TWEE ETES, TWEE MANDELAS

Aan die een kant die gulle glimlag, die gemoedelikheid en charisma. Aan die ander kant die kilheid en die skerp tong van kritiek en veroordeling.
Hierdie ambivalensie in die komplekse geaardheid van Nelson Mandela verkies van sy bewonderaars om onder die mat te vee en te maak of dit nie bestaan nie. Tony Leon gee dit lug in sy nuwe boek “Being There” waarvan ‘n uittreksel vandag in By in Die Burger verskyn.
Met die lees daarvan herroep ek twee ontmoetings met die oud-president wat die Leon–profiel van hom sterk ondersteun. Albei was in Nasionale Pers-verband. Die atmosfeer van die een het soos dag en nag van die ander verskil.
In Maart 1993 is aangesit om ‘n bord spek en eiers ‒ maar darem nie vir Mandela nie, omdat hy bra Spartaans ge-eet het. ‘n Naspers-delegasie van sewe het vir Mandela, Thabo Mbeki, Pallo Jordan en Carl Niehaus (as “token” Afrikaner!) ‘n ontbyt in die kantore van Nasionale Tydskrifte in Sandton aangebied.
Die Pers se span was onder leiding van Ton Vosloo en het naas die uwe van Koerante ook die hoof van Tydskrifte, Salie de Swardt, die redakteurs van Beeld, City Press en Finansies & Tegniek, Willie Kühn, Khulu Sibiya en Gert Marais, asook Barney Cohen, uitvoerende redakteur van swart tydskrifte, ingesluit.
Die gees was gemoedelik. Mandela se toesprakie sonder enige dorings. Toe geskenkies uitgedeel is, was dit die ene glimlagte, soos die foto van die geleentheid getuig.
Nadat Mandela President geword het, het sy program natuulik al hoe voller geword. Die Pers het weer probeer, en hard probeer, om hom as eregas by ‘n spesiale geleentheid te kry. Een keer, in Pretoria, het ‘n reëling op die tippie deur die mat geval. ‘n Ander keer, in Kaapstad, ditto.
Die Pers moes maar geduldig sy beurt afwag ‒ tot ‘n direksie-ete in sy eetkamer in Kaapstad op 9 Oktober 1997. Dit was ‘n dag wat die direksie en die topbestuur nie lig sal vergeet nie.
Om mee te begin, is die eetkamer op die 18de verdieping die vorige nag oorstroom nadat ‘n warmwatertoestel gebars het. Die matte was deurweek. Daar is koorsagtig gewerk sodat die ete kon voortgaan.
Ten tweede was daar ‘n helde-ontvangs in die straat en in die voorportaal soos nog nie by die Naspers-sentrum gesien is nie.
Ten derde was daar Die Toespraak. Dit was ‘n driftige een, wat in trant en gesindheid heelwat anders was by die ontbyt. ‘n Verharding teen die pers in die algemeen was teenwoordig – in die geval van die Afrikaanse pers duidelik nog ‘n paar kerfies hoër.
Kritiek, veral uit die oord van ‘n Afrikanerdom wat, volgens die President, “baie gehad het om oor nederig te wees”, was nie juis welkom nie. Dit het gou duidelik geword. Ons koerante is ook gekap oor wat hy genoem het “’n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie” ‒ ‘n tema wat hom so meegevoer het dat die voorbereide teks maar selde geraadpleeg is. Die horlosie het ver verbygeloop by wat die gewone duur van so ‘n etenstafel-toespraak is.
Vosloo het verbaas, maar waardig, geantwoord. Verskeie Naspersers was gesteurd, nie om gekritiseer te word nie, maar om by ‘n welwillendheidsgeleentheid so slae te kry. Ek het gedink Mandela was onbillik en het hom aan veralgemenings besondig. Hy kon ten minste na City Press ‘n buiging gemaak het. Die het hom altyd net op die hande gedra.
Om sout in die wonde te vryf, het die geskenk waarmee baie moeite gedoen is, met die vertrek eers vergete gebly. En dit was nie ‘n klein pakkie nie! Wat Naspers vir Pres. Mandela present gegee het, was ‘n collage van vier historiese koerante wat die verhaal van die ANC se magsverowering stap vir stap uitbeeld ‒ ‘n replika van een wat ek vroeër vir my kantoor laat maak het. Wonder nogal of dit ooit iewers opgehang is.

