KOEK EN TEE BY ‘N MOORD
Die Niggiemoord in Januarie 1966 op Odendaalsrus lok enorme belangstelling uit, op TV, in koerante en tydskrifte, op, sosiale media, in private gesprekke, oral. Vanaand gaan derduisende – nee, der-tienduisende of der-honderdduisende – om 20:00 op Kyknet ingeskakel wees vir episode twee.
Vir my as koerantman uit daardie era is een redelik algemene reaksie verbysterend. Dit is die wye onkunde oor hierdie moord en andere. Mense wat oud genoeg is om op ‘n manier daarvan kennis behoort te dra, is stomgeslaan.
“Ons het nie van die moorde geweet nie,” hoor ‘n mens uit een oord. “Ons was nie bewus van sulke moorde toe ons jonger was nie,” kom dit uit ‘n ander. Op Facebook lees ek selfs dat misdaad destyds maar onder die bed ingevee of weggesteek is.
Dan dink ek hoeveel kere ek as koerantman gekapittel is juis oor te veel moord en doodslag in die koerant. Dis net bloed, bloed, bloed op die voorblad, is ek meermale verwyt. En ek skud maar net die kop.
Dadelik kom ‘n klomp bekende moorde uit daardie era by my op: die Niggiemoord (of Murasiemoord, soos dit ook genoem is), die Verwoerdmoord natuurlik, die Tasmoord (afkop-vrou in Boksburgmeer), die Groesbeekmoord, die Vontsteenmoord, die Wahl-moord, die Clack-gesinsmoord, die Robert Smit-moorde …. Dis maar enkeles uit my koerantloopbaan.
Ek onthou egter moorde van lank voor my koerantloopbaan. In Kimberley is, nog in my laerskooljare, twee oujongnooi-tantes in hul huis vermoor. Ons kinders het nuuskierig die “moordhuis” gaan opsoek en was verras dat dit so doodgewoon lyk.
My wetenskap-onderwyser op Volkies, mnr, Stompie Steyn, is deur sy tuinman (desyds anders genoem) vermoor. Dit was nogal ‘n opskudding.
Maar waarvan ek einlik wil vertel, is van die moord waarmee my koeranteloopbaan as’t ware ingewy is. My eerste plakkaat as waarnemende Goudveldse verteenwoordiger. Dit was in die universiteitsvakansie van 1961/ 62. Ek as beurshouer sou vir die vakansie in Bloemfontein gaan werk. Aan die vooraand kry ek ‘n oproep: nee, ek moet Goudveld toe. Die Goudveldse verteenwoordiger, Willie Coetzee, gaan met langverlof.
Die eerste dag gaan wys kollega Willie my toe rond. Hier’s die hof, hier’s die brandweer en so aan. By die polisiehoof (Jeff Greeff) gekom om my voor te stel, lig hy ons vriendelik in oor die ou wat op Kroonstad in sy ouers se voordeur as’t ware in woede sy broer doodgeskiet het. Ons is voet in die hoek soontoe.
Die feite van die saak is dat albei broers op die Spoorwee gewerk het. Broer A was ‘n stoker. Hy had geruime tyd n spesmaas dat broer B vir sy vrou gaan kuier wanneer hy saans vir ‘n nagskof padgee, Die ongetroude Broer B was tuis by sy ouers, enkele huise van broer A se tuiste af in dieselfde straat naby die stasie. Een aand stel broer A vir broer B ‘n strik. Hy verras hom in ‘n oomblik van passie met sy vrou in sy eie slaapkamer.
Toe hy sy rewolwer uitpluk, kies broer B hasepad na sy ouerhuis toe. Die veronregte broer A hardloop agter hom aan en skiet ‘n skoot of twee in die lug. Net toe broer B die voordeur van sy ouerhuis ooppluk, val nog ‘n skoot. Dis ‘n dodelike rugwond. Hy syg sterwende in die voordeur neer.
Willie besluit toe om die jong student vir sy vuurdoop alleen in te stuur om by die bedroefde ma te gaan foto’s vra, wat dikwels maar ‘n taai toffie is. Hy sit in die Volksie en wag terwyl ek senuweeagtig gaan aanklop.
Die jong abjater kom egter nie uit nie. Hy bly weg en bly weg. Later kan Willie dit nie meer hou nie. Hy kom klop ook aan die voordeur om sy kollega te kom “red” as daar moeilikheid sou wees.
Maar waar tref die verbaasde Willie die jeugdige Van Deventer (toe nog net 20) aan? Hy kry hom plat op die vloer in die sitkamer omring deur foto-albums sodat hy kan kies en kleur. Die bedroefde ma is byderhand om name en konteks te verstrek, wat sy hoegenaamd nie onwillig is om te doen nie.
Langs Van Deventer op die vloer is selfs n koppie tee en ‘n fris stuk sjokoladekoek wat aangebied is om hom tuis te laat voel. Willie Coetzee was totaal uit die veld geslaan oor die prentjie voor hom.
Daarna was ek vier dekades by koerante. Nooit weer by enige moord is ek so met ope arms verwelkom en getrakteer nie. Nooit weer was daar ‘n moeder van ‘n slagoffer en/of beskuldigde wat soveel behae uit publisiteit geskep het nie.
Seker ook maar gevoel dat sy nou “famous” gemaak is soos Joshlin se ma, Kelly. En laat ek maar erken: ek het selwers taamlik “famous” gevoel toe ek daardie uitgawe met my handwerk oopslaan.
