OOR GLORIERYKER DAE
Agteros kom ook in die kraal. Verkoon as my storie ietwat koue kos is, maar die nuus dat Mediapark in Aucklandpark, Johannesburg, blykbaar al geruime tyd gelede aan UJ (Universiteit van Johannesburg) verkoop is, het by my verbygeglip. Ek hoor dit pas: Media24 se mense in die noord is sak en pak uit; bevind hulle nou by ‘n beskeier adres in Randburg. Hul vorige prestigetuiste in Kingsway, Aucklandpark, buurman van die ou Randse Afrikaanse Universiteit en die SAUK, huisves nou UJ se sakeskool.Ek aanvaar goeie sakeredes het die deurslag gegee. ‘n Mens moet nou nie te sentimenteel raak oor glas en beton nie. Maar dit is tog vir my hartseernuus dat dit nodig geraak het, des te meer so oor my eie betrokkenheid by die totstandkoming. Die koop van daardie pragtige boomryke stuk parkland by die Johannesburgse Buiteklub vir R20 miljoen, as ek reg onthou, en die oprigting van die massiewe gebou vir o.a. Beeld en Rapport se redaksies was een van my laaste groot projekte as hoof van koerante voor my aftrede in 1997.
Die opdrag het vroeg daardie jaar van Ton Vosloo gekom: soek vir ons (bedoelende die Nasionale Pers, want dit was voor die era van Naspers en Media24) grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het dadelik Jan Malherbe, knap noordelike hoofbestuurder, ingekatrol. Die middag toe hy en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, vir my die pragtige perseel gaan wys, was ek in die wolke. My woorde was: As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop. Die direksie het die aanbeveling bekragtig.
Nogtans moes ek in ‘n stadium sterk walgooi. Die toe nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, wou sommer daardie wonderlikse stuk grond dadelik weer verkoop. Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos dit by Die Volksblad was). In beginsel was ek dit van harte eens. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en advertensie-afdeling ook iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is. Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.
Ook die gebou self het ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter. Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman, Krige toegeken. By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan. Die volgende dag het ek die stoute skoene aangetrek en vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en an die verkeerde adres gerig.
Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.
Die ontwerp van die gebou is teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan tog nie ‘n gebou opig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.
Einde 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek. By my afskeid het Ton “opdrag gegee” dat ek na die inwyding genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie. Twee dekades het ek gebrand van nuuskierigheid oor daardie gebou. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.
Na 20 jaar het ek iets aan die saak gedoen. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging vinnig op pad was. Op Donderdag 9 Maart 2017 het ek die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap. (Foto’s).
Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en kollega Herman le Roux uitgerol. Johanna van Eeden, toe hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete.
Die ou gebou in Millerstraat / Voorhoustraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie nuweling was in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke moderne gerief. Hoe in my noppies was ek nie oor ons spogadres in die noorde nie. Nou is dit ook net nog ‘n herinnering aan gloriekryker dae.