AAN JORRIE: MY (LAAT) LAASTE LOF

Vir oulaas saam. Ses Volksbladveterane – almal 80-plussers – saam op,Melkbos in November 2024. Van links is Willie Kuhn, Wilhelm Jordaan, die uwe, Johan van Wyk, Herman le Roux en Pierre van Manen.

By die dood van my geniale kollega Wilhelm Jordaan (82) Sondagoggend sou ek vir kom ‘n klinkende lofsang op elke moontlike forum wou aanhef.

My mond was egter gesnoer.  Ek was op pad na die stoere Shingwedzi, een van die min kampe van die Krugerwildtuin waar wi-fi en internet nog nie opgedaag het nie.  By Ontvangs is ‘n nota opgeplak waarin die “ongerief” betreur word.

Enkele dae voor Wilhelm se dood het ‘n soort eerbetoning aan hom darem uit my pen verskyn.  Dit is in my allerlaaste boek, “Wag-‘n-bietjie” (uitgewer: Naledi): ‘n hoofstuk met die opskrif “ ʼn Fees – toe trane”.

Die fees waarna verwys word, was ‘n genoeglike ete met vele skaaplekkernye en die opgewekte geselskap van vriende die Saterdag voordat my kollega op 22 Junie deur ‘n beroerte neergevel is  – die trane-deel van die opskrif.

Daardie “fees van die genooides” – so het hy dit genoem –  was die onderwerp van sy heel laaste van 1 800 rubrieke in Beeld, Die Burger en Volksblad in ‘n ononderbroke loopbaan van amper 40 jaar.  Dit het die Woensdag in Die Burger verskyn terwyl hy al in die waakeenheid was.

Trouens, pas nadat hy die Sondag sy laaste woorde van vervoering getik het, het Wilhelm stom by sy rekenaar omgekantel.  Geen woord het in die volgende twee maande se lyding vir hom en sy geliefdes ooit weer oor sy lippe gekom nie.

In die hoofstuk oor Wilhelm vertel ek onder meer hoe gerus ek as sy nuusredakteur van Die Volksblad altyd smôrens gevoel het as ek die jong bobaas-verslaggewer by sy lessenaar sien sit. Die wêreld kon maar vergaan. Jorrie, soos ons hom destyds genoem het, sou dit kon behartig.  Ook as skrywer van voorblad-stoepstories – ʼn berig onderaan die blad, gewoonlik met ʼn humoristiese inslag – was hy ʼn meester in sy eie klas.

My Volksblad-herinneringe van 50 jaar gelede sou Wilhelm weens die ernstige beroerte nooit self kon lees nie. Weens die inisiatief van ‘n gemeenskaplike vriend, Hennie de Klerk, ‘n musiek-kameraad,  is dit egter wel op sy hospitaalbed vir hom voorgelees.

Hennie het uit die bloute die versoek gerig dat hy saam met boodskappe van vriende ook die nog ongepubliseerde hoofstuk vir Wilhelm mag voorlees.  Hy het gehoop dat die opwek van ou herinneringe sy vriend se beskadigde brein sal stimuleer. Ek het natuurlik dadelik ingestem. Die blote gedagte was ‘n eer.

Later het Hennie laat weet dat Wilhelm met ‘n kopknip en wakker oë op boodskappe gereageer het. Oor my anekdotes het hy verskeie kere woorde probeer uiter.  Dit was vir Hennie en die ander mense om die bed duidelik dat hy die gebeure onthou.

Hoeveel Wilhelm wel onthou het (en wat sy spitsvondige kommentaar sou wees!), sal ek nou nooit weet nie.  Die gedagte dat hy tog daarvan kon kennis neem, roer my diep.  Om hierdie spesiale ervaring hier met ander te kan deel, beskou ek as my vertraagde huldeblyk aan ‘n groot gees wat die aarde met ‘n fyn beskaafde grasie bewandel het.

“Wag-‘n-bietjie” sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

SLAG VAN MELKBOS

My brief in Rapport se meningskolom Sondag 13 April:

Jammer om daardie ballon te prik, maar die Slag van Blouberg in 1806 was nie in Blouberg nie. Om ‘n stryd teen ‘n nuwe hotel in Blouberg aan die veldslag van amper 220 jaar gelede te koppel, kan oulik klink, maar is histories geheel onjuis.

