‘N HUISIE VIR ‘N STORIE

IMG_5157As ek ‘n skrywer van storieboeke was, sou ons oornagtuiste in die golwende groen heuwels van Mpumalanga op Machadodorp – deesdae bekend as eNtokozweni –  gewis iewers in ‘n storie opduik.

Die huisie is ‘n doodgewone  plattelandse  plekkie met ‘n beskeie, amper armoedige, voorkoms agter ‘n ruwe sementmuur, maar so tipies van ‘n era dat jou kameravinger in elke kamer jeuk.

Van die sierlike plafon tot die breë vloerplanke, vloerlyste en vensterrame van duursame hout – Oregon-den, raai ek – was vanmelewe hoogmode.  Die ornate kaggels en ‘n Persiese mat in die sitkamer verleen ‘n waardigheid van weleer.

Van die meubels behoort ‘n kenner in oudhede sy hande te laat vryf. My keuse val op die outydse badkamerkassie, kompleet met wasskottel en lampetbeker.  ‘n Riempiesbank en die soliede bedkopstukke van toentertyd behoort ook goeie pryse te haal.

IMG_5138Die eenvoudige voortuin adem dalk selfs des te meer ‘n plattelandse geur, met sy prominente suurlemoenboom, perskebome, druiweprieëltjie en beddings met afrikaners en kappertjies.

Op die stoep het ons forelpastei saam met ‘n wyntjie weggesluk terwyl die volmaan voor ons verrys.  Die forelpastei het ons by Milly’s se padstal ‘n entjie voor die dorp gekoop. Moet dit nie mis nie. Wees by die padstal ook op die uitkyk vir Schoemans se growwe mieliemeel uit Delmas.

Die slagspreuk op die sakkie lui: So goed as die beste, beter as  die meeste. Met die aanspraak kan ek nie fout vind nie. Dis mos pap!

Die huisie staan langs die Old Mill-hotel. Sy ligging  verklaar  waarskynlik  sy ietwat pretensieuse naam, Moulin Manor. Die struktuur, toerusting  en dekor van die “manor” sal nie in elke kieskeurige  se smaak val nie. Maar daar is drie slaapkamers – ‘n dubbelbed in een en ses enkelbeddens in die ander twee –  en die beddegoed is eersteklas.

Vir my en Tokkie had die Moulin Manor by die aantreklikheid van die tarief boonop ‘n aansteeklike sjarme, al slaap ‘n mens weens die krakende plankvloere en die afwesigheid van ‘n alarm bra lig.

Die lemmetjiedraad op van die tuinmure verraai die behoefte aan sekuriteit en die polsende sjebeenmusiek twee strate hoër dra nie by tot ‘n ontspanne gemoed nie.

Die dorpie met die Portugese naam – genoem na ‘n ingenieur wat met die bou van die spoorlyn na Mosambiek gemoeid was – vertoon  maar  ‘n neerdrukkende  beeld van verwaarlosing.  Dat al die strate eens geteer was, getuig van beter dae.  Nou maak die slaggate hulle amper onbegaanbaar.  Maar o, daardie wit NG moederkerk wat vorstelik oor die dorp troon, is steeds ‘n sieraad.

IMG_5132 Die Elandsrivier vloei deur die dorp en daar is glo ‘n minerale fontein met buitengewoon helende kragte. Ek het dit nie opgesoek nie.  Kan dus niks daaroor rapporteer nie.

Hoekom juis op Machadodorp gaan oorslaap? Moeilike vraag, want ons kon gemaklik verder gery het.

Dalk lok die fontein besoekers. Die natuurskoon met heuwels, damme en wuiwende gras veral na die heerlike reën tot dusver hierdie somer kan ‘n lokmiddel vir ander wees. So ook die lewendige forelbedryf van die kontrei.

Dat die vlugtende Transvaalse volksraad in die Anglo-Boere-oorlog  in treinwaens daar ‘n tydelike vesting gevind het, verleen aan die dorp ten minste ‘n historiese karakter.

