TUKKIE SKAAR HOM BY WILGENHOF
Oor studentekoshuise en hul tradisies, gewoontes en geite voel ek as oud-_Kollegeman van Tukkies sterk. Toe die Wilgenhof-bom bars, was in die Kollegehart dadelik ‘n spontane opwelling van simpatie – al lyk aspekte van die Wilgenhof-kultuur ietwat rof, veral in die nuwe tydvak van menseregte en ander sensitiwiteite.
Die gevolg was vanoggend se brief in Die Burger (hier onder ) – een waarmee die ou man maar moes fyntrap. Met een kleinseun in Eendrag en ‘n ander in Helshoogte wil jy nie op tone trap nie.
Ek glo darem my pleidooi vir respek vir andersheid, behoud van identiteiteit en weerstand teen die nastrewing van ‘n kleurlose kampus waar elke koshuis maar net ‘n bloudruk van al die ander is, sal niemand aanstoot gee nie, buiten dalk die “owerheid”.
Terloops, terwyl ander hul locus standi’s nou so aanhaal, meld ek in die verbygaan graag dat my skrywe kom van die oudste lewende voorsitter van Kollegetehuis (1962). Hoop dit gee my standpunt meer relevansie en gesag.
Hennie van Deventer, Melkbosstrand
Wilgenhof is ongetwyfeld mans genoeg om sy sy eie stryde te stry. ‘n Tikkie solidariteit uit Tukkiegeledere sal hopelik tog nie deur Wilgenhoffers “onwelvoeglik” geag word nie.
Ligsinnigheid kan immers net tot op ‘n punt geduld word. Wat darem hemeltergend te erg is, is om in alle erns die gedagte uit te spreek dat hierdie Matie-ikoon gesluit of ‘n vrouekoshuis moet word. Dit is heiligskennis verby.
Ek was ‘n lojale Kollegeman – inwoner van die U.P. se Kollege-tehuis – so ses dekades gelede. ‘n Geurtjie van berugtheid het ook om die koshuis gehang. Nagligte was gevrees . Modderbaddens, duiwelsdrek-pille, “gatpaarties” en “p-paarties” was ‘n eerstejaar se voorland. Motorfietse het by geleentheid in sy gange gebrul.
Soos Wilgenhof het Kollege nogtans voortgegaan om mense aan die samelewing te lewer wat weens hul agtergrond, karakter en waardes eerbiedwaardige burgers geword het.
Van die foto’s uit Wilgenhof se geheime binnekamers lyk vreemd, om dit sag te stel. Dalk is dinge te ver gedryf en is dit nodig om in die nuwe tydvak hokaai te sê. Maak dan reg wat verkeerd is, goed en wel, stel perke, handhaaf ‘n sekere orde, maar wees asseblief tog ook maar versigtig wees om nie onnodig op hol te gaan, allerhande spoke op te jaag en voor die voet te wil “regruk” nie.
Om alle andersheid op ‘n kampus as uit die bose te sien en blindelings ‘n identiteitlose kleurloosheid na te jaag, is werklik ‘n klassieke geval van om die baba saam met die badwater uit te gooi.