KAMPUSLEWE 4:  JOOL EN ANDER JOLIGHEDE

+

My terugdink aan die Tukkiejool kan ek seker nệrens anders begin nie as by die dag in Mart 1962 toe Van Deventer vyf glorieryke minute lank Fanus Rautenbach sou wees.

Met promosieplanne vir die jool is destyds groot gegaan. ‘n Klomp manne is bv. waaghalsig in die toring by die Uniegebou op. Toe die klokkespel begin waarmee die dag se uitsendings op die radio afskop, bulder hulle: “Jool. Jool, Tukkies jool.”  In Kollege is toe die plan uitgebroei dat ons as reklame die “president van Flinkveria” in sy ateljee sou gaan kaap. Terwyl my makkers die gewilde uitsaaier uitboender, sou ek die mikrofoon opneem en dit landwyd uitdawer: “Tukkies jool …”

Die regte Fanus was entoesiasties. Ons sien al voor die geestesoog die koerantopskrifte en foto’s. Twee dae voor K-dag (kapingsdag) bel Fanus. Hy klink waarlik teleurgesteld. Dit was ‘n oulike plan en als, maar nou’s Pieter de Waal (die omroeper wat die Koffiehuiskonserte destyds op die “map” gesit het) skielik oorlede. ‘n Somberheid heers in die SAUK se gange. Vir sulke grappies sal in sulke omstandighede nie veel waardering wees nie. Ai, Flink uit die Vere het darem amper joolgeskiedenis gemaak … of dalk andersom.

Lentedag was ook ‘n verbame okkasie. Op een het ek Kollege in die afdeling blommerangskikking verteenwoordig. My poging was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die CH Rautenbachsaal op te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid.

Die Joolblad – volop pret en plesier vir 25c. Links is Sampie Golden, latere LV en ambassadeur. Regs is … Raai?

Dan was daar serenades (op syn goeie Ingels uitgespreek as serenyds). Een aand het ‘n serenade by Klaradyn ietwat te luidrugtig geraak met Pierre le Roux se luide ghongslae teen ‘n ysterpaaltjie in ‘n boom tussendeur. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe studentemaats die magtelose konstabel in die aanklagkantoor se pet soos ‘n rugbybal onder mekaar aangee.

Ja, Kollege was ‘n anderster koshuis. Haas by elke moles was hy in die episentrum.  Die rektor (“gomlastiekgogga”) was nie geamuseer nie.

Kollegemanne kon vindingryk wees. Lank voordat kapings en ontvoerings alledaags geword het, is ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die destydse HF Verwoerd te gaan haal vir ‘n Fonteineparty. ‘n Groep maats het gaan kuier. Aan die einde van besoektyd stap hy luiters tussen hulle uit.

By die feestelikheid word hy die slagoffer van ‘n overwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery. Die pasiënt word ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp.

Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat hom uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

En hoe het dit met die asters gegaan? Nie altyd ewe goed nie, dankie. Een grou Sondagmiddag het ek en Cas Jacobs my kar voor Asterhof gaan trek met ‘n yslike “Hoekie vir Eensames” op die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!

Die akademie moenie vergeet word nie; vivat academia! Weens ‘n dors aan  kennis het die skrywer hiervan een laataand by die Merenskybiblioteek gaan inbreek.  Manie Steyn is saam. Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in.

Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.

Het ek die boek gekry en my taak betyds ingedien? Inderdaad. Gelukkig ook. In daardie stadium was ‘n goeie punt vir daardie taak onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.

Na gebruik is die boek terugbesorg. Oop en bloot by die sierlike voordeur van die Merensky ingestap en hom op sy plek gaan sit. ‘n Mens ken mos jou verantwoordelikhede, selfs as jy ‘n student is.   (Slot.)

FOTO’S:  i. In 1962 kon Kollege die hoofsierwa bou vir die fraai joolkoningin en haar prinsesse. ii. Die Joolblad – 25c se pret en plesier.  Links is Sampie Golden, latere LV en ambassadeur. Regs ….

EEN DONKER NAG IN ‘N BIBLIOTEEK

OP die trappies tussen die suile van Harvard se indrukwekkende Widenerbiblioteek

Die verwoesting van die Jaggerbiblioteek by Ikeys in die onverklaarbare bergbrand die naweek gryp elke boekeliefhebber aan die hart.  In daardie biblioteek het baie mense oor die jare boekejuwele ontdek wat hulle lewenslank geestelik verryk het.

Drie biblioteke beklee in my eie lewe spesiale plekke: dié van Potchefstroom, Tukkies en Harvard. Van elkeen troetel ek herinneringe – nie almal ewe loflik nie.

By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar gaan inbreek. Manie Steyn is saam.  Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange  in.  Die inbraak was nie  met kwade bedoelinge nie.  Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.

Het ek die boek gekry en my taak betyds ingedien ?  Inderdaad.  Gelukkig het ek naastenby geweet waar om te gaan soek.   Seker net ‘n halfuur of wat die rakke gefynkam . Toe: eureka! Ek en Manie is triomfantlik met die Santa Maria  (my 1957 Peugeot 203) terug koshuis toe – missie met welslae voltooi.  Moet tog onthou om hom opnuut te bedank as ek hom weer op Krugersdorp bel.  In daardie stadium was ‘n goeie punt vir daardie taak onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.

Slaan my dood maar ek kan die naam van daardie boek nie onthou nie.  Maar wees gerus: hy is wel terugbesorg. Oop en bloot by die sierlike voordeur van die Merensky ingetap en hom op sy plek gaan sit.

Van die Potch-biblioteek is my herinneringe aan boektitels helderder. Noem elke boek in Topsy Smith se Trompiereeks. Ek het hulle in my standerd-vyf-jaar een vir een gaan haal en verslind. Met die fiets gery van ons huis, Du Plooystraat 62, na die biblioteek daar langs die stadsaal waar o.a. die Weense Seunskoor en die Duitse sopraan Erna Sach in die 50’s gedenkwaardige konserte gehou het.

In standerd ses het ek Paul Gallico se klassieke werk The Snow Goose daar leer ken. In matriek word die gunsteling toe ‘n geliefde voorgeskrewe boek. Dit was ‘n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The Snow Goose in your own words.’ Onderskeiding gekry vir Engels.

Die indrukwekkendste biblioteek wat ek ooit leer ken het, was die Widener van die tradisieryke Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts – ‘n plek wat jou aan die hart gryp. Op die statige kampus is die rolprent Love Story verfilm met die mooie Ali MacGraw en Ryan O’Neal as verliefde paartjie.  Die twee ontmoet mekaar in die manjifieke biblioteek.

Dié boekskatkamer van derduisende titels bevat ‘n Gutenberg-Bybel en selfs ‘n klompie Afrikaanse boeke. Een is oud-kollega Blaar Grobbelaar en Gerard Ludi se boek oor Bram Fischer (Die verbasende Bram Fischer, Nasionale Boekhandel, 1966). Ons Nieman Fellows van 1976/77 se klasfoto is op die trappies tussen die massiewe suile geneem.

Die foto hang in my studeerkamer.  Die Widener sal ek  nie vergeet nie – nie sy boeke binne nie en ook nie sy oorheersende teenwoordigheid op ‘n skilderagtige kampus nie.  .