ARRIVEDERCI, OPERA

More uit Melkbos

Nadat ek met my kierie aan land is in Lüderitz kry ek onder die deur van kajuit 8195 (La Traviatadek) ‘n nota ek moet 99 skakel. Dit doen ek met bewende vingers. ‘n Nooientjie met ‘n fraaie aksent verneem besorg of ek darem so net met die kierie die mas opgekom het. “Must we arrange for a wheelchair for the disembarkation?”

My vriend Kobus Victor van Durbanville het met sy kierie soortgelyke simpatieke response (en voorkeurbehandeling) uitgelok. Geen toue vir die kieriekommando nie! Dis bedagsame, respekvolle mense, die Italianers en anderlike lede van die groot Opera-familie van 700 siele.

Ook sindelike mense. Alles wat koper is – jaartse en jaartse relings en wat nog – word sonder ophou gepoets. Elke krummeltjie wat op die grond beland, word deur skoonmakers met doeltreffender kontrepsies (soos ons sogenaamde “poop scoops” vir honde) dadelik opgetel. Toe ‘n bord val, word die area afgesper en summier ‘n span ontplooi om die skerwe te verwyder. Waarskuwingsborde verskyn op die toneel: Cleaning in progress. Moet tog nie gly en val nie.

Die swembadwater word daagliks in- en uitgepomp. Dit skitter soos saffier in die vier groot baddens. Groot oranje swembadhanddoeke (Vrystaat!) vir die skare sonaanbidders raak nie op nie. Gaan vra maar net ‘n skone. Die spierwit handdoeke in jou badkamertjie word soggens en saans voor die voet vervang. Sitkamers, ander openbare ruimtes, gange en kajuite word alles eksieperfeksie gehou.

Ontstaan ‘n probleempie, kry dit onmiddellike aandag. Ons sien een oggend voor ontbyt ‘n skoonmaker fronsend voor ‘n pilaar in die aangename sitkamer die Piazza di Spagna op dek 5 (Aidadek) vassteek. ‘n Gaatjie so groot soos ‘n R5-munt het sy aandag getrek. Hy vloog daar weg en die volgende oomblik is ‘n uniform-ou daar, skryfbord in die hand. Die aand is die gaatjie weg.

Pierre en Esther le Roux in 8199 sien ‘n watertjie langs die haardroër teen die muur van hul badkamertjie afloop en maak alarm. Voordat jy kon se mes, is een van die 110 loodgieters aan boord aan’t werskaf in die dak.

Om amper 2000-stuks passasiers te verskuif – na die noodstasies vir ‘n sekuriteitsoefening, van die skip af by Walvisbaai, op die pendelbote na Lüderitz en uiteindelik met die finale uitklaring by die doeanemense en die aan wal gaan aan die einde van die reis – verg fyn organisasie. Boeta, hierdie ouens ken hul storie. As dit geel se beurt is, is dit geel se beurt. Dan moet jy spring.

Om alles te kroon, doen hulle alles met ‘n glimlag. Jy sien net tande, al gaan dit druk en al sukkel die kommunikasie soms. Hierdie wellewendheid spoel oor op die passasiers. Vreemdes word vriende, selfs Tukkies en Maties voor die TV-skerm. Net jammer die Maties wen toe met ‘n strafskop in die doodsnikke….

As ek dan moet kritiseer, sal dit wees die studentikose karakter van sommige dekspeletjies en die alewige (seker maar onvermydelike) Bingospelery, tot saans in die pragtige Teatro del’ Opera wanneer ‘n mens jou al regskuif vir die vertoning. Die sogenaamde Bingo Boys en hul toilethumor hoort g’n op so ‘n stylvolle skip nie.

Die desibels van party musiek het sensitiewer siele soms ore laat toedruk, soos Flip Nel op die foto demontreer. Maar in dieselfde teater het ons toertjies gesien wat regstreeks uit die glansryke Lido in Parys kon kom: dans, balanseertoertjies, “toorkuns”… En toe Dean Martin se That’s Amore op die Italiaanse aand opklink, was die versoeking groot om hardop saam te neurie: “When the moon hits the sky like a big piece of pie, that’s amore …”

Arrivederci, kaptein Raffaele Ponti en jou span. Ek groet met ‘n trefferdeuntjie uit die 50’s: “I’ve built a dreamboat to sail the seas, with you by my side when it sails …” Die Opera is so ‘n droomboot. (hvd)

Sail away, sail away ….