Met sy berig “Inwoners van Blouberg veg hand en tand teen nuwe hotel” (6 April) trap Rapport ongelukkig in ‘n slaggat waarin vele voor hom al getrap het.

Die slag van Blouberg was inderdaad op Melkbosstrand, eers net op die strand en later op ‘n koppie buite die dorp waarvan die naam Blaauwberg grootliks vir die verwarring oor locus verantwoordelik is.

Die koppie is sowat 15 kilometer van Blouberg en kanonne staan nog daar rond. Gereelde uitstappies word deur die Vriende van Blaauwberg-bewaringsgebied aan die berg met sy ryke biodiversiteit, manjifieke uitsigte en klinkklare spore van die veldslag gereël.

Om redes wat ‘n stuk geskiedenis op sy eie is, was Melkbosbaai doerie tyd bekend as Lospersbaai (soms ook genoem Losperdsbaai). Dis hier waar Sir David Baird in 1896 met 6 000 manskappe op 63 skepe opdaag met die doel om die begeerlike Kaapse halfwegstasie na die Ooste van Nederland af te vat en vir Engeland in te palm-  ‘n klipgooi van waar gaste deesdae in die Melkbos Kitchen, die Damhuis of Orca rustig seekos geniet.

Op genl. Jan Willem Janssens van die VOC het amper ‘n onmoontlike taak gewag. Tot sy beskikking was net ‘n raap-en-skraap leërtjie van iets soos 2 200 man: Hollanders, Kapenaars, Duitsers, Franse, Hottentotte (Koikois), Maleiers en slawe. Boonop het ‘n regiment bangbroek-huursoldate, die Waldekkers, wanordelik op die vlug geslaan,

Tog is hardnekkig weerstand gebied, plek-plek selfs heldhaftig terwyl die artillerie- en geweervuur ure lank aan die Weskus weergalm. Uiteindelik was die oormag en die omvang van die aanslag eenvoudig te groot. Ondanks eie probleme soos uitputting weens hitte, die warm sand, te min water, te min kos en te min perde het die Engelse die oorhand gekry. Janssens en sy troepe moes bly terugval. Daarna was die Kaap nie meer Hollands nie. Sir David Baird het militêre goewerneur geword en dit gebly tot 1807

‘n Moderne Slag van Blaauwberg (sic) speel hom inderdaad op die oomblik in die wyke af. Die gemeenskap van Melkbos sluit geledere op indrukwekkende skaal teen die plan om ‘n reuse-stortingsterrein vir gevaarlike afval by sy voordeur te kom plaas, in die skadu van die kragsentrale Koeberg as’t ware. Die drywer van die bose plan is Wesco (Interwaste).

In ‘n omvattende fondsinsameling is R500 000 ingesamel om weerstand te bied en ‘n petisieveldtog is in volle gang. Selfs in die NG kerk Melkbosstrand word Sondae teen die potensiële terugslag vir die bekoorlike vakansiedorp gebid.

Die onvermydelikheid van erge lug- en waterbesoedeling met gevolglike gesondheidsgevare is maar enkele van die ernstige besware wat geopper word.

Geweldige verkeersontwrigting word voorsien met die byvoeging van 300 tot 500 afvaltrokke, sewe dae per week , 365 dae per jaar, Die uitwerking daarvan op gewone daaglikse verkeer en veral op Koeberg se noodontruimingsplanne kan katastrofaal wees.

Oorstromings en lekplekke is onafwendbaar en permanente besoedeling van grondwater, boorgatwater, riviere en die nabye see word gevrees. Seisoenale winde sal die stank en gesondheidsbedreigende besoedeling wyer versprei.

Dit is na my oordeel nie net ‘n Melkbos-probleem nie. Die hele streek se belange kom in die gedrang, onder meer die uitgestrekte Atlantisgebied met sy nywerhede en woonbuurte. Atlantis se water is waarskynlik die kwesbaarste. Ek wonder of die gemeenskap dit besef.

