STUURWIEL IN DIE LUG
0
Die Morris het op díe reuk van ‘n paar druppels petrol op ’n lappie geloop, het Morris-eienaars by die eienaars van Austens . Anglias , Prefects ensomeer gespog. .
Betroubare karretjies was hulle wel, maar ook nie altyd onder nukke en grille nie. Ek lees in ‘n Huisgenoot in ‘n wagkamer ene Sarie Kruger se lekker storie oor haar Morris wat sy met die agterkant van ‘n naelvyltjie.moes aanskakel nadat die sleutel verlore geraak het. Die naelvyl was ook nuttig omperiodiek die punte skoon te vyl.
‘n Keer het sy op ‘snelweg rem getrap, maar die Monrissie steur hom min daaraan, Hy beurt net voort, Toe sy hom eindelik al taamlik angstig in die noodbaan tot stilstand bring, blyk dit die petrolkabel het vasgehaak.

En hier is die Bierklub. Ralph is voor regs.
Dit herinner my toe aan my Tukkievriend Ralph van Schoor se nimlike studentekar. Ralph, ’n seun van Mosselbaai, was ‘n B.Sc-student en die voorsitter van ons “Bierklub” in Kollegetehuis in die jare 1958 en 1959. Die klub se ampsmotor was Ralph se 1954-model Morris Minor.
Vrydagaande is die Morris propvol gelaai met dors klublede en afgesit na “Tant Bella” vir “tee”. “Tant Bella” was die Hotel Belvedere in Kerkstraat en wat die “tee” sou wees, was Ralph se besluit. As voorsitter (en houer van die beursie) had hy die alleen-seggenskap oor die aard van die verversings. Geen teenspraak is geduld nie.
Op ‘n dag kom ons vrolik en vol afwagting in Kerkstraat af, bestemming: “Tant Bella”. Die Morris loop seepglad, Skielik hou Ralph die stuurwiel in die lug. Op ‘n manier het dit losgekom.
Lag-lag ry ons – so laf /onverantwoordelik / roekeloos (kies ‘n woord) soos net studente kan wees – ‘n taamlike entjie stuurwiel in die lug in Kerkstraat, Pretoria.
Hoe ver daardie ent was, is soos die ent wat ons as klein kannetjies kaalvoet skool toe moes stap. Hy word al hoe langer. Maar my storie is die reine waarheid.