BEWOË PAD VAN ‘n BOBAAS-BRAAIER

Hennie en Manie vat mekaar se hande bo-oor die rokie wat van die braaivleisvuur opdwarrel.
“Dis lekker. Ek is warm, ek geniet die vuur” [Jes. 44:16(b)].
Die veelbewoë lewensloop van ‘n dienswillige skottelbraaier – sy naam: “Manie se braaier” – verdien om met die hoogste eer (summa cum laude) in die annale opgeteken te word.
Die verhaal van “Manie se braaier” is een van taaie onwankelbaarheid oor drie dekades heen. Sy herkoms, sy simboliek en sy sleutelrol by allerlei rituele het die soliede driepoot-ystermeneer in sekere kringe met ‘n amper ikoniese status beklee.
Toe gebeur ‘n reeks bittersoet onvoorsienbaarhede wat van hom nog dwingender storiemateriaal maak …
Eers ‘n stukkie geskiedenis wat die naam verklaar. Manie Steyn was ‘n boesemvriend en koshuismaat uit my Tukkiedae rondom 1960. Die twee studentemaats het huisvriende, wildtuinvriende en waarderende kollegas by die Nasionale Pers geword.
Vir Manie en die vooroorlede Sannie Graaff het ek 70 jaar gelede, in 1964, as seremoniemeester hul huweliksbootjie op Reitz help lanseer, en 30 jaar later weer vir hul seun, Manie Junior (Klein Manie), en Claudie Hartman op Krugersdorp. Dit is die enigste pa-seun-kombinasie by wie se huwelike ek so betrokke was.
Toe my diep-vriend 70 word, het ek uit die Kaap Johannesburg toe gevlieg vir ‘n heildronk. Op 80 weer. So heg was ons bande.
Ons was op vele onvergeetlike wildtuinbesoeke saam van die 70’s af, van Berg-en-Dal tot by Pafuri, dikwels in een voertuig. Op een het Manie die gier gekry om vir hom ‘n skottelbraaier op die patroon van die wildtuin s’n te laat sweis: net met hoër pote, ‘n groter skottel, ‘n frisser rooster en ander spesiale eienskappe soos ‘n diensblad, ‘n potjiekos-gerief en wiele.
By die Steynwoning, Davidstraat 44, Constantiakloof, Roodepoort, het daardie gedugte braaier geruime tyd sy spore verdien. Manie was altyd ’n entoesiastiese braaier. In die 90’s het die tyd aangebreek om af te skaal en het die Steyns na ‘n kompleks op Krugersdorp verhuis. Toe kry Manie ‘n ingewing: sy speelding moet na my bosplek in Sabiepark toe as durende simbool van die Van Deventer-Steyn-verbintenis. ‘n Neef van my, wyle Ben Smith van Randburg, het hom met sy Nissan Sani hierheen karwei.
In my lapa in Wildevylaan het die geskenk van Manie ‘n staanplek gevind, en in die kwarteeu plus sedertdien is ‘n fris vrag tjoppies en wors op sy sterk rooster op die kole gesit. Rondom hom het Kollegemanne van ons era male sonder tal by klein, intieme reünies met ’n glasie goed verouderde rooi in die hand ons liefde vir ons koshuis op die Tukkie-proefplaas met die Kollegelied betuig:
Aan het oever van het Schelftzee / tussen Delft en Rotterdam / Zat een verie luid te wenen / met een Matie vuur en vlam / Zag het verie aan het Matie / Ziet je daarde Kollegeman? / Ben de moord’naar van je vader / Neuk hem op so goed jij kan / “Ag verdomme,” zeg de jonge / heeft de donder dat gedaan / Wag maar tot ik even groot ben / Zal hem op zijn donder slaan!
By die braaier is alleen onder die sterre langbeen gesit en mymer, met vriende slimmighede, kwinkslae en anekdotes uitgeruil en uitgelate gelag, asook “raasdae” (‘n vriend se woord vir verjaardae) en herdenkings saam met kinders en kleinkinders gevier. Gewyder oomblikke was daar ook, soos wanneer mede-Sabieparker Dawie Strydom by ‘n flikkerende vuurtjie op sy mondfluitjie “God sy met u tot ons weer ontmoet” as ‘n ”in memoriam” aangehef het.