Die aanleg gaan 50 miljoen liter water per jaar gebruik. Dit is genoeg water vir byna 400 gesubsidieerde huishoudings. Wat gaan gebeur as daar weer droogtes kom?

Die hele Kaapse metro staan met die risiko gekronfronteer.

Kom oor na Masedonië (Melkbos) en help ons!

(Vir ‘n  kortbegrip van hierdie geskiedenis raadpleeg Pieter Geldenhuys se “Die ontstaan van Melkbosstrand”. Vir dieper grawe kan DW Krynauw en GSJ Möller se “Blouberg – ons beroemde strand” aanbeveel word, Om werklik die tande in te slaan, is daar Ian en Barbara van Oordt se “The battle for the Cape 1778 – 1806″”. Elke moontlike vraag oor die slag word beantwoord in ‘n formidabele boek.  Die boek van 548 A4-bladsye –  ja, dit weeg 2,3 kg! –  het 15 jaar se intensiewe navorsing geverg. )

DIE JAAR 2024 – VROLIK EN VERDRIETIG

Volksblad-veterane op ons stoeptrappies.

Heil die leser.

Vrolikheid en verdriet het mekaar afgewissel in ‘n gebeurtenisvolle 2024 vir die Van Deventers.

In die jaar het ons feesgevier, nog vaarte onderneem, ‘n verkiesing beleef wat onverwags tot ‘n regering van nasionale eenheid gelei het en is ‘n fliek as’ t ware by ons voorstoep geskiet.

Ons is verdrietig gestem oor die kreeftegang van koerante. Vir staatmaker-papierkoerante beteken Desember ‘n hartseer-vaarwel.  Die leemte gaan groot wees. Vriende wat ons vooruit is, sluit in studentemaats Cas Jacobs en Frits Gaum,  Hans du Plessis met wie ons paaie heuglik in Amerika gekruis het,  Bloemfonteinse kameraad Colin Hickling en matriekmaat Van Aardt du Preez.   Probus het ‘n egpaar verloor: Johan en Duba van der Walt.

Ek en Ton Voloo vier Beeld 50.

In Augustus het ons die bekoorlike dorpie Kaapschehoop in Mpumalanga geniet met die bekendstelling van die Beeld 50 boek.  Die koerant se halfeeu (tegelyk eerste en laaste) is op ‘n  luisterryke Natsteen  (unieke koerantpartytjie)  by die Nagkantoorkroeg gevier. Vir die eerste nuusredakteur was die emosionele impak groot.

In November was ons bevoorreg om ‘n 40-stuks Volksblad-kollegas vir ‘n nostalgiese spitbraai op Melkbos te huisves. In die feestelike reünie was verskeie klein reünietjies opgesluit: studentemaats, woonstelmaats, lede van die of daardie spesialisredaksie, lede van die of daardie buitekantoor en – omdat in die geledere voorste skrywers is – kollegas wat saam die of daardie boekebekendstelling bygewoon het. Selfs ook heelparty lede van die “Has Beens”en “Never Beens” wat in die 80’s in ‘n onstuimige krieketwedstryd tussen ouer en jonger redaksielede kragte gemeet het.

Tokkie op die dek van die QM II.

Oudste veterane was Herman le Roux, al die pad van Centurion af, Wilhelm Jordaan, Johan van Wyk, die “Oom” van Stop, Willie Kühn, woonstelmaat in Bloemfontein, en Pierre van Manen.

In Februarie is ons met ons gunstelingskip, Cunard se Queen Mary II, van Kaapstad na Mauritius.  In Maart is ons met die MSC Splendida na Walvisbaai. Ons het gedink dis vir oulaas. Dit was nie. In Maart is ons op pad Singapoer toe vir ‘n terugvaart na Kaapstad op Cunard se splinternuwe Queen Anne.  Hoop maar die kragte hou.

Sabiepark is darem nie afgeskeep nie – ons was twee keer daar; in die winter amper vir die tradisionele drie maande soos in die eerste jare.  Het o.m.  ‘n spogfoto in Beeld van ’n swartkop-wielewaal by ‘n aalwyn  in blom opgelewer,

HvD se swartkopwielewaal.

