GROFGESKUT OP SEEBRIES

Vakansiegangers wat begin instroom  – en Melkbossers self – kan nogal heelwat kontrei-geskiedenis opdiep as hulle daaroor begin rondvra en rondsoek.  Die waarheid dring opnuut deur as jy die kans kry om saam met ‘n gids van die Vriende van Blaauwberg-bewaringsbied op die kruin van Blaauwberg (Blouberg) die spore van die Slag van Blouberg  op 8 Januarie 1806 na te speur.

Van daardie historiese slag is heelwat in boeke opgeteken. So ‘n eerstehandse ervaring op die slagveld terwyl die son in die weste wegsak en ‘n koel seebries teen jou aanwaai, bied meer as net ‘n tikkie ekstra. Dis of doerie tyd se dinge sommer naby aan jou vel kom.  Jy hoort as’t ware weer die grofgeskut doef-doef in jou ore.

Op hierdie veelbewoë westelike kusstrook van Tafelbaai het natuurlik ook die beroemde / berugte Herry en sy Strandlopers hul tuiste gehad. Plus-minus waar die Dolphin Beach-kompleks nou staan, het die “Haerlem” in 1647 gestrand en die koms van die Hollanders verhaas. Vir die ywerige geskiedenisstudent is heelwat pitkos dus binne ‘n klein radius te vinde.

Ek beperk my skrywe tot die storie van anderhalwe eeu later: die landing van ‘n tamaaie Britse mag hier ten einde die Kaap die tweede keer te verower en die Slag van Blouberg wat daarop gevolg het. Dis veral dié stukkie geskiedenis  wat Les, ons  Probusgroepie se gids, by ons tuisgebring het terwyl die son oor Robbeneiland – van die kruin van Blaauwberg (Blouberg) af ‘n verrassend smal strepie land –  sak en die wolke in dieprooi en geel verf.

Om redes wat ‘n stuk geskiedenis op sy eie is, was Melkbosbaai doerie tyd bekend as Lospersbaai (soms ook genoem Losperdsbaai). Dis hier waar Sir David Baird  in 1896 met 6 000 manskappe op 63 skepe opdaag met die doel om die begeerlike Kaapse halfwegstasie na die Ooste van Nederland af te vat en vir Engeland in te palm.

Sir Home Popham was bevelvoerder van die Britse oorlogskepe.  Hy het sy vier slagskepe, die “Leda” (32 kanonne), die “Protector” (14 kanonne), die “Encounter” (14 kanonne) en die “Diadem” (64 kanonne) in ‘n halfmaan om die baai opgestel – ‘n klipgooi van waar  ons nou in die Melkbos Kitchen, die Damhuis of Orca rustig ietsie eet.

‘n Volgehoue spervuur van die skepe af was oor feitlik die hele Boland hoorbaar. Onder die dekking is oral tussen die rotse en seebamboes (klink bekend!)  boeie geplaas om die deurtog aan te dui vir die bootjies waarmee soldate, kanonne en voorrade aan wal gebring is.

‘n Kleiner vragskip is aan wal laat loop om ‘n soort seebreker te vorm.  Maklik was die operasie nogtans  nie. Een boot het omgeslaan en 36 man van die 93ste regiment het verdrink.

Twee dae lank is koorsagtig gewerk terwyl die  voorposte van ‘n Hollandse garnisoen met stygende ongemak die magsvertoon van die duine af dophou.

Op genl. Jan Willem Janssens het amper ‘n onmoontlike taak gewag. Tot sy beskikking was net ‘n raap-en-skraap leërtjie van iets soos 2 200 man: Hollanders, Kapenaars, Duitsers, Franse, Hottentotte (Koikois), Maleiers en slawe.  Boonop het ‘n regiment bangbroek-huursoldate,  die Waldekkers, wanordelik op die vlug geslaan,

Tog is hardnekkig weerstand gebied, plek-plek selfs heldhaftig terwyl die artillerie- en geweervuur ure lank aan die Weskus weergalm.  Uiteindelik was die oormag en die omvang van die aanslag eenvoudig te groot. Ondanks eie probleme soos uitputting weens hitte, die warm sand, te min water, te min kos en te min perde  het die Engelse die oorhand gekry.  Janssens en sy troepe moes bly terugval.