Heildronk op die tweede asem van Manie se braaier.
Manie self was verskeie kere in hierdie geselskap, ook na Sannie se dood. In Sabiepark was ‘n spesiale “Manie-suite”. Dit is die beknopte buitekamertjie wat syne geword het toe die trappe vir hom te veel geword het. In Julie 2014 was hy die laaste keer in die “suite”. Elke aand is ’n vuurtjie aangesteek.
Om so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ’n emosionele okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ’n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het. In die gasteboek het Manie geskryf: “Baie dankie vir ‘n leeftyd se vriendskap”.
Later het sy gesondheid al hoe meer begin lol. Die laaste ruk van sy lewe was hy aan sy bed vasgekluister weens rugprobleme en ander komplikasies. Hy het swaar gekry, maar sy vegtersgees het hom tot die einde toe nie verlaat nie. ‘n Blymoedige laggie het steeds opgeklink toe ek hom net dae voor sy dood bel. Hy is in Maart 2023 oorlede, kort ná sy 83ste.
Dat ek nooit weer saam met die joviale, kleurryke en spitsvondige vriend met sy eiesoortige humor en taalgebruik langs ‘n vuurtjie sal kan kuier nie, was ‘n loodsware gedagte. Aangedaan onthou ek toe helder een oggend toe Manie uit Sabiepark huis toe ry. Op daardie oomblik swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse totsiens. Soos daardie visarend s’n was my groet gelaai met ‘n diepe melancholie: Totsiens, my liewe maat Manie.

Vlammetjies flikker vrolik in die herstelde Maniebraaier.
By een foto van die vir-oulaas-kuier steek ek vas. Ons twee vat mekaar se hande bo-oor die rokie wat van die braaivleisvuur opdwarrel. Ons lyk gelukkig en ons was, want ons het mekaar se geselskap tot op ons oudag opbeurend gevind.
Nie lank na Manie se dood nie, het Manie Junior vir my ‘n besonderse mes – ‘n vlymskerp springmes uit Spanje – Melkbosstrand toe saamgebring in opdrag van sy pa twee dae voordat hy dood is. Die waarde wat ek daaraan heg, is natuurlik geweldig.
Manie Junior, nou ‘n man in sy middel 50’s, ken ons van sy babadae. Die kontak met hom het ná eers sy ma se dood en daarna sy pa s’n nie doodgeloop soos so dikwels gebeur nie. Ons spreek trouens dadelik af dat hy en Claudie in Augustus in Sabiepark sal kom kuier. Die Maniebraaier staan gereed.

Manie se braaier is terug op sy pote. Jandré Geldenhuys lewer die herstelde produk af.
Net twee weke voor die kuier wil ek die braaier skuif. Skielik vou twee van die drie bene potsierlik onder hom, flenters geroes. Ramp der rampe. Met die hoop nie te hoog nie, gaan klop ek by Sabiepark se werkwinkel aan waar ‘n hulpvaardige Jandré Geldenhuys belowe om te doen wat hy kan.
En, genade bo genade, drie dae later bring Jandré hom met sy wit bakkie terug – ‘n splinternuwe sikspens as’t ware danksy Paulus se sweiswerk. Laat Manie en Claudie maar kom. Maar toe die grote ironie. Dit kom in ‘n kort, hartseer-selfoonboodskap: Die Steyn-besoek moet afgelas word weens dwingende mediese redes. Alles tevergeefs, het die Prediker mos al gewaarsku.
Hoop darem nie heeltemal alles was tevergeefs nie; dat ek nog ‘n hele paar vuurtjies in die herstelde braaier sal kan opsteek – en elke keer terugdink aan goeie tye.
‘n Hand op die skouer dui gewoonlik op hegte vriendskap. Wat ‘n voorreg was dit nie om in ‘n verbintenis van 60 jaar plus sovele kere hand om die skouer saam met Manie Steyn afgeneem te word: op Tukkies, in die Wildtuin, in Sabiepark, by hul mooi klinkerhuis in Roodepoort, as kollegas by Naspers, waar ook al.
Ons vriendskap het begin in Kollege-tehuis op Tukkies in 1960. Dit was net die begin. Ons twee studentemaats het huisvriende, wildtuinvriende en kollegas geword. Ek was seremoniemeester by sy huwelik met Sannie Graaff in 1964 op Reitz en weer by die huwelik van Manie Junior en Claudie in 1994 op Krugersdorp. Toe Manie 70 word, het ek uit die Kaap gevlieg vir ‘n heildronk. Op 80 weer. Hy het my ”Div” en “tjom” genoem en ek vir hom “Mac” – eretitels.
By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar (1960) noodgedwonge gaan inbreek. Manie Steyn is saam vir morele en fisieke steun. Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in. Die inbraak was nie met kwade bedoelinge nie. Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd. Ek is Manie tot vandag dankbaar vir sy morele en fisieke steun. ‘n Goeie punt vir daardie taak was onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.
Manie was ‘n MBA-man – ‘n voorslag-bestuurder. In sy vroeë loopbaan by Ster-Kinekor was hy gereeld in Hollywood om kontrakte te sluit. Toe stamp hy en Sol Kerzner koppe. So het hy hoofbestuurder van Naspers se Nasionale Kolleges geword: ‘n gewaardeerde kollega. Een kollegiale vreugde was ‘n bestuurskonferensie in die Namib, by Swakopmund. En daar wen die twee tafelmaats elk ‘n gesogte beker!