Rondom die afskeid van die papierkoerant en die pdf’s was daar heelwat hartseer – ook aksie.’n Sterk afwysende brief is deur 14 oorlewende koerantredakteurs aan Media24 se direksie gerig.  Dit is ’n brief van historiese betekenis – die eerste keer sedert die ontstaan van die Pers in 1915 dat kragte so eendragtig saamgesnoer is.

Dit was nie heeltemal vergeefs nie.  Weens die kollektiewe optrede van die redakteurs – asook druk uit ander oorde – het Media24 die aflegging van 66 redaksielede opgeskort. So is die geleentheid vir oorlewing van handelsmerke met hul eie landingsblaaie op Netwerk24 geskep.

Die koeranteverwikkelinge en ander onderwerpe het HvD druk aan die skryf gehou: hope atikels en nog meer briewe in Rapport, By, die dagblaaie en die tydskrif Plus 50, asook op Litnet  Op www.hennievandeventer.co.za volg vars blogs kort op mekaar se hakke.

Ag nee, Koos .

Die vermeldenswaardigste bydrae is waarskynlik ‘n repliek in Rapport op ‘n Koos Bekker–artikel onder die opskrif: “Ag nee, Koos – te veel word verswyg”.  Die stuk, soos gepubliseer, noem ek die Topolino-weergawe omdat dit in ‘n koue hoekie op die stoep van ‘n toe pizzaplek op Hazyview gepleeg is met ‘n kolonie katte as geselskap. Die plek se naam is Portolino.

Aan die boekefront was daar ‘n hoofstuk oor Sabiepark se kameelperde in Protea Boekhuis se bundel Hierdie land waarin 55 skrywers vertel wat hulle van Suid-Afrika bekoor of aangryp. Die kameelperdstorie is deur Nic de Jager op RSG voorgelees.

Aan die einde van die jaar het ‘n informele selfpublikasie, Water wat verby is, met ‘n beperkte oplaag die lig gesien.  Die herinnerings van ‘n vol lewe borrel steeds uit.

‘n Kawolt  van ‘n ander wêreld was dit toe internasionale fliekmakers op ons stukkie aarde toegesak het om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op ons drumpel as’t ware: op die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat. Twee helikopters en ‘n hommeltuig was gedurig in die lug. Hou maar dop vir die fliek Huntington met Glen Powell en Margaret Qualley. Dalk sien julle ons op die stoep staan en waai

’n Verbluffende wielesiklus is in September voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor.  Met die treppie het Oom Danie du Plessis HvD as vyfjarige en sy weduweema, Baby,  in die 40’s op Kaallaagte kom haal as hulle met die Oranje-Snel uit Kimberley aankom om te kuier.  Met die elektriese kar het die 83-jarige (amper 84) kennis gemaak toe Johannes Moses van Naspers hom in Kusweg, Melkbos, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem het.

Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee.  Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is nou op sy lys.

Ja, die jare stapel op.  Genadiglik raak die bulte nog nie te steil nie.  TvD se hartpasaangeër verrig nou al twee jaar goeie en betroubare werk.

Dit woel op “Ons Plasie”.

Met die kinders is – by die uitdagings – ook veel wat positief is.  Die Van Deventers se “boerdery”op die “plasie” aan die Grobbelaarsrivier op Oudtshoorn vorder fluks –  daar is al ses skape – en Migael (nou al 18) tree na vore as hoenderboer wat heel wyd eiers lewer, ook aan die padstal Spensgoed.

Die eiers kom in allerlei kleure: groen, blou en pienkerig. Die henne wat hulle produseer, heet heel gepas Easter Eggers and Black Copper Marans.  Hope olywe (van elders) word onder ‘n “Ons Plasie”-etiket gebottel.

Met toenemende onafhanklikheid trap Migael ook sy driewielfiets om op Prins te gaan perdry. Die Klein-Karoo is goed vir die gesin. Ons kuier oor Kersfees daar en sien uit om al die aktiwitete waar te neem.

