‘n KRITIEKE RELLETJIE OOR ‘n BUITELANDSE REIS

Suid-Afrika het voorheen ‘n kritieke relletjie beleef oor ‘n staatspresident  se goedkeuring of nie vir ‘n ministeriële reis. Die dramatis persona was PW Botha, Pik Botha en  FW de Klerk.

Draai die horlosie terug na 11 Augustus 1989.  Pres. Botha reik die dag  ‘n kriptiese verklaring uit wat lui: “Ek dra nie in terme van die reëls wat handel met buitelandse reise van ministers kennis van die deur dr. (Kenneth) Kaunda aangekondigde samesprekings op 28 Augustus nie.”

Daarmee word die voortslepende leierstryd tussen hom en FW de Klerk, nuwe hoofleier van die NP,  op die spits gedryf, want die reis ter sprake is een wat FW en Pik Botha,  minister van buitelandse sake, na Lusaka sou onderneem om met Kaunda gedagtes te wissel.

Konsternasie het geheers, want PW se verklaring was ‘n duidelike weerspreking van ‘n Pik-verklaring die vorige aand op SAUK-TV dat “ná raadpleging” besluit is dat hy en FW na Lusaka gaan reis.  Die klaarblyklike betekenis van eersgenoemde was dat PW die besoek nie goedkeur nie, en dat Pik dit boonop versin dat hy daarvoor toestemming gegee het.

FW het die konflik as ‘n “misverstand” bestempel en bygevoeg dat hy sonder welslae ‘n dringende vergadering met PW probeer reël het.  Pik het op sy beurt verklaar dat so ‘n reis “volgens sy insigte “ïn beginsel” deur PW goedgekeur was. PW het bly vasskop.

Wat sake vererger het was dat die botsing in die hitte van ‘n taai verkiesingstryd plaasgevind het, en natuurlik, tot diepe verleentheid vir die NP,  deur die opposisie uitgebuit is. Dr. Andries Treurnicht, KP-leier, het dit byvoorbeeld ‘n openbare “spektakel van onbeholpenheid” genoem en bygevoeg dat dit “n skokkende onthulling was van totale wanorde in die regering”. Kwaai woorde!

Ondanks alle pogings om die saak in der minne te skik, was die vertrouensbreuk tussen PW en sy kabinet onherstelbaar.  Die uiteinde was dat hy in bitterheid sou bedank terwyl hy tot op die einde volgehou het dat die kwessie  van vooraf goedkeuring van reise geen tegnikaliteit was nie, maar die “essensie van vertroue” tussen die Staatspresident en die ministers wat in sy kabinet dien.

  • Ek het in die boek “Leierstryd”deur my kollegas Ebbe Dommisse e n Alf Ries gaan blaai om my geheue te verfris.

SY EDELE MNR. DIE JOERNALIS

More uit Melkbos

“I am satisfied that all politicians were meant to be journalists and all journalists meant to be politicians.” Hierdie uitspraak word aan ene Owen Arthur toegedig – vermoedelik ‘n vorige premier van Barbados, tensy ek sleg ge-Google het.

Sy stelling klink ietwat rof. Ek kan aan verskeie joernaliste dink wat nie as politici sou deug nie, en sommer baie meer politici wat nie as joernaliste sou regkom nie. Oor die redes wei ek liewer nie uit nie. Hoekom sal ek nou daaroor rusies uitlok?

Oor iemand wat in albei kampe was, het ek enkele dae gelede geblog. Hy was pres. C.R. Swart, wat van die laat 20’s tot in die 30’s ‘n ridder van die tikmasjien was – in ‘n stadium twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.

Rêrige Afrikaanse redakteurs wat tot die kabinetsbanke gevorder het, was die eerste ministers D.F. Malan en H.F. Verwoerd, asook dr. A.J.R. (Albertus) van Rijn en dr. Andries Treurnicht, wat leier van die Konserwatiewe Party geword het. Malan was Die Burger se redakteur, Verwoerd Die Transvaler s’n, Van Rijn Die Volksblad s’n en Treurnicht Hoofstad s’n. (Die Burger se A.L.. Geyer het ambassadeur in Londen geword.)