DIE BURGER, MANDELA EN DIE WIT DUIF

‘n Wit duif styg sierlik op. Op die oog af ‘n treffende nommerpas-voorbladfoto vir ‘n historiese dag:  die inhuldiging van Nelson Rohlihahla Mandela  as Suid-Afrika se eerste swart president. Iets skort egter met die foto op ie Burger se voorblad.

Drie raaiskote.  As jy raai, dit het met Mandela te doen, is jy koud.  As jy raai, die fout lê by die duif, raak jy lou. Raai jy dit het te make met die posisie van die duif. Is jy warm op die spoor. Op die oorspronklike foto – ‘n scoop vir Burger-fotograaf Henk Blom – was die duif naamlik al ‘n entjie verder weg.

Die hoofsubredakteur besluit toe om  die foto te “dokter”.  Wat maak ‘n meter tog saak, het sy geredeneer. Maar sy het haar misgis.  Oor daardie meter het ‘n joernalistieke storm losgebars wat internasionaal weerklank gevind het.

In “Elke dag ‘n mooi nooi en n moord”’is ‘n afdeling oor fotograwe en fotografie. Die titel is In Fokus.  Ook die storie van die duiwemoles – een van twee waarin ’n Suid-Afrikaanse staatshoof betrokke was – word vertel.

Die boek is by boekwinkels wat hul sout werd is. ‘n Maklike manier om hom te koop: besoek eenvoudig net die uitgewery Naledi se webblad by naledi.co.za en druk ‘n knoppie of twee. Andersins: bel Tertia Swart by 078 648 8616 of stuur ‘n e-pos na tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 by jou voordeur afgelewer.

*********

litnet publiseer elke week ‘n digitale Nuusbrief. ‘n Verduideliking is seker onnodig hoekom Nuusbrief 953 van 9 Junie 2023 hierdie ou se gunsteling-litnet-Nuusbrief van alle tye is.

HVD 4: IN DIE VOORSTE RY VAN ‘N TAMAAIE ERA

In die geselskap van rolspelers van die era.

Om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis op ‘n werklikheidskerm voor jou verbyrol. Dit is die bonus wat ‘n koerantredakteurskap bied. In die 80’s (en 90’s) het die tempo en intensiteit van politieke geskiedskrywing ongekende vlakke bereik. Dit was nie ‘n maklike tyd nie. Vir my was dit fassinerend – ‘n tamaaie era.

Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was aan die orde. Swart nasionalisme het ‘n brullende leeu geword. Stakings, optogte, opstande, onluste en bloedige konfrontasies was daaglikse spyse. Terreur sou lelike afmetings aanneem. Die Kerkplein-bom in Mei 1983 het harder geslaan as elke ander terreurdaad. Winkelsentrums, kerke en eetplekke is ook geteiken.
Die bosoorlog het gewoed. Al hoe meer jong Suid-Afrikaners het “aan die grens” gesneuwel. Fidel Castro se Kubane het in hul tienduisende na Suider-Afrika gekom om Swapo te help. Hakkejag-operasies oor buurgrense het die spanning tot breekpunt opgejaag. Die internasionale gemeenskap het die skroewe al hoe stywer begin aandraai. Boikotte, sanksies en isolasie het toenemend ‘n beleërde Suid-Afrika se voorland geword. Die land was was struikelend op pad na onregeerbaarheid.
Die Nasionale Party, tradisionele politieke tuiste van die Afrikaner, sou in 1982 skeur. Die Konserwatiewe Party van dr. Andries Treurnicht het elke verkiesing sterker geword. Op 6 September 1989 het die KP so hittete die NP in die Vrystaat uit die kussings gelig.
PW Botha het steeds met ‘n ysterhand regeer, maar met sy beroerte in Januarie 1989 het hy sy greep verloor. Ná dae van hoogspanning het sy mantel op FW de Klerk geval (‘n scoop vir Die Volksblad danksy Alf Ries). ‘n Nuwe presidentskap met ‘n nuwe visie het op die toneel gekom. Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap.
Beswaardes oor die destydse politieke verloop knoop hul verwyte teen Afrikaanse koerante graag aan by die huidige gemors waarin die land verkeer. Die koerante word vir vele misstande blameer. Hulle sou dan oorgeesdriftig gewees het oor hervorming en het dan saam met FW de Klerk die land weggegee. Hoe die kritici realisties kan dink dat ‘n piepklein minderheid in heersende omstandighede aan die mag sou kon vasklou, is bo my begrip.
Aan die teenpool kom die beskuldiging dat die koerante as stoere kampvegters vir apartheid bly optree het; dat hulle sterker moes gedruk het vir vinniger hervorming. Daardeur word hul sleuterol as drywers van hervorming eenvoudig veronagsaam. Die grense van lesers se ontvanklikheid vir nuwe politieke insigte is deur die koerante gedurig tot breekpunt, en selfs verby breekpunt, getoets.
So fel en bitter was die “familietwis” tussen pro- en anti-hervormers – waarlik ‘n “tweede Boereoorlog met Boere aan albei kante” – dat die koerant toenemend ‘n teiken van regse wrewel geword het en die redakteur self as persoon in die stryd ingesuig is; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” beskouinge getreiter en vanuit die AWB met die dood gedreig. Dit was ‘n klippekou-tyd wat van ‘n redakteur meermale groter wysheid as die beskikbare geverg het!
Vir die intense politieke rol waarin hy gewerp is, kon Die Volksblad natuurlik nie terugdeins nie. Trouens, dit het hom ook al hoe meer op die nasionale toneel na vore gedwing. In TV-debatte en elders is die Vrystaatse stem al hoe meer gesoek. Een TV-debat was op die vooraand van die referendum oor die driekamer-bedeling in 1992. Die redakteur is ook genooi vir ‘n eerste TV-gesprek met Nelson Mandela ná sy vrylating. Ek sal lieg as ek ontken dat ek daarvan gehou het.
Hand aan hand het Engelstalige koerante toenemend van Die Volksblad se standpunte kennis geneem. Oor die onregverdigbare diskriminasie teen Indiërs was hy op die oorlogspad. Hy was eerste om te sê dat die begrip ‘magsdeling’ gerus maar aanvaar kan word. ‘n Ope brief aan PW Botha op die voorblad van Maandag 7 Mei 1990 het heelwat opspraak gewek. “The most unusual way of editorial comment,” het die perskommentator van die Cape Times, James McClurg, dit genoem
By nasionale konferensies, kongresse en simposiums het saampraat-geleenthede ontstaan; ook by buitelandse konferensies in o.m. Londen, Wiston House in Surrey en Parys. So is paaie met dié van ‘n jong Thabo Mbeki gekruis. Kontruktiewe bande het ontstaan wat voordele ingehou het. Die Volksblad kon byvoorbeeld dié ANC-voorman, toe hy onder blankes nog ‘n relatief onbekende was, na Bloemfontein nooi vir ‘n private voorligting aan uitgesoekte meningsvormers.
Hoe het Die Volksblad die toets geslaag? Dit is iets waaroor ek nogal baie getob het. In my laaste direksieverslag het ek ietwat swaarmoedig gerapporteer: “Die grootste teleurstelling (mislukking?) van daardie skof was ongetwyfeld die onvermoë om die vertroue, geloofwaardigheid en selfs liefde wat Die Volksblad deur die jare in sy gemeenskap verwerf het, om te sit in steun vir die koerant (en die land) se ‘nuwe politiek’.”
“Iets is verkeerd gedoen,” het ek hand in eie boesem gesteek. “Hopelik bring tyd groter klaarheid oor wat dit was.” Maar absolute klaarheid bestaan steeds nie – buiten dat ons dalk tog maar, veral aanvanklik, met groter diplomasie, deernis en begrip op beswaardes se vrae en vrese kon gereageer het.
Een troos was toe die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte vir die Ja-stem ingepalm. Amper 55% van die stemme was ten gunste van magsdeling in ‘n onderhandelde nuwe grondwet.
Nog ‘n riem onder die hart was ‘n kloppie op die skouer uit ‘n onverwagte oord. Oor die rol van Afrikaanse redakteurs het James McClurg in die Cape Times bevind: “That they [verligte Afrikaanse editors] have succeeded at all [in discarding the myths and visions with which Afrikanerdom has long encumbered its sons], given the pressures to which they have been subjected, is a mark of courage.” Oor Die Volksblad het het hy onomwonde verklaar: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksbladhas shown consistent courage.”
Oor hoeveel lopies die “dapper” kolwer aangeteken het en hoeveel keer hy been voor paaltjie betrap is, trek McClurg ‘n sluier.