Maar uiteindeklik was die deurslaggewende rede vir  oorslaap op Machadodorp  waarskynlik eenvoudig net die ongewoonheid daarvan.  Ek wou dit nog altyd doen. Nou het ek.

Nog iets om af te tik op my lysie van slaapplekke met ‘n vreemde, nie-alledaagse  bekoring.   

IN VLAMME OP

Op die N4, by Mthomjeni, naby Machadodorp in Mpumalanga, was die Star Stop Milly’s ‘n baken.

Ek hou nie van stilhou langs die pad nie, en doen dit nie onnodig nie, maar brandstof- en ander behoeftes verplig jou soms. Op die N4 op pad Sabiepark toe was dit dan uithou en aanhou totdat die imposante wit grasdak-geboue van Milly’s langs die skilderagtige foreldam op die plaas De Kroon links van die grootpad opdoem.

By daardie afdraai het ek minder teësinnig as elders my flikkerlig ge-aktiveer. Die plek was inherent aantreklik, mooi geleë, netjies, skoon en doeltreffend. “Star stop” – hy het die naam verdien.

Hoeveel liters Caltex het ek al daar eers in my rooi Mercedes, daarna in die blou Kombi (die “Bosbus”), en later in die ou Honda CR-V laat ingooi? Hoeveel keer is my voertuig se voorrruit hier gewas? Hoeveel hamburgers, geroosterde broodjies en koffies is in BJ’s geniet?

‘n Keer het ons spesiaal gestop omdat my neef Ben Smith van Randburg ons meegedeel het jy kan in die geriefswinkel sulke oulike armbandjies koop om die muskiete van jou lyf te hou. Jy spuit hulle met sitronella-olie.

Een keer het ons Johan en Mariza, ons Georgekinders, met die “Bosbus” op O.R. Tambo gaan haal (toe dalk nog Johannesburg Internasionaal?). Ná die pitstop by Milly’s vra Johan my: “Pa, waar is die noodwiel?” Die Kombi se noodwiel is ondanks voorsorg – ‘n stewige slot – in die blessitse Johannesburg gesteel. Eina pyn!

Partymaal was dit nie nodig om by Milly’s te stop nie. As ons by Milly’s verbyry, kry ek egter weer moed vir die res van die reis Sabiepark toe: Nelspruit is nie meer só vreeslik ver nie!

Nou moet ek oor Milly’s in die verlede tyd skryf. ‘n Verwoestende brand waarskynlik weens kooltjies wat op die grasdak beland het. Niks is oor nie – buiten die vulstasie. Dié is gered deur water uit die dam wat deur ‘n helikopter in groot emmers op die smeulende buurgeboue bly uitgiet is.

Mense stop seker nog om petrol aan te skaf. Ek sal nie graag nie. Die swart gebrande murasies sal my laat siek voel oor só ‘n eersteklas-plek wat in vlamme op is.

Wat my verwonder, is dat ek wat nogal my vinger op die nuuspols probeer hou, die twee-dae-oue nuus oor Milly’s vandag uit Nederland op Facebook raakloop – ‘n adres waar ek bittermin kom. Was dit nie oor die radio nie? Het ek net die betrokke bulletins gemis? In Die Burger was dit bepaald nie – maar dis nie snaaks nie. Machadodorp is “ver, ver, anderkant die verste ster” (ekskuus, Uys Krige) – amper 2 000 km van Kaapstad.

In Die Burger se nagkantoor werk mense wat nie eens weet waar Machadodorp is nie, raai ek. En ek probeer nie snaaks wees nie. Baie Kapenaars is mos maar berug onkundig (en onbelangstellend) oor die lewe anderkant die Hexrivierberge, of hoe?

Naskrif: Dinsdag is ons op pad (of, eerder, in die lug – as die aswolk opgeklaar is!) (HvD)