Verwoerd het die ongelukkige “roem” as redakteur verwerf dat hy sy koerant die koningsbesoek in 1947 laat ignoreer het. Slegs die strate wat gesluit sou word vir die koninklike optog deur Johannesburg is vermeld. Goeie aarde, doktor!

Van Rijn se lessenaar het later ook my lessenaar geword. Ek het sy begrafnis in Bloemfontrein bygewoon. Die arme dominee het daardie middag kleigetrap. Hy het aanhoudend na die oorledene verwys as Gerhard van Rijn, die naam van sy oudste seun. Gerhard van Rijn, wat regter-president van Noord-Kaapland was, het in die familiebanke al hoe rooier in die gesig geword.

P.W. Botha wat premier en staatspresident geword het, het ‘n kort loopbaan by Die Volksblad gehad. Ook in pres. Marais Viljoen se are het joernalistieke bloed gevloei. Hy was onder Verwoerd by Die Transvaler.

Ander ministers wat via koerante in die politiek gekom het, sluit in Blaar Coetzee, Hennie Smit en Marais Steyn, wat sir Div se regterhand in die Verenigde Party was voordat hy oorgestap het.

A.M. van Schoor van Die Vaderland (vertaler van o.m. Tarzanboeke) het senator geword (as ek reg onthou). Gert Terblanche van Die Volksblad was senator, LV en ambassadeur. Abraham Jonker, pa van Ingrid, en Frik van Deventer was LV’s.

Meer resent, was Piet Coetzer (pêl van wyle Fanus Rautenbach en politieke beriggewer van Die Transvaler, LV. Dene Smuts, LV, was redaktrise by Fair Lady (‘n publikasie van Naspers).

My lysie is net van Afrikaanstaliges. Ek aanvaar dit is onvolledig. Aan ‘n poging om die politici te lys wat uit die Engelse pers kom, waag ek my liewer nie. Ek sal ongetwyfeld misvat. Drie name duik egter dadelik op.

Die bekendste van die dag is natuurlik Helen Zille, kranige DA-leier wat so mooi Afrikaans praat (Rand Daily Mail). René de Villiers, redakteur van The Star, was ook in die parlement. Tertius Myburgh van die Sunday Times – ‘n portuur vir wie ek baie tyd gehad het – is uit die bloute as ambassadeur in Washington aangestel. Hy is aan kanker oorlede voordat hy sy edele kon word.

Die loopbaan van P.W. by Die Volksblad beskryf hyself as as “baie kort en baie opwindend”.

Opwindend? Wel, in die politieke hoogsomer van 1935/36 toe die stryd tussen Malaniete en Smelters oral laat oorgekook het, het hy verslag gedoen oor ‘n onstuimige tussenverkiesing in Frankfort en onder meer op 17 Februarie 1936 vir ‘n hoofberig gesorg met die volgende stapel opskrifte: Vroue moet met stoelpote orde herstel op Villiers/Smelters se aanslag op verhoog dadelik gestuit/Skokkende wanordelikhede/Oorweldigende Nasionale gevoel, moedige vroue-optrede ontketen.

Baie kort? ‘n Persoonlike grappie tussen hom en wyle Oom Skakel Kriek, wat in daardie tyd nuusredakteur by Die Volksblad was (later o.m. redakteur van Landbouweekblad) was dat laasgenoemde die latere premier en president gou-gou sou aangeraai het om liewer ‘n ander loopbaan te volg.

In my boekie Flaters en Kraters het ek die grappie genoem, met die doel dat dit as humoristies opgeneem moet word. Botha het dit as “vernederend” ervaar en my kop in ‘n telefoonoproep uit George behoorlik gewas.

Later het hyself tog in ‘n koerantonderhoud gespot hy was nie juis ‘n joernalistieke ster nie – “toe word ek maar ‘n politikussie”. Van Deventer is egter nooit vergewe nie. Ces’t la vie! (HvD)