VRYTJIE OP TV: OUPA SE RAAD

Vandag begewe ek my op ‘n terrein waarvan my kennis ‘n ronde nul is. Van sg. werklikheidsreekse op TV is ek geen kyker nie. Soms sien ek egter onvermydelik ‘n reklamegreep raak, soms ‘n toevallige flertsie en soms ‘n storie in ‘n tydskrif of koerant met ‘n prikkelende opskrif.
Elke keer is ek dankbaar dat ek nie die oupa van een van die mooi meisiekinders is wat hulle so as openbare vrymateriaal opdring en dan vir hulle die risiko van verwerping en vernedering (asook openbare snot en trane) op die (lae) hals haal nie.
Hoekom doen julle dit, liewe kinders? As al julle oupas soos hierdie oubaas is, moet dit vir hulle ‘n dolksteek in die hart wees dat kleinkinders vir wie hulle baie lief is, so vrypostig optree, (Ek het eers ‘n ander woord gebruik, maar dit met ‘n sagter een vervang.)
Natuurlik is daar g’n fout met ‘n vryery op sy tyd nie, maar liefs dan – soos in die ou dae – weg van die kollig. In my tyd wou ‘n jonkman liefs ook maar nie weet nie met wie sy nooientjie tevore kafoefel het nie. As sy, soos nou, op TV haar ware en talente in daardie rigting as’t ware voor Jan Rap en sy maat uitgestal het, sou sy gewis ‘n etiket van effens tweedehands om haar nek gekry het.
Nee wat, meisies, hou op met die verspottigheid. Laat die boere, die akteurs en daardie snare maar hul eie geluk loop soek en nie net met ope arms sit en wag dat TV-programmakers vir hulle plesiertjies aandra nie.
Dis nou maar ‘n ouderwetse oupa se raad, maar dink tog maar daaroor na of hy nie ‘n geldige waarskuwing opper wat vir julle seerkry kan spaar nie.

OUMA, BRING DIE SUNLIGHT!

My Ouma Visser was ‘n streng dame met sterk insigte oor wat behoorlik en wat onbehoorlik is in die vorm van woorde wat oor jou lippe kom.  Selfs ‘n gefluisterde “dêmmit” in ‘n onbewaakte oomblik het die waarskuwing ontlok dat jou mond met seep uitgespoel sou word. Haar voorkeur vir die reinigingstakie was  Sunlight.

Ouma se berispings kom gereeld by my op wanneer ek die ongeraffineerde taalgebruik van sommige op Facebook  waarneem.  Erger woorde as “d mmit” vloei .  “Ouma, bring die Sunlight” dink ek dikwels.

Gister, wanneer is ek deur ‘n “dametjie” op ‘n onbevriende blad ‘n “asshole” genoem.  Die blad word bedryf deur ‘n oud-kollega met vele geraamtes in die kas, bitterhede in sy hart  en wrewel teen mense wat die hand oor hom gehou het toe hy wankelend was. Vleitaal word nie op daardie blad verwag nie.

Of die uwe vir daardie spesifieke stukkie vulgariteit kwalifiseer of nie, is ook nie ter sake nie, al sou dit nuttig wees om te weet wat die sterk afkeuring in die onbekende afkraker aanwakker.  Klaarblyklik sal daar ‘n breë spektrum opinies bestaan.

Nou waaroor skryf ek dan? Oor die gekruide taal wat ‘n mens taamlik omvangryk op sosiale media raakloop.  Veral dan die gekruide taal uit vroulike  monde.  Meer spesifiek: uit jong vroulike monde.

Hoekom vloek so baie van deesdae se meisiekinders so?  Hoekom raak hulle so in die platste slêng verstrik?  Beleef hulle dit as bevrydend soos dit enkele generasies gelede vir hul susters bevrydend was om hul bra’s af te werp.

Ek glo vir geen oomblik dat daardie enetjie geneë sal wees om die ou “asshole” te soen nie.  Ek gaan net vir die rekord tog maar opmerk dat ek sou gril om lippies te kus waarsoor sulke onfatsoenlikhede kom.

Wil iemand met meer invloed op diesulkes as ekself nie hulle aan die verstand probeer bring dat om so lelik te praat – veral om sulke growwe beledigings te slinger –  dikwels meer van hulleself verklap as van die voorwerp van hul minagting nie?

EK ONTHOU, EK ONTHOU …

Middag uit Melkbos

Gepraat van ou meisies: in my versieboekie Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof (Tarlehoet, 2003) het ek vantevore ook die onderwerp aangeroer, met ‘n goeie skoot vrugbare verbeelding daarby.

