TIEN OUTJIES OP ‘N MUUR

Middag uit Melkbos

Sing mense nog van die tien outjies op die muur? Een val af, toe’s daar nege. Nog een, toe’s daar agt. Ensovoorts. Ensovoorts.

Daardie outjies was, soos ons die liedjie geken het, in die moderne idioom bekend as agtergeblewenes. In die onderhawige geval is hulle “oorgeblewenes”.

Dit is nie my vindingryke woord nie, maar my klasmaats Wol Steyn s’n.

Wol het vir my na Saterdag se matriek-plus-55- re-unie by Volkies op Potchefstroom (in die personeelkamer nie die onthaalvertrek nie omdat die trappe vir die oues van dae as te steil geag is) ‘n kort bulletin gestuur.

Aangeheg was die blad hierbo. Dit is die laaste blad van my blog van 25 Maart met daaronder twaalf handtekeninge.

“En hier is ons almal,” was Wol se lakonieke kommentaar.

In daardie vorige re-unie-blog het ek gewonder hoeveel Saterdag sou opdaag. Dit is ‘n ope vraag, het ek geskryf, want die wiel bly draai; die Byl bly kap in ons bos…. “ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al lang boompies toe”.

Maar net 12? Die “tien outjies op die muur” het vinniger minder geword as wat ek verwag het. Vyf jaar gelede was ons seker nog 30. Dalk meer.

Verrassende afwesighede staan soos seer vingers uit.

Dis oor daardie 12 getroues wat wel opgedaag het en almal HvD se boodskappie onderteken het dat ek skoon aangedaan voel oor hierdie dokumentjie.

Al waarop ons kan hoop, is dat die klasmaats in 2017 – wanneer ons matriek-plus-60 gedenk – weer in groter getalle die bedevaart sal onderneem – mits ons natuurlik die kragte behou, en die Byl nie intussen te kwaai kap nie.
(HvD)

TRAP DER OUDERDOM

Wol Steyn, TvD en HvD in die Arend in 2007.

More uit Melkbos

More trek die Volkie-matrieks van 1957 op Potjiesdorp saam – in die personeelkamer, verneem ek by een van die geesdriftige re-uniegangers, Wol Steyn. Glo omdat gereken word van die oues van dae sal nie meer die trappe kan bestyg na die lekker onthaalkamer, Die Arend, nie.

Wol is verontwaardig. Wouter (dis sy regte naam) klouter nog elke dag op en af van die bak van ‘n 10-ton-vragmotor, snork hy.

Wol, als goed en wel en ek’s bly om te hoor van jou volgehoue ratsheid, maar ek het darem al die vorige keer, in 2007 (50 jaar na matriek), gesien hoe party van ons ou tydgenote bra mankerig swoeg en beur om die Arend te bereik.

Tokkie het toe al opgemerk die volgende re-unie is “take-aways” ons voorland!

Nie meer die Trap der Jeugd vir ons klomp nie – nou die Trap der Ouderdom.

Die harde waarheid is: party van onse kalwers kan nog net die trappe van vergelyking bestyg: sukkelend, sukkelender, sukkelendste! (HvD)