VERTRAAGDE BUIGING NA VROUE-YSTERS 

Beeld-pioniers by die bekendstelling van die boek Beeld 50 op Kaapsehoop was o.a. Tina Swiegers en Ronelle Terre’Blanche.

Met hul spykerhakke en ander vroulike skoeisel het die evasgeslag diep spore in die SA joernalistiek getrap.   Die dood van Martie Retief bring die onderwerp op verskeie maniere na vore, van bewonderend tot verwytend.  Ja, die adamsgeslag moet plek-plek maar koes soos hul sondes van geringskatting hulle inhaal.

Erika de Beer, samesteller van die Beeld 50-boek, maak vanoggend in Die Burger ‘n buiging na Martie wat een van Beeld se pioniers was , asook na Elsa Kruger, vir hul rol om deur die glasplafon te breek.

Ek haas my om my by Erika te skaar.  As nuusredakteur van daardie eerste spannetjie Beeld-mense had ek ‘n strategiese venster op die aansienlike bydrae van vrouekollegas om daardie geliefde dagblad deur storms en sukkelwater tot wasdom te lei.

In daardie span was ook vroue-ysters soos Lorna Vosloo, Renée Rautenbach, Barbara Boshoff, Reinet Louw, Julia Brink,  Susan Booysen, Salome Jacobs, Ansi Brits, Lynette Dreyer, Anne Kruger, Mimi Badenhorst, Ronelle Terre’Blanche, Greta Vermeulen, Lynette Blignaut, Toni Simpson en Jelleke Wierenga. Ek noem die name in die volgorde soos hulle by my opkom en vergeet gewis sekeres van stoffasie, veral dié in die Pretoriakantoor met wie ek minder direk, maar nie met minder waardering nie, saamgewerk het. Tina Swiegers was een, meen ek.  Elkeen van hulle was ‘n staatmaker op wie se knoppie in elke omstandigheid gedruk kon word.

Sal ek byvoorbeeld vergeet watter rol  Renée Rautenbach gespeel het om die name van die passasiers op ‘n Lufthansavliegtuig  na ‘n ongeluk by Nairobi voor enigiemand anders uit te snuffel. En van kollegas soos Julia, Reinet, Elsa en Salome (om net ‘n paar te noem) was gereeld stories op die voorblad.

Met die Soweto-onluste in 1976 het ’n vreeslose wit verslaggeefster, Norah Steyn, haar gesig laat swart verf. Sy en ’n bode in wie se hande ‘n kamera gestop is, was twee  van Beeld se sterre met hul op-die-toneel-berigte en -foto’s van die oproerighede.  (Norah was egter nie een van die oorspronklike pioniers nie.  Ek meen sy het begin 1976 eers ingeval. Later het ook staatmakers soos Sarie van Niekerk en Marga Ley bygekom.)

In die biblioteek was Barbara en Mimi vir ons in daardie beginjare goud werd.  Jelleke het gou haar spore as redigeerder verdien.

Van hulle het later op ander terreine prominensie verwerf.  Susan Booysen het ‘n professor by die RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) geword en is dikwels, veral deur die SAUK, om politieke kommentaar genader. Ek is seker baie luisteraars sal daardie effe ongewone manier van praat onthou.

Julia het as Julia Viljoen redakteur van Huisgenoot geword. Elsa het haar as veelsydige joernalis aan vele fronte ontpop.

Ek is bly Erika roer die kwessie vanoggend aan en buk gewillig vir my aandeel van die slae wat subtiel aan die chauvinistiese mans van daardie era uitgedeel word.

In een opsig wil ek darem van Erika verskil.  Dis regtig nie na ons vroulike kollegas wat ons as “vroudele” verwys het nie.  Nee, die “vrouedele” was die vroueblaaie wat deur die vroueredaksies gepleeg is.

Naskrif: Terwyl ek hier skryf, kom herinneringe op aan twee fotomoleste in die begindae van Beeld.

Die Argentynse bokser Victor Galindez (die “Dier”) was in Suid-Afrika om teen Pierre Fourie te veg. In die (eerlike) strewe tot ‘n bietjie lewendigheid op ‘n stil dag stuur ek verslaggeefster Petra Pieterse om die “Dier” te gaan soen. Toe daardie soen in kleur die voorblad haal, was die gort gaar onder ontstelde vroulike redaksielede. Die nuusredakteur moes net koes vir al die verwyte oor seksisme.

