Feb 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

25 jaar afgetree, 25 jaar op Melkbos, 25 jaar in Sabiepark. Die eerste twee bakens is reeds bereik en paslik gevier. Op 15 Maart kom baken drie. Ons vertrek reeds op 6 Maart Mpumalanga toe om dinge te gaan regkry vir ‘n feestelikheid waarvan ek later meer gaan verklap.
In 2011 het ek ‘n boek geskryf: Duisend dae langs die Sabie. In 2023 sou dit seker al Tweeduisend Dae langs die Sabie wees. Waarskynlik meer. Dit is dae wat ek in welbehae in herinnering roep. Hoe lief het ek en Tokkie nie die plek nie!
Hoekom dan? Omdat mens en natuur kwalik intiemer skouer kan skuur as hier in ons bostoevlug aan die Sabie op die drumpel van die Krugerwildtuin – waar diere onbelemmerd tussen woonhuise rondloop en ‘n luiperd op jou stoep selfs nie vergesog is nie. Hier is die mense so vry soos die diere. Ons stap houtgerus (nie altyd só houtgerus nie!) in die strate met hul inheemse boomname. Saans sit ons om ons kampvuurtjies as’t ware in die oop veld.
Sabiepark se wildrykdom behels rofweg 17 groot soogdierspeseis, 25 kleiner spesies, sowat 320 soorte voëls en 34 soorte reptiele. Die mense-element bestaan uit 388 eienaars plus hul mede-eienaars en naastes. Die personeel-komplement is 45. Eienaars kom en gaan vir korter of langer vakansies en naweke. Wanneer die park regtig vol is, sit sowat 500 siele saans om hul vuurtjies.
Die private piekniekplek (net vir eienaars en hul gaste saam met hulle) is die hart van die park. Dit spog met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op wildtuingebied aan die S3-rivierpad. ‘n Mens kan maklik leeu, olifant en buffel een dag sien; luiperd en renoster die volgende. Al die “Vyf Grotes” – meesal darem op die oorkantste oewer. Soms van naderby aan die “verkeerde kant”, veral nuuskierige olifante. Van so ‘n saamwonery kom “insidente” – van konfrontasie tot koestering.
As ek die herinneringe van 25 jaar begin opstapel, is dit veels te veel vir een skrywe. Daar is die nagapies wat elke aand kom pret maak op die stoep, Witnek die duiker met wie ons lank in ‘n verhouding was, die olifante wat in troppe teen die grensdraad opduik, die hiënas in ons watergat, kameelperde by die swembad, sebras, vlakvarke, likkewane, stoute bobbejane … die lys is lank.
In die volgende dae gaan ek allerlei herinneringe deel. Maar kom ek begin met die luiperds. Op hierdie sierlike roofdiere drink ek graag vandag ‘n heildronk van Wild Africalikeur vir al die vreugdes van onverwagte ontmoetings wat ons al in Sabiepark met hulle had.
Van een hang ‘n groot foto agter dowwe glas prominent op ons stoep. Dis nie een van my eie foto’s nie. Wel ‘n foto deur ‘n mede-Sabieparker, Caroline Pols-Dijkstra van Heerhugowaarden in Nederland, geneem op 19 Maart 2015 terwyl ons 2 000 km ver op Melkbos sit. ‘n Foto soos geen ander in my albums nie: ons eie luiperd op ons eie stoep!
Caroline en haar man, wyle Gert, het soos die gebruik by vriende is, gaan kyk of alles pluis is by die Van Deventers se huis. Net toe sy by hul voertuig wil uitklim, sien hy die stertjie by die voordeur piets. Die volgende oomblik kom die luiperd orent. Sy staan voor die Polse in haar volle glorie, netjies geraam tussen die ingeboude braai en ‘n hoekpilaar van die grasdak.
“Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter,” het ek in antwoord op haar foto’s vir Caroline ge-e-pos. Vandag dink ek steeds dis dalk die Sabiepark-moment wat ten beste ons 25 jaar se verbintenis defniëer. Ek plaas dit graag weer.
Aug 6, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Konfrontasie!
van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.
Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word. Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie. Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.
Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019. Die preek van die leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor. Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het nie. Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.
Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete. Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed. Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd handeviervoet op die voorpunt. Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.

Die sprong.
Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor. Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit die naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeel van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.
Nou moet ons aanstoot. Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan. Ek volg sy voorbeeld en bring die Honda ook vinnig tot stilstand. “Leeu!” Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.
Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad. Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap. Jy sou aan hom kon vat. Die laaste foto is net ‘n blerts. Hy was eenvoudig te naby.

Nommer twee.
Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg. Oorkant verloor ons hom in die langerige wintergras.
Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie sy eerste en laaste lui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.
Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry. Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete. Maar twee luiperds – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog! Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.
Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek. So asof dit ‘n beloning kon wees. Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie. Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie. Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!
Vir hulle is my antwoord: gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie. Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie. Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”
Mar 13, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
En die luiperd dan? Sou jy hom nie in die Top Tien moet plek gee nie?
Dit is die vraag wat by my ontstaan het n.a.v. een van daardie lysies wat gereeld op die e-pos-kringloop opduik: hierdie keer ‘n lys oor die tien “vreesaanjaendste roofdiere op aarde”.
Op die internetlys verskyn: die bobbejaanspinnekop, die mamba, die pirhana, die wolf, die komodo, die grizzliebeer, die Nylkrokodil, die orcawalvis, die haai en die leeu. G’n luiperd.
Vir wie sou ek kon vra? In my vriendekring kom onmiddellik een naam na vore: Piet Henning, studentemaat op Tukkies, boorling van die Waterberg en boer van Chiredzi, nou in ‘n regstryd gewikkel om die eienaarskap van SY grond.
Piet se antwoord, plaas ek graag hier volledig – verstommend vir my op grond van die man se kennis, insigte en spesiale slag met formulering, veral vir iemand wat primêr in Engels kommunikeer.
Piet reageer soos volg:
Interessante lys. Soos jy vra, en wat van die luiperd?
“Ten most feared predators…” Dalk moet ‘n mens liewer ‘n onderskeid tussen “vreesaanjaendste” en “gevaarlikste” tref.
Die bobbejaanspinnekop is allermins gevaarlik, behalwe in Suid-Amerika waar glo ‘n redelike giftige spesie is. Ons s’n maak eerder bang as wat hy enige gevaar inhou. In SA is mos vier nare spinnekoppe, nl. die sak-, knopie- , viool-, -en sandspinnekop (dodelik). Australië het ‘n taamlike wye keuse in hierdie verband, met die tregterweb (funnelweb) van Sydney vooraan die lys; een hap en jy moet baie vinnig by die hospitaal kom.
Die mamba … Wat meer kan ‘n man sê van “bangmaak”? Australië het egter tien slange wat giftiger is as die swartmamba, party wat met aldrie giwwe bewapen is om via jou senuwees, bloed of verrotting van die weefsel (soos in pofadder) jou lewe te verkort.
Almal weet nou al die piranha se vermoë is oordryf.
Die wolf is die duiwel van ons Westerse kleuterverhale en legendes, ‘n aansien wat hy nie maklik kan verloor nie. Hoeveel mense eet hy egter jaarliks op teenoor ‘n krokodil byvoorbeeld?
Die komodo vul my met walging, ‘n kêrel wat ek sou vermy, want byt hy jou aan die been en jy ontkom, dan val die vrot ledemaat buitendien na ‘n week af weens die bakterië in die ding se bek.
Die Nylkrokodil (en wat van die soutie van Oz, Inonesië ens?), is meedoënloos en laat my my doodgril. Herinner my in my verbeelding aan die Russiese OGPU of NKVD van ouds. Krok, die haai en skerpioen. Wil hulle nie sien nie, altans nie van naby nie.
Ek hou ook nie van die reusagtige grizzlie nie. Hy bly vir my ‘n tamaaie slobberjak, erger as tien rottweilers en mastiffs saam, venynig en onvoorspelbaar, vlugvoetig en gulsig. Hoop nie ek ontmoet hom op ‘n voetpad in Alaska of Kodiakeiland nie.
Die orca? Gevaarlik, natuurlik, maar uitsoekerig, en skyn nie eintlik homo sapiens (weet nie van homo poefterensis nie) op sy spyslys te hê nie. Ek hou van die orca, hy’s ‘n aantreklike vent met aansien.
Haaie – vir my die nagmerrie-ongedierte. Vreesaanjaend.
En ons eie vuilbaard? Die Koning van die Aarde. Soos ek al voorheen geskryf het: listig, sterk en hou daarvan om dood te maak. Maar nie sonder verdraagsaamheid nie as ‘n mens moet glo wat jy op die TV sien – daai ou wat met hulle stoei, of die Amerikanertjie wat hulle binne meters in die veld benader met sy kierie.
Die lys van tien laat ‘n paar menere uit. Eerste op my lys sou die luiperd wees. Hy is relatief baie dunner gesaai as die leeu, dog ek weet van meer luiperdaanvalle op mense as aanvalle deur leeu. Die KNP alleen kan in die afgelope tien jaar getuig van etlike slagoffers.
Dink jy nie die Bengaalse tier verdien ‘n plek nie? Byna ‘n kombinasie van leeu en luiperd, wat dan ook graag swem?