EET, DRINK, WEES VROLIK!

Twee van ons kelners by Kobus en Cecile Victor van Durbanville (twee ere-Melkbossers)

Middag uit Melkbos

Eat, drink and be merry .. for tomorrow ye diet. Dié gevleuelde woorde was in my Tukkiedae op die spyskaart van Kollege se huisdinee een jaar. Studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai het my in die ornate eetsaal die La Caravelle op dek 5 (Aidadek) daaraan herinner.

Wel, eet en vrolik wees, het ons op die MSC Opera bekwaam gedoen – ook in ander eetplekke soos die L’Approdo op dek 6 (Otellodek), asook die Le Vele en die Il Patio op dek 11 (Toscadek).

Die vyf dae ter see het ons met ons tande ‘n pad deur iets soos 80 ton vars kos geploeg. Twaalf bakkers het elke dag 900 kilogram heerlike brood bygedra: van croissants tot pumpernickel-rogbrood. ‘n Bataljon kelners, hoofsaaklik van Indonesiese afkoms, het net grinnikend bly aandra.

Geen wonder nie die kok het die aand met die voorstelling van die kaptein en sy offisiere loshande die meeste applous ingeoes.

Aansit vir aandete in die La Caravelle

Oor hoeveel bottels wyn verorber is, bestaan statistieke genadiglik nie. Die “wynlyn” was elke aand egter berug lank, ondanks die prys van $12 tot $20 per bottel. Vertragings het voorgekom wat vir ontvlambare gemoedere, soos HvD s’n, nogal uitdagings gestel het.

Synde ‘n Italiaanse skip moes daar natuurlik ‘n Italiaanse aand wees – ‘n vrolike besigheid met onder meer al die kelners in groen, wit en rooi, Italiaanse wyne teen $10 ‘n bottel, Italiaanse roomys, Italiaanse pasta en ‘n sappige Italiaanse koek waarvan ek die gelyke nog nie geproe het nie.

‘n Feestelike hoogtepunt was toe almal op die maat van ‘n heerlike Italiaanse lied hul groen, wit en rooi servette bo die kop begin swaai. Die vrolikstes onder die vrolikes het treintjie gemaak en deur die eetsaal begin kronkel. Van ons groep was Flip Nel en Koos Myburgh onder die voorbokke – laasgenoemde wel gekamoefleer met sy servet as ‘n soort vermommende kopbedekking, seker omdat hy so hoog op is in onse gemeente! Lourette Ellis was op haar voete, kamera hoog in die lug, om al die verrigtinge vas te lê. Ek soek foto’s, Lourette.

Die Italianers vertel graag die grappie oor Italiaanse kos wat George Miller kwytgeraak het: “The trouble with eating Italian food is that five or six days later you’re hungry again.”

Five or six days, mnr. Miller? (hvd)

AHOOI, WALVISBAAI!

More uit Melkbos

Oormore, Donderdag 21 Februarie, bestyg ‘n dertigstuks Melkbossers en vriende die goeie skip Opera van die MSC-redery vir ‘n vyfdaevaart na Walvisbaai en Luderitz. Ons koffertjies word met vakansieklere geplak, ons paspoorte uit die laai gediep en ons bankrekenings met trepidasie beloer. Aan boord betaal ons (vir ons wyn en dinge) in dollars.

In die groep is:

Studentemaat Pierre le Roux (en Esther) van Mosselbaai. Ek en Pierre ken mekaar as Tukkies sedert 1959. In 1962 was die uwe huisvoorsitter en Pierre adjudant. Ons vriendskap van oor die 50 jaar is vir albei steeds net ‘n vreugde (hoop ek).

Kollega en woonstelmaat Ben van Rensburg (en Rina) van Stellenboch. Ek en Ben was in 1964 saam by Die Volksblad en saam in La Gratitude, Unielaan, teen Naval Hill. Toe ek en Tokkie verloof raak op 15 Maart 1965 het Ben foto’s geneem. My vrou lyk daarop nes Jackie Kennedy (net mooier).