My vertraagde maar opregte apologie, dames!

‘n Ander keer dat ek reikhalsend na die vreedsame Bloemfontein terugverlang het, was met die opening van ‘n groot winkelkompleks aan die Oos-Rand. ‘n Duisternis pryse is uitgeloof, onder meer vir die koper wat in die kleinste bikini opdaag. ‘n Jong, maer rooikop bedek net die noodsaaklikste met twee titseltjies lap. Ook die foto haal die voorblad.

Weer moes die nuusredakteur dit ontgeld – ook  van verontwaardigde lesers – hoewel die waaghalsige besluit om die wenner so prominent op ons koerant se voorblad te laat paradeer, eerlikwaar nie myne was nie. Die besluit is kort voor saktyd in ‘n ander kantoor geneem. Maar deur wie? Nee daardie kollega was stom.

SOMMER ‘N SUURPRUIM?

More uit Melkbos

Mooi staaltjie op vanoggend se boekeblad in Die Burger oor dr. Albertus van Rhyn se afwyking van ‘n voorbereide toespraak terwyl hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen was. Naas Steenkamp (oud-“laventelpister”/lid van die diplomatieke diens) vertel daarvan in sy boek “Op ‘n galop na Buckingham-paleis”, wat deur Martie Retief geresenseer word.

In die toespraak, voorberei deur Steenkamp, sou die HK (deesdae ambassadeur) uitwei oor Suid-Afrika se pad vorentoe onder apartheid. Hy steek toe die toespraak in die sak, met dié woorde: “I can’t see what my secretary wrote here”. Hy begin toe die grap vertel van Cleopatra wat in die woestyn is en Marcus Antonius wat aan haar tent kom klop. Cleopatra vra: “Who’s there?” Marcus Antonius antwoord: “Lady, I did not come to make a speech”.

Dieselfde gehoor, toe skaterend, is ingelig oor boererate. “Niks is beter as suurpruim nie as ‘n mens dalk sukkel om ‘n stiff upper lip te hou.” Van Rhyn het aan die einde staande applous gekry.

Darem jammer Martie (en seker dan ook Naas Steenkamp self) noem hierdie joviale Namakwalander net ‘n “eertydse politikus”. Hy was dit inderdaad ook, maar hy was 23 jaar redakteur van my ou koerant, Die Volksblad, in Bloemfontein. Van 1923 tot 1948. Meer joernalistieke bloed in daardie are as politieke bloed, sou ek reken!

Oor wie se skuld dit is dat die arme Volksblad (soos hy al jare heet) nie altyd raakgesien word nie, sal ‘n mens kan debatteer, maar hy word taamlik gereeld misken. Sondag was in Rapport ‘n korreksie oor die verkeerde antwoord op ‘n leidraad in sy Blokkiesraaisel waarin Volksblad ook aan die kortste ent trek. Die antwoord wat verlang word is dat Die Burger die oudste Afrikaanse koerant is. Hy is natuurlik nie. Daardie onderskeiding behoort aan Die Volksblad/Volksblad, wat sy ontstaan as Het Westen op Potchefstroom gehad het. Daar het hy in 1915 Het Volksblad geword. Sy rolpers is in 1916 per ossewa na Bloemfontein gebring op advies van genl. C.R. de Wet – romantiese storie.

Volksblad het dus in 2004 al sy hondertal gehaal; Die Burger (en die Nasionale Pers) se eeufees is eers in 2015. En amper ‘n kwart van daardie eerste 100 jaar was Albertus van Rhyn in die stoel (ek en Bart Zaaiman saam vir ‘n tweede kwart!).

Die 12 jaar dat ek in Bloemfontein redakteur was, van 1980 tot 1992, ag ek nog altyd as goue en gelukkige jare. Daardie koerant het veel om te roem. Sy veelbewoë geskiedenis verdien nie om onder die mat ingevee te word nie. Of is ek nou sommer ‘n “suurpruim”?

Naskrif: ‘n Raaispeletjie vir lesers wat Die Volksblad en sy mense ken: wie’s wie op Charl Marais se eeufees-spotprentjie? (HvD)