KYK WIE IS KAAL IN DIE STORT

Die KKNK se wiele rol weer ná twee jaar se doogte. Op die propvol program is onder meer Ek, Anna van Wyk met Tinarie van Wyk Loots in die hoofrol en Marthinus Basson as regisseur, lees ek vanoggend in Die Burger.
Mense met lang geheues sal kan terugdink aan die konsternasie met ‘n vorige produksie waarin Loots en Basson saamgespan het. Dit was in 2017. Krit, feeskoerant van die KKNK, het ‘n foto geplaas van ‘n aktrise in ‘n stort en plakkate oral op Oudtshoorn het uitbasuin: “KYK WIE IS KAAL IN DIE STORT!”
Die betrokke produksie was die volbloedkomedie Die koninkryk van die diere (Marthinus Basson se vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Das Reich der Tiere). Ná die applous doof die ligte. Net die akteurs bly agter. Maskers val. Hulle gaan stort, een na die ander, terwyl hul kollegas hul beurt op ’n bankie in die gemeenskaplike badkamer afwag. Kaal voor mekaar. Geen privaatheid. Geen inhibisies.
Nie die publiek was die keer verontwaardig nie, wel die aktrise, Tinarie van Wyk Loots. Volgens haar het sy nie toestemming gegee nie, en het Krit ‘n ooreenkoms verbreek. Sy het die redakteur, Danie Keet, kaalkop die waarheid vertel. Volgens hom is hy so sleggesê dat “nie die see, of selfs ‘n stort” hom sou skoon was nie.
Sy verweer was dat hy slegs onderneem het om nie foto’s reg van voor te plaas nie, dat die foto van ver af deur ‘n glasafskorting geneem is, en nie eroties of sensasioneel is nie. Media24 se ombudsman, dr. George Claassen, het hom gelyk gegee, en ‘n Pretoriase prokureur, Ferdinand Hartzenberg, het die regsmening bygedra ‘n aktrise wat haar in die openbaar ontbloot, haar reg op privaatheid verbeur. Sy het bitter ongelukkig gebly.
Om in 2022 semi-kaal of selfs poedelkaal voor die kamera of op die verhoog te verskyn, is natuurlik niks ongehoord meer nie. Mens – mans en vroue – doen dit links en regs, sommer altesaam en deumekaar. Maar dit was nie altyd so nie. Trouens, tot heel onlangs nog is met skok gereageer. Wanneer ‘n baken in die opsig verskuif word, was sensuur gou-gou jou voorland.
Met die dood van Frans Marx in 2021 is herinner dat hy, wat die rol van die lompe Willie vertolk het, in die fliek Jy is my liefling (Kavalierfilms, 1968in ‘n naaktoneel in ‘n buitestort verskyn het. Dit was glo die eerste naaktoneel in ‘n Afrikaanse prent waarin ‘n man verskyn het. Sy onthou die konsternasie toe fliekgangers die toneel sien, vertel Min Shaw, ‘n medespeler.