Die ergste van almal? Weer eens Australië met sy boks-jellievis, die miniatuur-seekat wie se naam ek vergeet, en die tregterspinnekop reeds genoem. Algar absoluut dodelik, en waar daar gewoonlik nie uitkoms is nie!
Dit dan my beskeie menings!
Nou-ja, daar het jy dit. Dankie Piet. Hy noem dit in sy brief tot toestemming vir verdere verspreiding ewe beskeie ‘n “bietjie algemene kennis wat uit uit ‘n lekebelangstelling kom, alledaags”.
Piet spreek ook die hoop uit dat dit nie “verontwaardiging uit ekspertekringe” sal lok nie.
Esksperte se toon, Piet. Hoop elke leser van die blog, ekspert of te nie, put dieselfde genot uit my vriend se kommentare as die uwe.
Naskrif: Piet verskyn Donderdag weer in die smerige klein magistraatshof op Chiredzi oor sy “besetting van staatsgrond(!)”. Kom ons hou almal duim vas dat reg en geregtigheid teen alle verwagting in sal geskied. (HvD)
Aug 1, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Dertien jaar lank – en ‘n hele entjie in ons tweede duisend dae langs die Sabie in – moes die Van Deventers wag vir ons eerste vangs in Sabiepark. Op Woensdag 27 Julie 2011 was ek en Tokkie toeskouers toe ‘n luiperd ‘n vlakvarkie in die Hongonyi-drif in Maroelaan plattrek.
Die weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie, sê hulle. Dié vangs was egter presies op die plek waar ‘n luiperd twee jaar en ‘n dag gelede, op 28 Julie 2009, ‘n vorige vlakvark-maal geniet het. Daardie maal, in ‘n jakkalsbessieboom vlak langs die straat, het ons lank uit die motor dopgehou. Die vangs self was ons egter nie bevooreg om te sien nie.

“Bevoorreg” is dalk nie die beste woordkeuse vir die drama wat hom op 27 Julie voor ons oë afgespeel het nie. Die vlakvarkie se einde het nie net vir ‘n goeie definisie van die begrip “déjà-vu” gesorg nie, maar ook van die begrip “gemengde gevoelens”.
Die slagoffer was een van “ons eie” vlakvarkies – een van viertjies wat in Desember in Sabiepark gebore is en talryke kere saam met hul ma vir ons en die tweeling Jacob en Thomas Claassens by Tarlehoet diereplesier kom verskaf het. In my albums is foto’s van die kleingoed langs ons huis aan’t drinke, en diep in droomland met hul vol magies langs hul ma ingeryg.
Oor ‘gemengde gevoelens” bestaan die effens ligsinnige definisie dat dit is soos om jou skoonma in jou nuwe Mercedes oor ‘n afgrond te sien verdwyn. Ek is nie ‘n ou vir skoonmagrappe nie, maar ek verstaan die verskeurdheid. Ons was ewe verskeurd. Dit was nou opwinding met ‘n traan, hoor!
Tokkie wou net uitroep om die vlakvarkies te waarsku toe hulle niksvermoedend aangestap kom. Ek moes paai. Die luiperd was versteek in ‘n skadu onder ‘n bos. Skielik het die hele soepel liggaam se spiere onder die kollevel begin tril.
Toe die groot kat met een kragtige sprong uit sy skuilplek kom, het net een gedempte skreeugeluid opgeklink, soos diè wat ek een keer gehoor het toe ‘n jong man te laat rem trap voordat hy met sy klein motortjie onder ‘n staalvragmotor inry.
Toe word dit doodstil. Die luide protes van die drie oorlewendes was al wat jy kon hoor. Die volgende oomblik sien ons die luiperd, slap prooi in sy bek, doelgerig die huis van ds. Hannes Els van Kroonstad (Giraffe, nommer 186) nader. Dit is by ds. Hannes stoep waar ek die foto hierbo geneem het. Op die stoeptrappies was die ene bloed.
Klaarblyklik wou die luiperd op die stoep rustig met die vlakvarkie gaan klaarspeel. Toe die kamera klik, het hy vies opgekyk. Ons oë het ontmoet. Daarna het 2011 se luiperd met trofee en al in die bos verdwyn. Dit was die laaste sien van ongetwyfeld die hoofkarakter van ons 35ste bosvakansie sedert 1998. (HvD)
Jun 17, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Luiperd stap uit die oewerbos – maar hierdie keer op die S3.