Verbeelding of nie verbeelding nie, die slotsom is dieselfde as in die blog hieronder. Daardie buiging na my vrou (wat van Bultfontein kom) in die laaste vers het dus in minstens die laaste sewe jaar konstant dieselfde gebly.

Hier’s die bewys:

Herinneringe

O, ek onthou die rats gimnassie,
pronknooi van die dorp Makwassie
wat ‘n aand van louter passie
daar op die klapperhaar-matrassie!

Toe kom ‘n nooi van Cullinan,
‘n skitter-diamant soos min,
en ook ‘n stukkie Welkom-goud –
‘n regte skat en heerlik stout!

Die orrelis van Berg-en-Dal
soos sy kon terg, sy maak jou mal;
uit Hertzogville, bedees en stil,
kom een met hartstog – en ‘n wil!

Die strenge een van Botrivier,
party dag sy’s bra bot en suur,
maar, boeta, dit was puur plesier
soos sy kon toor op haar klavier!

‘n Bondel energie uit Vryheid
had altyd vir ‘n vrytjie ty-heid;
vergeet ook nie daai turbo-outjie –
Bikininooi van Amanzimtoti!

Maar my nooi van Bultfontein,
vir haar het ek nou goed getryn
(of sy vir my, ek sal nie stry)
dié dat ek nou die Heer kan dank
vir lewenslank se samesyn!
(HvD)

O MEISIES, MY MEISIES

Naand uit Melkbos

Aan die vooraand van my 70ste (op 3 Januarie 2011) wonder ek in sentimentele oomblikke oor wat van enkele ou meisies geword het. Minstens een lig in my jong lewe, weet ek, is in haar fleur langboompies toe ná ‘n motorongeluk.

Ek wonder voorts aan wie almal ek my onthou-liedjie sou opgedra het as ek ‘n minnaar in die liga van Julio Iglesias was:

“To all the girls I’ve loved before
Who travelled in and out my door
I’m glad they came along
I dedicate this song
To all the girls I’ve loved before …”

Probleem een is dat ek nie Julio Iglesias se strelende fluweelstem het nie. Die HvD-stem is rasperig en die nootvasheid twyfelagtig. By die matriekafskeid in 1957 by Volkies op Potch was ek een van die matrieks wat versoek is om liewer nie die harmonie van stemme in die klaskoor met my bydrae te versteur nie.

Probleem twee is dat nie danig baie name in my opdraglysie sal voorkom nie. Ek was nooit juis ‘n wafferse vryer nie.

Maar soentjies en drukkies het darem nie op Volkies en Tukkies ontbreek nie, en dis nogal pret om van die opwinding daarvan in herinnering te roep. Synde ‘n verbete versamelaar van ou foto’s is in my albums hier en daar enetjie (‘n foto’tjie bedoel ek) wat gawe oomblikke in my gedagtes laat herleef.

Waarskynlik die opsienbarendste meisie-foto in my skool-album is een volkspele-aand gedurende pouse voor mnr. Frans de Klerk se biologie-laboratorium geneem: ek en ‘n nooi wat liewer anoniem sal bly, in ‘n innige omhelsing.

Vir daardié foto (hierbo) moes ek iets soos ‘n halfkroon (twee sjielings en ‘n sikspens of 25 sent in vandag se geld) uithaal vir my matriekmaats Wol Steyn en Blommetjie Viljoen wat, op bestelling, soos wafferse papparazzi die flitse laat blits het.

‘n Langdurige liefde was dit egter allermins. Maar, meisie, jy is darem nie vergete nie, hoor. Ja-nee, ek sluit jou in as ek saam met Julio Iglesias die volgende glasie op die goeie ou dae klink:

“To all the girls who shared my life
Who now are someone else’s wives
I’m glad they came along
I dedicate this song
To all the girls I’ve loved before.”

Klaar sentimenteel geraak oor die “loved befores” wat my hartsnare voorheen geroer het (verlede tyd), wil ek ook sentimenteel raak oor die “love still” wat my hartsnare steeds ná baie jare roer (teenwoordige tyd) .

Vir daardie doel beweeg ek van Julio Iglesias na Noel Coward.

Daardie ou jakkals het hom in 1956 (my standerd nege-jaar) oor die huwelik sinies soos volg uitgelaat: “I’ve sometimes thought of marrying, and then I’ve thought again.”

Noel, ou paardner, as jy maar kon geweet het watter loutere onsin jy daar kwytgeraak het.

Jy het nie my vrou vir 44 jaar geken nie.

Ou Tokkie is tops! (HvD)