In die Slag van Blouberg het 347 van die “tuisspan” en 204 van die veroweraars gesneuwel. Dit was nie sommer net ‘n oorloggie nie.

Daarna was die Kaap nie meer Hollands nie. Sir David Baird het militêre goewerneur van die Kaap geword en  dit gebly tot 1807.  Kyk na die straatnaam van Bloubergstrand se hoofstraat.  Ook ander strate op Melkbos en Bloubergstrand het name van rolspelers in die veldslag.

  • Vir ‘n kortbegrip van hierdie geskiedenis raadpleeg Pieter Geldenhuys se “Die ontstaan van Melkbosstrand”.  Vir dieper grawe kan DW Krynauw en GSJ Möller  se “Blouberg – ons beroemde strand” aanbeveel word, Om werklik die tande in te slaan, is daar Ian van Oordt se “The battle for the Cape”.

 

 

MOOI, MOOIER, MOOISTE

More uit Melkbos

Oor begrippe soos mooi, lelik, lekker, sleg, goed, oulik, vervelig – en in die nuwe idioom bepaald ook oor zef en “kommin” – kan ‘n mens nie stry nie. Jou oordele, insigte en smaak is ‘n persoonlike, emosionele en dikwels instinktiewe saak.

Takserings kan geweldig uiteenloop. Hierdie ou kan byvoorbeeld hoegenaamd nie verstaan dat mense van sushi hou, dink Die Antwoord is oulik of glo Madonna is mooi nie. Derduisende stem met hul voete (en hul beursies) teen my – dis hul goeie reg, solank hulle my net uitlos.

’n Keer het ek by die Greykollege in Bloemfontein’n toesprakie moes hou. My stelling dat ‘n koerant nie “objektief” kan wees nie, het nogal ‘n ligte beroering veroorsaak. Maar my eie koerant het dan die Cheetahs op die rugbyveld ondersteun en plakkate versprei met die woorde: Die Volksblad skree Vrystaat! Of: Stem vroeg, stem reg, stem Nasionaal! Die Burger weer sal sterwe as hy iets met ‘n Bloubul-etiket moet goedpraat en wou in ‘n stadium van Van Zyl Slabbert niks weet nie.

So kan ek aangaan. Oor die onderwerp van subjektiwiteit kan’n mens eindeloos voortborduur. Ek wil nie, in elk geval nie vandag nie. Die lang aanloop beteken net ek erken dat ek intens subjektief is. Ek was dit toe ek vrou, huis, motor, vriende, elke boek, elke das en elke paar sokkies gekies het. Ek is dit as ek ‘n mening lug as of iets vir my mooi, mooier of dalk die mooiste is.

Wel, hier kom dit: die tafels by ons onlangse Probusdinee op Melkbos was vir my mooi. Mooier as elke ander tafel wat ek kan onthou, hetsy by uithang-bruilofte, spesiale verjaardae, spogdinees, vername okkasies, Nataniël se TV-demonstrasies en wat nog.

Ek wil waag om vir Rina Theron van Atlantic Beach die kompliment te gee dat ek nog nooit by ‘n saal ingestap het wat my asem so weggeslaan het en by ‘n tafel aangesit het wat so ‘n visuele impak op my gemaak het nie.

Rina, wat ek al privaat vir jou gesê het, herhaal ek in hierdie blogruimte met vrymoedigheid: Dit was die mooiste tafel waarby hierdie ou nog aangesit het. Jou harde werk was nie vergeefs nie. Dankie, Frans Ellis, vir die foto’s wat reg laat geskied aan Rina se kunswerk.
(hvd)