More uit Melkbos
Vra iemand my oor my nommer-een-pad in die Wildtuin, antwoord ek vinnig: die S100. Op daardie gruispad naby die Satara-ruskamp, al langs die N’wanetsirivier af tot by N’wanetsi-piekniekplek met sy skouspelagtige uitkykpunt aan die einde van die H6, is elke rit ‘n teugie Wildtuinvreugde – al is dit ook net weens die reuse-trosvrye wat langs die rivier ingeryg staan, en die verwagting dat elke oomblik ‘n luiperd uit die ruigte kan stap.
Daardie spontane reaksie laat my egter al hoe skuldiger voel teenoor die S3, “ons eie” boomryke rivierpad, wat oorkant Sabiepark al langs die Sabierivier suidwaarts kronkel, en waar altyd ‘n kans is om een van die Vyf Grotes teë te kom. Is ek nie dislojaal teenoor die S3 as ek die S100 só opvysel nie?
Die S3 is darem “ons eie” – as ‘t ware Sabieparkers se “tuisveld”, omdat jy van die piekniekplek duskant die motors op hom kan sien ry. Sabieparkers kan binne minute op die toneel wees as motors opdam. Van die S3 af sien jy weer die groen oase van die piekniekplek en verskeie van Sabiepark se mooiste huise. Die pad bied ook die ervaring van diep-diep in die bos wees, al is jy ‘n hanetree van die Krugerhek
Die S3 is die Wildtuinpad wat ons gesin die meeste ry – soms op my vaste roete na die Phabenihek vir inkopies op Hazyview, soms as ‘n ompad na Skukuza vir kerk of “werk” (inkopies of die internetkafee), soms op pad na Pretoriuskop met sy karaktervolle kamprestaurant, soms net op ‘n vinnige oggenddraaitjie of laatmiddag-uitstappie vir die laaste uur of wat voor die Wildtuin se hekke sluit.
Dadelik is jy in prima-olifantkontrei wanneer jy net binne die Krugerhek op die S3 regs draai. Aan talle bome is die bas in repe afgeruk. Dikwels kry jy op die pad gestroopte takke of vars mis. Tussen die bome sien jy dalk ‘n glimpsie van ‘n slurp se puntjie wat heen en weer girts – of meer. Soms wemel die wêreld van olifante. Teeltroppe versper moedswillig die pad of seil gly-gly teen die wal af rivier toe om in die water te plas.
In ‘n groepie olifante wat die pad haastig oorsteek rivier toe is ‘n keer ‘n bitter klein kêreltjie. Hy lyk of hy net enkele dae oud kan wees, indien wel. Tokkie wil hom net optel. Ek moet haar herinner dat ‘n pasgebore kalf tot 120 kg kan weeg – selfs (ietwat) meer as haar man se massa op die uiterste van sy “gewigtigheid” (wat hopelik verlede tyd is)!
Die S3 bied verskeie roete-moontlikhede. Jy kan jou voor by die Doispanepad aansluit as jy só om Skukuza toe wil ry. Dis ‘n draai, maar jou kanse op spesiale waarnemings – selfs skaars wildehonde – is goed. As ek tyd het, ry ek dikwels ‘n verdere draai. Uit die Doispanepad swaai ek regs in die S65, verby die N’waswitshaka-watergat. Dan benader jy Skukuza uit heeltemal ‘n ander hoek, met die H1 verby die Granokop en die De La Portedrinkgat, waar renosters kom drink.
Op die S65 het ons al oomblikke ná ‘n luiperdvangs op die toneel aangekom (die rooibokram was nog nie dood nie). Een middag kon ek en Tokkie lank by 12 leeus sit. Hulle het, wrintiewaar, die hele dag op dieselfde plek deurgebring. Lyk of hulle ewe gedienstig op ons vertraagde aankoms gewag het! Ons het naamlik die oggend al nuus oor hul teenwoordigheid gekry, maar was toe op Hazyview.
Op die einste S65 het ons ook al ‘n maanhaar gekry by sy laat impala-ontbyt wat hy by ‘n agtelosige luiperd gegaps het. Die vies luiperd het in ‘n boom sowat vyftig meter ver sy wonde gaan lek.
‘n Voordeel van die rivierpad is dat dit ontoeganklik is vir woonwaens en heelwat minder verkeer dra as die geteerde Doispanepad (die S1). Net jammer dis nie ook ontoeganklik vir al daardie groen Land Rover Defenders of Nissan Hardbody’s met die rye bankies vir toeriste wat toenemend “ons pad” kom snuif trap.
Naskrif: Hierdie is dalk my laaste blog voor ons Dinsdag ry. Hoop die S3 bring vir iemand geluk hierdie vakansie! Moenie die pad tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug vergeet nie. Petrus Pap verwys daarna in kommentaar op my vorige Wildtuinblog op Litnet. Onthou, ry met die S28 Krokodilbrug toe en met die H4-2 terug na Onder-Sabie. Ek gaan dit doen.