HOEKOM DANIE MOES TROU EN SO
Terwyl Danie Krynauw se stories oor sy vlugtog met die polisie-vangwa, die motballe, NP van Wyk Louw en so aan klaarblyklik die naweek wyd plesier verskaf het, bied ek hiermee ‘n Danie Merk II aan.
Terwyl Danie Krynauw se stories oor sy vlugtog met die polisie-vangwa, die motballe, NP van Wyk Louw en so aan klaarblyklik die naweek wyd plesier verskaf het, bied ek hiermee ‘n Danie Merk II aan.
Die Slag van Blaauwberg in 1806 was ‘n week of wat gelede ter sprake met die herdenking daarvan – en ‘n omvangryke algemene onkunde oor die belangrike skakel in die SA geskiedenis het daarmee aan die lig gekom. Wie, wat, waar? So wou mense op Facebook weet.
Elke moontlike vraag oor die slag net buite Melkbos (wat die Britte in beheer geplaas het van die Kaap) word beantwoord in ‘n formidabele boek Battle for the Cape 1778 – 1806 deur Ian van Oordt en sy vrou, Barbara, van Pinelands. Ek was so bevoorreg om iemand se kopie te lene te kry.
Die boek van 548 A4-bladsye (ja, dit weeg 2,3 kg!) het 15 jaar se intensiewe navorsing geverg. Die Slag van Blaauwberg op 8 Januarie 1806 en die impak van die Britse oorwinning oor die Hollanders word in besonderhede beskryf.
Eerstehandse ooggetuieverslae is in argiewe oor die wêreld heen opgespoor Die skrywer het uiteindelik nie minder nie as 8 000 foto’s van oorspronlike dokumente gehad.
Die skildery op die voorblad is ‘n opdragwerk deur Estelle Laubscher.
Die boek kos R1 500. Dis egter nie asof ek dit hier probeer bemark nie, want dit is op die oomblik uit druk.

Kobus (links) verduidelik vir my die betekenis van ‘zirr’ oor ‘n ‘kuil’ of twee.
Die woordjie ‘rizz’ se bekroning as die Oxford University Press (OUP) se woord van die jaar vir 2023 voer my gedages terug tot die woordjie ‘zirr’ wat in die jare 60 in die Lugmaggimnasium in Pretoria se woordeskat ‘n ereplek beklee het.
Die twee woorde – die een amper ‘n spieëlbeeld van die ander – is amper ook vinkel en koljander wat betekenis betref.
Van ‘rizz’ lees ek in die koerant (DB, 11 Desember) dat dit afgelei is van die woord charisma. Inbegrepe is eienskappe soos “styl, sjarme en aantreklikheid”. Jy het ‘rizz’ of jy het dit nie.
Oor die betekenis van ‘zirr’ maak ek staat op die verduideliking van wyle Kobus Louw, joernalis en skepper van TV-trefferprogramme soos Slampampersirkus en Drama-Drama. Met die stigting van die koerant Beeld in 1974 is hy genader om vir Beeld vryskut-bydraes te lewer. ’n Rubriek is gebore waarin Kobus oor die doen en late van sy vriend Andries, sy alter ego, berig. Andries was begaan om ’n bietjie ekstra ‘zirr’ in sy huwelik te sit.
‘Zirr’ watseding, wou ek as nuusredakteur benieud weet. Dis toe dat hy my vir ‘n bier nooi – ‘n ‘kuil’ het hy dit genoem, soos in ‘n ‘paar kuile trek’ (foto – hy is links). Die woord kom uit sy jaar in die lugmag in 1963, het Kobus my vertel.
As die manne die slag Pretoria ingevaar het agter ’n goeie tyd aan, het hulle altyd gesê: ‘Laat die byle huil’ of ‘laat die wille irre zirr’ (wat dit ook al mag beteken).
‘Zirr’ was, soos Kobus dit gesien het, tekenend van die uitstorting van energie. ‘Von’k is dalk ’n Afrikaanse alternatief. Die Engelse woord pizzaz vat ook iets van die betekenis saam: “An attractive combination of energy and style; sparkle, vitality, glamour,” soos dit in die woordeboek Collins opgeteken is. Dit is eienskappe wat sy vriend Andries gehad het of bepaald graag sou wou besit.
Soos in die geval van ‘rizz’ het jy ‘zirr’ of jy het dit nie. Ek dink as ek kon kies, sou ek liewer ‘zirr’ wou gehad het as ‘rizz’, Dit klink eenvoudig net dinamieser,
Vakansiegangers wat begin instroom – en Melkbossers self – kan nogal heelwat kontrei-geskiedenis opdiep as hulle daaroor begin rondvra en rondsoek. Die waarheid dring opnuut deur as jy die kans kry om saam met ‘n gids van die Vriende van Blaauwberg-bewaringsbied op die kruin van Blaauwberg (Blouberg) die spore van die Slag van Blouberg op 8 Januarie 1806 na te speur.
Van daardie historiese slag is heelwat in boeke opgeteken. So ‘n eerstehandse ervaring op die slagveld terwyl die son in die weste wegsak en ‘n koel seebries teen jou aanwaai, bied meer as net ‘n tikkie ekstra. Dis of doerie tyd se dinge sommer naby aan jou vel kom. Jy hoort as’t ware weer die grofgeskut doef-doef in jou ore.
Op hierdie veelbewoë westelike kusstrook van Tafelbaai het natuurlik ook die beroemde / berugte Herry en sy Strandlopers hul tuiste gehad. Plus-minus waar die Dolphin Beach-kompleks nou staan, het die “Haerlem” in 1647 gestrand en die koms van die Hollanders verhaas. Vir die ywerige geskiedenisstudent is heelwat pitkos dus binne ‘n klein radius te vinde.