Die Claassense is langasems soos min. Thomas (‘n tweedejaar in Eendrag op Stellenbosch) het pas die veeleisende UTCT (Ultra Trail Cape Town) aangedurf. Jy klim amper 2 000 oor 35 kilometer teen Tafelberg en Duiwelspiek. Broer Jacob (‘n inwoner van die buurkoshuis Helshoogte) het vroeër die 21 km-marathon by die Two Oceans kafgedraf, feitlik dag en datum ‘n jaar nadat Thomas dieselfe medalje om sy nek kon hang. Marisa spog met haar eie marathon-medalje.

Langasems van Welgemoed.

Brent en Christopher doen weer hul ding in die saal. Hulle is rondom die Skiereiland in die Kaapse fietstoer – al die tweede keer.  Christopher ontpop hom al hoe meer as kranige bergfietsryer wat aan nasionale kompetisies deelneem.

Tussen ons: die verste wat die ou patriarg ooit gehardloop het, was ‘n 880 in 1957. Het dit as erg veeleisend en uitputtend ervaar!

Met die allerbeste Kers- en Nuwejaarswense.

Hennie en Tokkie van Deventer

Desember 2024

 

 

 

 

 

KOELBLOEDIGE KRIEKET

Elke reünie van wie of wat ookal omsluit verskeie klein reünietjies van kleiner, intiemer groepies in die groter groep. By die Volksblad se Melkbos- reünie was verskeie sulke klein reünietjies: studentemaats, woonstelmaats, lede van die of daardie spesialisredaksie, lede van die of daardie buitekantoor en – omdat in die geledere voorste skrywers is – kollegas wat saam die of daardie boekebekendstelling bygewoon het.

Een reünietjie het veral vir pret én omstredenheid gesorg: van heelparty spelers wat in die 80’s betrokke was in ‘n interne krieketwedstryd wat vir kwaai vuurwerk gesorg het. Sesse het gereën soos wanneer Springbok Heinrich Klaasen die dag in ‘n T20 op dreef is. Onstuimigheid is veroorsaak oor ‘n element van die kookwater-kolfwerk wat enersyds as poets gesien is, maar andersyds as diaboliese taktiek.

Die spanne wat mekaar daardie middag op die Polisieveld in Parkweg, Bloemfontein, aangedurf het, het onderskeidelik bestaan uit ouer, meer senior redaksielede en jonger, meer junior redaksielede. Willie Kuhn het vir hulle die name uitgedink van “Has beens” en “Never Beens” (verskoon tog maar die Engels; eintlik was ons nogal gesteld op taalsuiwerheid).

Rudie van Rensburg – einste van o.a. Hans-faam – bring toe sy “nefie” saam om die  “Never Beens” se ”span vol te maak”.  Dis toe die “nefie” wat minagtend lostrek en veral die stadige balle van gewrigsdraaiers Hennie van Deventer (redakteur) en Herman le Roux (sportredakteur) met min ontsag behandel. Dit was ‘n hele kakofonie soos die balle die polisiekantoor se sinkdak tref.

Van Deventer en Le Roux stem oor vele dinge saam, maar verskil hemelsbreed oor wie se boulwerk die ergste verinneweer is.  Goed, kom ons sê dan maar vredesonthalwe dit was myne. Ek aanvaar ook geredelik Herman het die meeste lopies vir ons span aangeteken, hoewel ek my eie kolfbeurt onrhou as een wat nie te versmaai was nie.  Een ding wat ek my nie sal laat wysmaak of toegee nie, is dat ek die een is wat die kwaadste was toe “nefie” se identiteit halfpad deur sy verwoestende kolfbeurt uitlek.

Le Roux, ‘n gemoedelike man, was propperlies woedend. So kwaad het ek hom nooit tevore en ook nooit daarna gesien nie. Darem met goeie rede, sal ek vir hom in die bresse tree. Want sien, “nefie” se naam is toe Johan van Heerden, Vrystaatse krieketspeler en huidige krieketbaas. Vreemd soos dit kan klink, het niemand hom aanvanklik onder sy kriekethoed herken nie. Rudie van Rensburg het ons behoorlik met slap pap in ’n wip gevang.

