HEILDRONKE LANGS SABIE

Ons klink ‘n glasie Nuy by die piekniekplek. 

‘n Rede vir ‘n heildronk langs die Sabie ontbreek nooit. Basiese rede: net die vreugde van daar wees.  Twee uitmuntende redes het hulleself pas aangebied. Vir eers is dogter Marisa Claassens se 50ste op Vrydag 5 Julie heeldag lank gevier.  Ten tweede is ‘n glasie vonkelwyn geklink op die tydskrif Sarie wat op  6 Julie 75 jaar gelede as Sarie Marais haar elegante buiging gemaak het.

Wat “Sarie” relevant maak, is dat “Maanlig op die Sabie’’ deur Tryna du Toit van die liefdesverhale was in die heel eerste Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949 verskyn het. Die liefde bloei in Tryna se storie in die Skukuza-ruskamp van die Kruger-Wildtuin na allerlei teenspoed en misverstand – soos dit dikwels maar met storieliefdes gesteld is.

Selfs op ouderdom 83 en op meer as 50 besoeke aan Sabiepark lewer die bos nog nuwe ervarings op. Soos hierdie een:

Iets om te verklaar? vra die hekwag by die Krugerhek van die wildtuin

“Net die twee apies agterin,” antwoord skoonseun, Brent. Die “apies” het hulle maar die grappie ten koste van hulle laat welgeval.

Ma en dogter, Tokkie en Marisa, het daerem self verkies om daar te ry. Dit was nie manlike chauvinisme in aksie nie. En die Honda het nou maar eenmaal net gemakliker sitplek vir vyf. Ons was sewe vir die toggie Skukuza toe vir middagete.

Om op die stoep te sit en rugbytoets kyk terwyl die son eers die lug agter die rekenaarskerm rooi  verkleur voordat die donkerte toesak, was ook ‘n eerste.  Ons het ons “losie”genoem die Loftus-anneks. Gelukkig wen die Springbokke toe oortuigend. Die agternabraai sou niks lekker gewees het as die Iere bobaas was nie.

Nog ‘n eerste was kleinseun Jacob se netjiese Operasie Likkewaan met ‘n leertjie en ‘n braaitang.  Die dierasie was briesend met sy lang tong flitsend toe toegang tot die grasdak hom ontneem word. Waar hy in die veld losgelaat is om ‘n nuwe tuiste te vind, het dit hom seker berou dat sy naels sy teenwoordigheid op die Harveyteels bo-op die gras aan die wakker seuns verraai  het.

Om die tradisionele spanfoto by die Tarlehoet-naambord  neem, moes ‘n vernuftige plan prakseer word. In die afwesigheid van iemand anders om die knoppie te druk, is ‘n kombuisstoel en ‘n koffer met die motorpad afgepiekel. Daarmee is ‘n heel doeltreffende “driepoot” vervaardig.

Wat die eerste keer saamgekom het bos toe, is kleinseun Christopher se indrukwekkende bergfiets.  Daarmee is la-a-ang oefenritte voor ontbyt op die Hazyview-Krugerhek onderneem.  Om die aftakeling van die fiets te aanskou voordat dit in ‘n enorme spesiale sak geprop is vir die vlug terug Kaap toe het hierdie ou man se oë laat rek.

‘n Troppie van 20 of meer njala-ooitjies het ons op ‘n wildrit saam met die driemanskap Jacob, Thomas en Christopher naby Lake Panic by Skukuza begroet. Nog nooit soveel van die oulike bokkies op ‘n hoop gesien nie.

En ons 2024-wintervakansie is vandag eers ‘n week oud.

Naskrif: Die nagapies kom soos vanouds  en die bloukuiloeries is bedrywig in die rosyntjiebosse.