STUK BROOD EN SLUK GIN

In ‘n land waar ontbering nie skaars is nie, moet ‘n mens sensitief wees en mooi nadink voordat jy jouself weens ontbering bejammer.

Gister, met vele Kerstafels rojaal oorlaai met die geurigste geregte, moet ek egter weer met ‘n skewerige bittersoet-glimlag van ‘n buitengewone Van Deventer-Kersfees onthou. ‘n Stuk oorskiet-toebroodjie en ‘n sluk Gordon’s was op die spyskaart. Net dit.
So gekom: Weens vrot huiswerk (geen huiswerk) bevind die uwe, Tokkie en dogter, Marisa, hulle oor Kersfees 2000 (of daar rond) in Londen. Dis nat en koud. Die donkerte sluip elke dag vroeg in en oorval jou as jy meen die middag is nog ver van verby.
Ons woon in ‘n bekostigbare woonstelletjie in St. John’s Wood, ‘n aangename woonbuurt net drie kilometer of so van Piccadilly Circus in goeie omstandighede. Die plek is veral bekend as tuiste van die beroemde krieketveld Lord’s, asook die ateljee in Abbey Street waar die Beatles, liewe Beatles, plate gemaak het. Op Kersdag wanneer alle openbare vervoer in die Groter Londen tot stilstand knars (inderdaad), is dit egter bra stil en afgesonderd: nie die beste plek om te wees nie.
Ons pak ons omgewing in St.John’s Wood op ‘n grou Kersdag te voet aan op soek na ‘n plekkie vir ‘n lekker Engelse ontbyt met spek en eiers. Op ons eindelose roete langs ‘n natuurreservaat of ‘n ding loop ons egter geen kroegerigheid of iets dergeliks raak nie.
Trouens, met moed wat al verder in ons skoene sak, dring die besef deur dat ons ons klaarblyklik in totaal winkellose sone bevind. Geen kafeetjie op die hoek eens waar ‘n polonie of ‘n vruggie aangeskaf kan word nie.
Ons beur teen die nat koue in al op ons spore terug na ons woonstelletjie, word op pad deur ‘n geniepsige bui oorval, en kom koud en bedremmeld tuis.
‘n Opname van te ete en drinke is ontmoedigend. Ons was die vorige aan by die Kersdiens in St. Martin’s in the Field langsaan die SA Huis by Charing Cross. In ‘n soort kelder-eetplek is agterna ‘n toebroodjie en sop genuttig. Een broodjie het oorgebly en is vir die wis en onwis saamgevat huis toe.
Enigste drank tot ons beskikking is so ‘n paar vinger jenewer in ‘n bottel wat onheilspellend suidwaarts sak. In die yskas is darem ‘n blik limonade.
Ons breek toe die toebroodjie in drie, deel die jenewer en limonade in drie en kry onsself diep jammer. Dit word ‘n lang dag. Eers op 26 Desember, Boxing Day, loop die busse en treine weer. Londen hier kom die Van Deventers!
(Vra hoekom ons nie ‘n taxi gevat het nie. Wel buiten dat ek gehoor het tariewe is Kersdag dubbeld, was daar ook die onverklaarbare bydraende faktor dat ons nergens een sonder passasiers teengekom het nie.)
In elk geval, my raad aan mense wat ore het om te voor: Dink mooi voordat julle vir Kersfees Londen toe gaan. Dink nog mooier voordat julle in St. John’s Wood gaan bly. Koop in hemelsnaam vir julle kos terwyl die winkels oop is en die wiele rol.
Moenie agterna by my kom huil as julle op die harde manier ontdek het die ou man praat die reine waarheid nie.