Ek beperk my skrywe tot die storie van anderhalwe eeu later: die landing van ‘n tamaaie Britse mag hier ten einde die Kaap die tweede keer te verower en die Slag van Blouberg wat daarop gevolg het. Dis veral dié stukkie geskiedenis wat Les, ons Probusgroepie se gids, by ons tuisgebring het terwyl die son oor Robbeneiland – van die kruin van Blaauwberg (Blouberg) af ‘n verrassend smal strepie land – sak en die wolke in dieprooi en geel verf.
Om redes wat ‘n stuk geskiedenis op sy eie is, was Melkbosbaai doerie tyd bekend as Lospersbaai (soms ook genoem Losperdsbaai). Dis hier waar Sir David Baird in 1896 met 6 000 manskappe op 63 skepe opdaag met die doel om die begeerlike Kaapse halfwegstasie na die Ooste van Nederland af te vat en vir Engeland in te palm.
Sir Home Popham was bevelvoerder van die Britse oorlogskepe. Hy het sy vier slagskepe, die “Leda” (32 kanonne), die “Protector” (14 kanonne), die “Encounter” (14 kanonne) en die “Diadem” (64 kanonne) in ‘n halfmaan om die baai opgestel – ‘n klipgooi van waar ons nou in die Melkbos Kitchen, die Damhuis of Orca rustig ietsie eet.
‘n Volgehoue spervuur van die skepe af was oor feitlik die hele Boland hoorbaar. Onder die dekking is oral tussen die rotse en seebamboes (klink bekend!) boeie geplaas om die deurtog aan te dui vir die bootjies waarmee soldate, kanonne en voorrade aan wal gebring is.
‘n Kleiner vragskip is aan wal laat loop om ‘n soort seebreker te vorm. Maklik was die operasie nogtans nie. Een boot het omgeslaan en 36 man van die 93ste regiment het verdrink.
Twee dae lank is koorsagtig gewerk terwyl die voorposte van ‘n Hollandse garnisoen met stygende ongemak die magsvertoon van die duine af dophou.
Op genl. Jan Willem Janssens het amper ‘n onmoontlike taak gewag. Tot sy beskikking was net ‘n raap-en-skraap leërtjie van iets soos 2 200 man: Hollanders, Kapenaars, Duitsers, Franse, Hottentotte (Koikois), Maleiers en slawe. Boonop het ‘n regiment bangbroek-huursoldate, die Waldekkers, wanordelik op die vlug geslaan,
Tog is hardnekkig weerstand gebied, plek-plek selfs heldhaftig terwyl die artillerie- en geweervuur ure lank aan die Weskus weergalm. Uiteindelik was die oormag en die omvang van die aanslag eenvoudig te groot. Ondanks eie probleme soos uitputting weens hitte, die warm sand, te min water, te min kos en te min perde het die Engelse die oorhand gekry. Janssens en sy troepe moes bly terugval.
In die Slag van Blouberg het 347 van die “tuisspan” en 204 van die veroweraars gesneuwel. Dit was nie sommer net ‘n oorloggie nie.
Daarna was die Kaap nie meer Hollands nie. Sir David Baird het militêre goewerneur van die Kaap geword en dit gebly tot 1807. Kyk na die straatnaam van Bloubergstrand se hoofstraat. Ook ander strate op Melkbos en Bloubergstrand het name van rolspelers in die veldslag.
Koffers op ’n rolstoel – wat beduie dit? Die storie agter die foto regs is so absurd dat min mense my seker sal glo. Dit is die reine, reine waarheid.
Ek en gade Tokkie het Sondag omstreeks 14:00 op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland op Airlink-vlug 4Z652 uit Skukuza. In die aankomssaal was geen, absoluut geen, enkele bagasiewaentjie nie.
Die hele vleuel waar honderde waentjies gewoonlik in rye gereed staan, was dol-, dolleeg – ‘n spelonk van verlatenheid.
Verbaasde passasiers se navrae het min opgelewer. ‘n Algemene verklaring was dat die waentjies “opgeraak” het. Een lughawebeampte het weer beweer dat die verantwoordelike mense “van diens af” is. Nog een het opgemerk dat waentjies “laat haal” is. Ons moes net wag.
Niemand met ‘n geel oorbaadjie het laat blyk dat die gekke situasie hom of haar ‘n duit skeel nie. Met drie sware koffers wat uit die aankomssaal tot in Parkade 2 karwei moes word, was hierdie bejaarde egpaar taamlik benoud. Toe kom vra die dame op die foto – ‘n ware engel – of sy kan help.
Vervolgens kry sy die ingewing dat ‘n rolstoel die antwoord bied. Sy draf weg en kom met die een op die foto terug. Twee van die drie koffers kry daarop, plek. Die derde sleep sy op sy wieletjies agterna.
Die hele ent – hoeveel honderd meter sou dit wees? – vat sy ons; ek met my kierie tok-tok op haar hakke.
In die Parkade het ek die foto geneem. Die waentjies wat links sigbaar is, was die eerste wat ons teengekom het.
Dat ek nie haar naam gevra het nie, is iets waaroor ek myself bitter kwalik neem. Blameer maar die ouderdom. So ‘n barmhartige Samaritaan verdien gewis groter beloning as ‘n karige fooitjie uit ‘n dunnerige beursie na ‘n lang vakansie.
Maar watter verklaring sou daar wees vir skandelike induiestorting van ‘n heel basiere diens aan passasiers op selfs die kleinste, mees verlate ou lughawetjie? Dan word die Kaapstadse Internasionele Lughawe (let wel) gereeld bekroon as die skynende lig van lughawens in Afrika of iets in dier voege.
Swak Piketberg!