Dit was 40 jaar gelede.  Die wonde het genees en gemoedere het afgekoel. Maar wou-wou ek my nie vererg nie toe ek die blerrie onboetvaardige Rudie se kommentaar van Woensdag te hore kom.  “Pleks dat hulle dankbaar was dat die “nefie” nie eens geboul het nie,”  het hy glo met ‘n grynslag teenoor ander kollegas opgemerk toe hulle die epiese kragmeting – en die emosies daaromheen –  oor ‘n glasie in herinnering roep.

Foto: Hennie van Deventer en Herman le Roux poseer mak soos lammetjies saam met die “vyand”: Rudie van Rensburg wat hulle op die krieketveld so sleg verneuk het, en sy mede-skrywer Deon Meyer.

 

 

 

 

KOSBARE OOMBLIKKE MET KOLLEGAS

So ‘n saamtrek van oud-kollegas soos hier Woensdag op Melkbos was, laat elke begenadigde wat dit kon bywoon met hope gewaarwordinge en sommer ‘n wavrag nuwe herinneringe.
‘n Veertigstuks gewaardeerde kollegas oor ‘n era van langer as 60 jaar het by ‘n skaapbraai hul liefde en lojaliteit jeens Die Volksblad uitgeleef in ‘n samesyn wat hul gemeenskaplike gebondenheid selfs nog sterker gesmee het.
Met die oudste oud-kollega teenwoordig, Herman le Roux, loop my paadjie van einde 1958 af toe ek my as beurshouer vir vakansiewerk in Bloemfontein aangemeld het.
Ek en Willie Kuhn was in 1965 en 1966 woonstelmaats, eers in La Gratitude, toe in Giel Conradiehof. Hy was die kosmaker. (Ek en Willie is op ‘n foto saam met Andre Brink.)
Ander veterane uit daardie tyd is Johan van Wyk, Wilhelm Jordaan en Pierre van Manen. Om saam vir ‘n foto van ons ses oudstryders reg te staan, was vir my een van die kosbare oomblikke van die okkasie.
Nog ‘n intense persoonlike oomblik was ‘n intieme eenkant-geselsie op ‘n bankie onder ‘n melkhoutboom met Johan van Wyk, geliefde skrywer van miljoene woorde in sy ikoniese rubriek, Stop van Myne. Hoe ‘n lang pad kom ons twee nie saam nie!
Om weer skouers te kon skuur met sulke beroemde skrywerskollegas soos Deon Meyer en Rudie van Rensburg het gesorg vir ‘n foto van groot waarde vir my argiewe. So trots dat hulle (en Chris Karsten) in my redaksie hul uitsonderlike loopbane begin het.
Natuurlik is ek ook trots op Henriette Loubser wat van groentjie-verslaggewer in my tyd tot huidige grootbaas by Netwerk24 gevorder het. In ‘n besige program het sy tyd vir ons ou klomp ingeruim en om geduldig die vrae van ‘n so ‘n verknogte aan papier en ink soos die uwe te beantwoord.
Om deur die jonger generasie van die VOG-groep (Volksblad-omgeegroep) met die GOG-beker (Grootste Opbouer van Gees vir die geleentheid) bekroon te word, was ‘n eer, ondanks die speelsheid daarvan en dalk ‘n stukkie tong in die kies.
Philip van Rensburg, kommandant van die fees, het die “beker” (kyk mooi) aan my oorhandig. Die plant wat hy vashou, is die VOG-groep se geskenk aan gasvrou Tokkie. Dit kry ‘n ereplek in haar binnetuin. ‘n klein heiligdompie met kabbelende fontein en al.
Aan die einde – wel, naby die einde – kon ek en Tom Ferreira ‘n Jagmeestertjie saam gebruik. Smaak altyd vorentoe, veral saam met ‘n opgeruimde kollega so vol kwinkslae soos Tom.
Herman le Roux het die foto geneem van die Van Deventer-spannetjie, pa, ma en dogter, Marisa Classsens. Sy het van Welgemoed oorgekom soos ‘n engel uit die bloute om met dit en dat te kom help.
En daarmee is die ou se spreekbeurt verby (verligte applous).