VERDWAAL, VERWARD EN VERLORE

Op Sondag 26 Desember 1976 sou ons vroeg in die pad val na Florida, “Sonskynstaat” aan die suidpunt van Amerika. Toe ek die kamergordyne in Cambridge, Massachusetts, oopskuif, wag ‘n asemrowende toneel. Die “wit Kersfees” waarop ons vergeefs gewag het, het toe in die nag opgedaag. Dis ‘n sprokiesland (foto).
Die bonus is nie sonder komplikasies nie. Natuurlik moet ons eers rondry en ‘n klomp skyfies (let wel) neem. Ons kom dus ure later in die pad as wat ons gehoop het. Die donker vang ons. So ontstaan die eerste teenspoedjie van ‘n hele paar op daardie gedenkwaardige vakansie.
Nommer een is toe die Cornona se ligte op ‘n padversperring val. Die pad is gesluit weens ‘n swaar sneeuval. Met baie vra en verkeerd ry kom ons laataand op Maartensville, Virginia – maar ‘n kleinerige plekkie.
By die eerste die beste motel verneem ek: “Waar’s die naaste kampeerplek in die geweste?” “Nee,” sê die eienaar, “dis nog bitter ver. Hoekom slaap julle nie sommer hier nie?”
Ek beduie die geldjies is maar skraps. “Wag,” sê hy toe, “ek is net verlede week getroud, en die bruilof was hier agter in twee groot kamers met en suite-geriewe. Julle kan dit kry vir $5 as julle nie omgee dat daar nog allerhande goeters rondstaan nie.
Daardie nag slaap ons toe skoon geskrop in sagte warm beddens met ‘n yslike koperkandelaar met hope kerse en welige palms in potte by ons voetenent (foto) – ons deftigste slaapplek van die reis.
Nou’s ons agter skedule en moet maar ‘n bietjie aanstoot. Op die “Skyline Drive” in die Shenandoapark gewaar ek in my truspieël ‘n kragtige Amerikaanse sessilinder. Op sy dak is daardie langwerpige ligaffêring wat verklap dis ‘n man van wet en orde agter die stuur.
Die kêrel lyk haastig. Hy is seker op iemand se spoor. By die eerste afdraaitjie swaai ek bedagsaam links in. Hy agterna. Ek klim dadelik uit en begin sommer dadelik ekskuus vra. “Sorry, sir, I did not realise …”
Net toe  leer ek iets van wetstoepassing op Amerikaanse paaie. “Get in your car, gebied hy. “And stay there.” Maklik vyf spannende minute verloop. Toe kom hy nader. Hoekom ry ek so vinnig? Wil ek een van hul bokkies doodry?” Die uiteinde is ‘n streng waarskuwing en ‘n “have a nice day”.
Die lang wag, verneem ek later, was om my hele “pedigree” op sy rekenaar op te roep. Op die manier wis hy ek is ‘n wildvreemdeling in Jerusalem.
Amper ‘n dag laat kom ons in Miami aan, en gaan soek ons in ‘n hoekkafee ‘n koffietjie vir ons dorstige kele. Toe ek wil ry, is die stasiewa se sleutels nie in my sak nie. Dit is binne die kar toegesluit. “Don’t stress,” sê die kafeebaas. Hier in die “drug store” langsaan is ‘n ou wat handig is met ‘n draad-klereskouer. Gedoriewaar, binne minute wikkel hy ‘n ruit oop.
Wat skuld ek? “Nothing buddy, but be careful, I’m not around all the time.”
Op Oujaarsdag 1976 maak die Van Deventers kennis met Disney World in Orlando. Kenners het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, is ons dus in die voorhoede. Heel gou is ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek op 31 Desember by 57).
Kleinsus se opvoustootwaentjie is by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart is dit spoorloos. Vir ‘n kort rukkie plaas dit haar op haar beentjies. Die res van die dag bring sy sy op haar pa se arm deur, boonop nie in ‘n lekker bui nie weens haar verlies.
So minus Marisa se wiele word dit dit ‘n vermoeiende 12 uur. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers is kort maar intens. Eers wil hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking is dramaties. Mamma gryp die kleintjie en laat vat. Pappa storm agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel (foto).
Vroeër die dag was ons op ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disney World.

PAPPA DRA SWAAR OP OUJAAR

Op Oujaarsdag 1976 was die Van Deventers se kennismaking met Disneyworld in Orlando, Florida: die “Magic Kingdom” van Micky Mouse, Goofy, Winny the Pooh en diesulkes. Die dag was nie sonder sy uitdagings nie.
Kenners van Disneyworld het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, was ons in die voorhoede. Op ‘n drafstap is ons deur die Disney-kammawệreld reguit “Fantasyland” toe. (Daar was ook nog ‘n Adventureland, Frontierland, Tomorrowland en Liberty Square.)
Heel gou was ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek vandag by 55).
By die “20 000 Leagues Under The Sea” is kleinsus se opvoustootwaentjie by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart het ellende gewag: die stootkar was spoorloos. Vir ‘n kort rukkie het dit kleinsus op haar beentjies geplaas. Die res van die dag was sy op haar pa arm, boonop nie in ‘n lekker bui weens haar verlies.
Nou-ja, die “koninkryk” is 11 000 hektaar groot; groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek had ‘n eie “vloot”: ‘n armada van 200 skepe. Net Amerika, Rusland, Brittanje en Frankryk kon met meer duikbote spog. Om dinge te kompliseer, het Mickey se domein die dag ‘n rekord-getal van 80 000 besoekers gelok.
Om die kroos by Mickey af te neem, was een van die dag se prioriteite, maar weens die malende mensemassa een van die logisties beproewendste uitdagings van ons besoek. Vasbeslote moeders het geveg soos tierkatte om hul afstammelinge met geweld bo-oor en dwarsdeur ander kleingoed te stamp vir ‘n eksklusiewe foto.
Ma Tokkie, Johan en Marisa was net mooi in pa Hennie se korrel, toe Marisa skielik kamerakoors – of dalk muiskoors – ontwikkel. Nietemin, die foto is uiteindelik geneem en hang nog altyd hier op Melkbos. Vanaand sal ons ‘n glasie lig op die vriendelike muis met die groot ore, 45 jaar na daarde gedenkwaardige dag.
So minus Marisa wiele was dit natuurlik veral vir vader ‘n vermoeiende 12 uur. Glo my vry. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers was kort maar intens. Eers het hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking was dramaties. Mamma het die kleintjie gegryp en laat vat. Pappa is agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel.
Een van ons aangename herinneringe vroeër die dag was ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums.
Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disneyworld. Tot by ons motel en nog later die aand het ek daardie wysie bly neurie en oor die wesenlike waarheid van die woorde gemymer. “I’ts a small world after all”, is dit nie?