oggend gaan wys die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man beïndruk is, hom die plaas. Ná ’n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek staan ’n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers is netjies op ’n ry en in die skuur langsaan is twee Toyota Hino-vragmotors. In die motorhuis is ’n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ’n Corolla.
“Oom glo in die Toyota!” sê die student.
“Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.”
Eenkant staan ’n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “Hy’t 500 000 kilometer op die klok en vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.
Dis toe die student ’n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?”
Nee, hoekom vra jy?”
“Ai, oom, ek het haar net so ’n ligte ou stootjie gegee toe vat sy!”
“Praat-praat in Tamatiestraat”is by De Novoboeke as e-boek beskikbaar vir net R60 – minder as ‘n goeie hamburger. Die skakel is: https://www.denovowebs.co.za/…/praat-praat-in…/

O GITS, MENEER MOTORREDAKTEUR

Die Volksblad het gedugte motorredakteurs soos Ben van Rensburg en Fred Schnetler gehad. Voor Ben het so ‘n pos nie bestaan nie. Tussen Ben en Fred was die pos vakant. Vir bekendstelling van nuwe modelle – gewoonlik ‘n luisterryke en luukse bederf-okkasie – het die nuusredakteur in sulke tye sy span deurgekyk. As jy lyk of jy kan doen met ‘n blaaskans is die mantel jou tydelik omgehang.
So kry die jong Van Deventer in 1967 (dalk 68) sy eerste vername kans as “motorredakteur” met die bekendstelling van die Volkswagen Variant, die bekende “seekoeineus”-model wat daardie dekade in sedan- en stasiewavorm sy buiging in Suid-Afrika gemaak het. Ek koop selfs vir die uitstappie ‘n nuwe elegante safaripak en bypassende langkouse (foto). Aitsa, jong man!
Die spannetjie motorskrywers het Nelspruit toe gevlieg en die eerste nag in die aangename Sabie River Bungalows (nou die Sabie River Sun) net buite Hazyview met spanbou deurgebring. Lekker gebraai en tot laat in die gesellige kroeg slimstories uitgeruil. Een ding was gou duidelik: die manne ken hul karre. Ek het tjoepstil geluister.
Die volgende oggend is ons by die Numbihek in Krugerwildtuin toe, twee-twee per motor. (Die Krugerhek was toe nog net ‘n toekomsdroom). Ek en die noukeurige Andrew Marais van Die Burger was spanmaats, hy (op sy aandrang) agter die wiel en ek met die voorvinger op die padkaart.
Van Numbi is ons na Skukuza. Daarna is die reis voortgesit via Onder-Sabie tot by die Krokodilbrughek. Olifante oweral.
Via die Lebombogrenspos by Komatipoort is die
stoet Variants na die kontinentale Lourenco Marques (vandag Maputo), waar die groep in die Hotel Cardozo tuisgegaan het. Nou nie heeltemal so spiekeries soos die beroemde Polana nie, maar ook glad nie te beteuterd nie.
Ek onthou ‘n flambojante seekos-dinee met die
beste Suid-Afrikaanse wyne. Die y

 

slike Mosambiekse garnale het goed afgegaan. Op die spyskaart was ook ‘n krap met ‘n wilde smaak. Die lelike affệre met die kraalogies het ek net eenkant toe gekrap.
Die Saterdagmiddag sou almal terugvlieg Johannesburg toe. Almal minus die uwe. Ek sou die terugtog per motor aandurf. Reëlings is getref dat ek ‘n kar by Ben van Rensburg, toe by die nuwe Sondagkoerant Die Beeld, in Linden gaan aflewer. Hy en sy gesin sou die volgende dag daarmee met vakansie vertrek.
Middagete was skaars verby toe ek groet, dapper die Variant se sleutels vat en my koffertjie in die Cardozo se parkeergebied in die kattebak gooi. Toe ek die sleutel draai, gebeur niks. Twee, drie keer probeer ek met stygende paniek. Absoluut niks.
Ek suiker terug eetsaal toe, kry ‘n man van Volkswagen en verduidelik die onverwagte komplikasie met die splinternuwe voertuig. Verbaas, vergesel hy my na die onwillige Variant. Hy wikkel aan die ratkierie en skakel die kar aan. Die enjin vat dadelik en dreun egalig.
Nou wat de drommel? Die verduideliking was nogal ‘n verleentheid. Dit was die waarnemende motorredakteur van Die Volksblad se heel eerste kennismaking met ‘n outomatiese ratkas. Die stomme man was salig onbewus van die feit dat die motor in “park” moet wees om die enjin te kan aktiveer. O gits.

MAN VAN (S)TAAL – AL DIE PAD

Naand uit Melkbos

Sondag is die bekroonde motorskrywer en my gewese woonstelmaat in Bloemfontein Ben van Rensburg ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.

Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub van Die Volksblad in Bloemfontein was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder om hulle vir ‘n skrobbering aan te meld.

Van ons ander aan daardie subtafel het met die jare sag en minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.

Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk hemelhoog op met hul slordige taal; ook met ‘n argelose onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemener as in die ou dae voorkom.

Ben het vele passies, waarvan suiwer Afrikaans net een is. Hy het onder meer ook ‘n passie vir motors. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap dat sy liefde vir wiele ‘n lang pad kom. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, was nie om dowe neute nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.

Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy sterke aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Vandat sitplekgordels op die toneel verskyn het, het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Aikona, ou maat, vergeet dit. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie.

La-a-a-ng ente het hom nooit afgeskrik nie. Doerie tyd het hy dikwels op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy Kewer weggespring om in die Kaap vir ‘n meisie te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.

Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende …. Goeie aarde, die man se passies hou eenvoudig nie op nie.

Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben wat hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van Wilgenhoffers saam te stel.

Praat hy van Namibië kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.

Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in Villa Cortona, Durbanville, getrek. Dit is Mei en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, is nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang!

As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hy is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.

Toe ons in La Gratitude in Bloemfontein woonstelmaats was – 1965 rond – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van Stukvat in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.

Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwes-dae, SAUK-dae, Volksblad-dae, Beeld-dae, Rapport-dae, Burger-dae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie of wat op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. Soos ek by sy geskenkie geskryf het, is dit my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit.

Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans! (HvD)

Naskrif: Ben ry ‘n Honda CR-V soos die uwe. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige deskundige gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.