Probusmaats (sosiale klub vir afgetredenes op Melkbos en Blouberg):

Flip Nel (en Linda), spitsvondige dokter-politikus wat ek al uit my Vrystaatdae goed ken. Ek het vir Colin se Kallers krieket gespeel (Bloemfontein); hy vir Bill se Bulle (Welkom). Die Kallers was beslis die beste span, al het ons soms verloor.

Thys Slabber (en Marieta), wellewende Swartlandboer, wat graag boeke present gee. My kosbare M.M. (Thys) Walters-versamelinkie kom van Thys. Hulle is familie. Ons Thys se vetplantjietuin op Melkbos (koekemakrankas, ens) is ‘n lus vir die oog.

Lukas Theron (en Rina), wat in Bloemfontein’n motorbaas was en ‘n Golfie geborg het as eerste prys in Die Volksblad se Matrieknooiwedstryd. Raakvat Rina reël die dingetjies vir ons. As Rina reël, loop dinge reg. (Vriende van Lukas en Rina, Ansie en Thinus, vaar saam – sien uit om julle te ontmoet.)

Koos Myburgh (en Ralda), joviale wynman van die agter-Paarl. Wens ek kon van sy voortreflike Perdeberg-wyne (Soft Smooth Red en Chenin Blanc) inpak. Ongelukkig ‘n doodsonde om jou eie drank op die skip te bring.

Marten Grond (en Fimmie), oud-Frieslander en –burgemeester van Midrand. Ry die wêreld vol met sy ryhuis. Lees van die Gronds se Kroasië-avontuur in Desember se Wegsleep. Voëlkyker en boommkenner. Was ‘n toergids en ken die land soos sy palm.

Frans Ellis (en Lourette), eiendomsghoeroe van Melkbos. Hierdie egpaar woel met hul gastehuis en verhurings. Pas op, hulle verhuur in Desember jou huis onder jou sitvlak uit. Lief vir al wat ‘n konsert is. Weet waar om hulle op die Opera te gaan soek.

Jacko Maree (en Jeanette Bartlett), oud-politikus, “taalbul” van die Universiteit Stellenbosch en kenner van die WVK. Op 75 het hy vir hom ‘n Honda Gold Wing aangeskaf en ‘n soloreis van oor die 4 000 km aangedurf. Jacko die jintelman, noem die meisies hom – nie sonder goeie rede nie.

Rip Riphagen (en Corine), nocht een Nederlander; drankhandelaar, koskenner en ewe lief vir die Bosveld as die uwe. Fynproewers, hierdie twee. Hoop maar die sjefs van die Opera is oorgehaal om hul beste voete voor te sit.

Kobus Victor (en Cecile), my kubervriend wat ook in lewende lywe vriend geword het. Oud-leraar en –uitgewer van Christelike lektuur. Sterkte. Kobus, met die verantwoordelikheid om ons lot vyf dae op die spoor te hou.

Mede-Melkbossers:

Du Toit Hamman (en Annette), ook ryhuismense. Staatmakers vir Probusvriend Hennie Jonker wat op die oomblik weer in die hospitaal is. Ervare bootresigers wat al oral se waters beproef het. Hulle ken al die slaggate.

Annette Dippenaar en Josephine Loubscher, grasweduwee en weduwee – voorslagvroue by kospotte, naaimasjiene en wat nog. Sal maar by hul kajuit gaan hulp soek met praktiese probleempies (af knope en dies meer) as Tokkie nie beskikbaar sou wees nie. Maar hoekom sal sy nie wees nie? Ons is saam in kajuit 8195 op die La Traviatadek.

La Traviata? Brindisi (die drinklied uit La T) klink skielik na ‘n goeie temalied.

Naskrif: Hoor ‘n voëltjie fluit Elindi van Rensburg is op die boot. Die mooie meisiekind was ‘n buurdogter in Bloemfontein. Slim ook … swot nagraads op Stellenboch. – al Ph. D of so. Oom Hennie sal ‘n ogie hou, indien moontlik.
(hvd)