MET BANIERE UITBASUIN
Moet koerante die wapenstorie nie onder banieropskrifte aanbied nie, vra ‘n joernalisvriend my gisteraand oor ‘n ottermaklottertjie. Dis ‘n prikkelende vraag. Die antwoord is nie so voor die hand liggend nie.
Gewis is die Amerikaanse ambassadeur se beskuldigende vinger aanduidend van ‘n enorme diplomatieke bokkerop en bevind die Suid-Afrikaanse regering hom in ‘n uiters ongemaklike situasie – amper soos iewers tussen die duiwel en die diep blou see.
Gewis kan die komplikasies en implikasies aan vele fronte geweldig wees. Onheilspellende scenarios word daaroor deur politieke kommentators en andere geskets.
Op die keper beskou, is in die stadium egter nog niks bewys nie. Die bewerings is lastig en die agterdog oor iets onheiligs loop dik, maar die saak hang in die lug. ‘n Groot storie kan kom … of dit kan ‘n nat klapper blyk te wees. Ek dink dus koerante hanteer die storie na waarde – nog duskant die vlak van ‘n banier.
Ek is bevrees my antwoord was vir my vriend ‘n teleurstelling. Hy het sy mes in vir Cyril Ramaphosa en hy soek bloed. Hy vra my toe na wat dan werklik in my oë as “groot storie” kwalifiseer. Moeilik om te definieer, maar onder die grootste stories in my era in redaksies tel wêreldskuddende eerstes soos die Appolo 11-maanlanding en prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting, kon ek hom meedeel.
Albei is onder reuse-baniere uitbasuin. Kyk die New York Times se driedek-kop met die maanlanding hierby.
Die sluipmoord op Pres. JF Kennedy in 1963 was, terloops. ’n eerste kennismaking met ’n koerant in skielike, koorsagtige, snelrat. Met die moord op HF Verwoerd drie jaar later was ek ’n jong hoofsubredakteur – self totaal oorstelp. Maar ’n spesiale uitgawe moes dringend uit.
’n Verdere (uiters onvolledige) lysie van groot nuus wat voorblaaie in my tyd oorheers het: 9/11, die Inligtingskandaal, die Bosoorlog, die Laingsburg-vloedramp; Prinses Di se dood; die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana; die Skêrmoord; die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg; die Challenger-ruimteramp; die Westdene-busramp; kol Mike Hoare se staatsgreep in die Seychelle; André Stander se rooftogte en skietdood in Florida, VSA; Sharpeville in 1961 en die Soweto-opstand in 1976; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein; die Kerkstraatbom; die Oceanos-ramp; die pedofiel Gert van Rooyen; die val van die Berlynse Muur, en les bes, die ontbanning van die ANC en vrylating van Nelson Mandela in 1992.
As ‘n mens uit die formidabele lys ‘n numero uno moet kies, kan jy verskillende maatstawwe aan die dag lệ.
Jy kan vra: watter storie het op die lang termyn die grootste impak op die lewens van die meeste mense gehad? In Suid-Afrikaanse konteks moet dit die politieke omwentelinge in 1992 wees. (Met die koms van die nuwe Suid-Afrika in 1994 was ek nie meer ‘n joernalis nie.)
Jy kan ook vra na die onmiddellike skokeffek op lesers. Dan sou die moord op Verwoerd in my boek die voorloper wees. Suid-Afrika was lamgeslaan.
(In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi , Mei 2023) word stories oor van die stories vertel. Ek skryf ook oor hoe vrek moeilik dit soms is om te besluit wat die grootste nuus van die dag is. Die boek is nou uit. Bestel dit regstreeks by Tertia Swart – 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 (by jou voordeur afgelewer).