SEWE DAE BY DIE VAN D’S

Middag uit Melkbos

Sewe dae by die Van Ds is nie van dieselfde opspraakwekkende aard as “Sewe Dae by die Silbersteins” nie. Twyfel of selfs die ryke verbeelding van Etienne Leroux die valer alternatief prikkelend vir ‘n leser sou kon maak.

Een resultaat wat “ons sewe” dae wel het, is dat dit op die die uwe se badkamerskaal wys. Sedert HvD op ‘n gewigtige 117 kilogram die sewe-dae-siklus begin volg het (met een lang en verskeie korter onderbrekings), kom die digitale syfertjies op die skerm agter die glasvenstertjie soggens nou op só plus-minus 97 kilogram te staan. Bygesê al my klere, absoluut alles, lê dan in die gangetjie voor die badkamer gesaai, ek het klaar my oggend-draaie geloop en selfs my bril is van my oë af.

Buiten dat ek nou baadjies kan vasknoop wat ek lank nie sou waag om aan te trek nie, het ander newe-bonusse ook uit die ligter massa gevloei. ‘n Dreigende heup-vervanging is vir eers van die baan en ek het ‘n slaapmasker vrygespring. Die simptome van die slaap-apnee wat gediagnoseer is, verg nie meer kunsmatige asemhalingshulp nie, soos voorheen al gemeld. Kortom, ek snork nie naatenby soos eers nie!

Omdat ek nie in die besigheid is om diëte te bemark nie – diëte en bemarkers is volop genoeg! – gaan ek nie ‘n stap-vir-stap- of, eerder, ‘n dag-vir-dag-uiteensetting van die sewe-dae-program hier gee nie, buiten om te verklap dat ‘n bepaalde soort sop (met ‘n streng voorgeskrewe resep) ‘n basiese element is. Die sop vloei sewe dae in liters! Die dieet is inderdaad, kan ‘n mens maar sê, ‘n “sopstorie”.

Die ou Superman, wyle Christopher Reeves, het sy vrou (Emma, meen ek) die kompliment gegee dat sy ‘n hoender gaarmaak “that it is an honour to the chicken”. Vir Tokkie ditto t.o.v. hierdie wondersop (wat toevallig ook fyn hoender daarin het). Party mense kla hulle kry dit nie in hul lyf nie. Nadat my vrou klaar daarmee getoor het, sal ek daardie sop (a la Tokkie) waaragtig in ‘n restaurant bestel!

Verder eet jy hope groente (een dag minstens ses tamaties) en genoeg vars vrugte (een dag minstens drie piesangs). Op dag vyf eet jy biefstuk amper na hartelus, en een aand kry jy ‘n groot aartappel as beloning. Jy ly nie honger nie.

In daardie sewe dae is alkohol egter ‘n absolute nee-nee – nie eens ‘n kelkie wyn vir die pyn nie!

Ná sewe dae moet jy eers weer “normaal” eet, maar pas op: ”normaal eet” en “ooreet” is nie stalmaats nie. Gister op my eerste dag ná ‘n sewe-dae-siklus het ek dalk ietwat na laasgenoemde oorgehel. Die impak op die syfer agter die skaal se venstertjie is onmiddellik.

Dus: sewe dae, hier kom ek weer.

Laaste gedagte: “my” dieet kom oorspronklik uit Londen. Dit het in die Krugerwildtuin in Skukuza gaan draai: in ‘n stadium ook in die pastorie in Tsessebelaan. Nou-ja. ‘n dieet uit ‘n pastorie – met die nodige seënwense en só – behoort darem seker nie sleg vir ‘n mens te wees nie! (HvD)

UIT MY BADKAMER

Middag uit Melkbos

Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.

Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.

Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.

Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.

Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.

Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.

In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:

Badkamerskaal

Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn

‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.

Nou steek ek vir ou Dik Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.

Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie! (HvD)