MIERTJIES OP ONS KUSPAD
Die M14 is nie ‘n belangrike pad op die landkaart nie. Hy loop maar suutjies langs die Atlantiese kus tussen Melkbosstrand en Bloubergstrand aan die Kaapse Weskus. Net 10 kilometer of wat, maar heelpad met die gedreun van die oseaan in jou ore.Dis vir my ‘n idilliese pad, ‘n pad waarvoor ek baie lief is. Ek verken graag die bekoorlike baaitjies aan hom een vir een: Holbaai (op die foto), Kreefbaai, Eerstesteen, Derdesteen …. plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.
Jy beleef daar van walvisse tot perderuiters tot vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie en bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek) tot goue skemers en skilderkwas-sonsondergange.
Produksiehuise sak gereeld met vlote voertuie veral op Derdesteen toe om TV-advertensies of musiekvideos te vervaardig. Die uitsig op Tafelberg en Robbeneiland is manjifiek.
Ek weet van ‘n leraar wat gereeld by Holbaai gaan preek maak het. Sy inspirasie – buiten sy teks uit die Bybel – was die seevoëls se gekrys.
Langs die pad loop ‘n netjiese wandelpad/fietspad. Op die paadjie beweerg altyd iets: energieke fietstrappers, drawwers, stappers. Een ou stap ver met een been en ‘n kruk. Jy sien hom gereeld. Waarheen hy mik, weet ek nie.
‘n Relatiewe nuwigheid op die roete is motorfietsies. Sulke turkoois gedoentetjies met bonkige bokse agterop. Ek het al 14 van die miertjies in 10 minute getel. Heen en weer, heen en weer.
Die gewone verkeer van vragmotors, My City-bussies en motors is soms druk. Die snelperk is 70. Daar ontstaan opdammings. Jy moes maar altyd wakker wees as jy daar ry. Deesdae is dit dubbel so.
Geen wonder nie iemand het as Aprilgrap aangekondig die M14 word ‘n tolpad en toe sluk mense dit.
Die miertjies – vir diegene wat dit nog nie geraai het nie – is die winkelgroep Checkers se Sixty60-span. Hulle bring spys en drank van vroeg tot laat van Grootbaai af na die gholflandgoed Atlantic Beach se inwoners wat skynbaar net nie genoeg kan kry van die gerieflike manier van kos en kruideniersware koop nie.
Soos die tolpad-storie staan my ingewing nie op stewige pote nie. In my kop (dis mos myne) dink ek egter al hoe meer aan die pad as Roete Sestig60. Dalk is dit tog iets wat die stadsvaders of watse vaders ookal kan oorweeg as die gereelde drang om plekname te verander, hulle weer laat jeuk.