AS JY BY DIE ELLISSE IN TEL IS ….

Frans klink ‘n glasie (?) met Tokkie van Deventer op ‘n Probuskuier by Penguin Place 11. Pieter Jacobs skud net sy kop.

In 1995 het ‘n wildvreemde Frans en Lourette Ellis hulle uit Oos-Kaapland op Melkbosstrand kom vestig. In dertig jaar het hulle gewaardeerde Melkbos-juwele geword wat die gemeenskap in vele opsigte gedien en verryk het. Nou skuif hulle aan Mosselbaai toe.

By die Probusklub. ‘n vriendskapsklub vir afgetredenes waar die joviale paar diep spore getrap het, is gister van hulle afskeid geneem.  Die oudste lewende pionier, Henri van Biljon, het hulle gehuldig as “Probusvriende so uit die boek”, altyd gewillig, om te help en planne te maak vir uitstappies; “ware diep vriende van wie die herinneringe altyd by ons sal bly”.
Hulle was ook tuisonthalers en gashere soos min, het Henri tereg gemeld – “vriende met wie lekker gesels is oor wat verby is, oor mense wat ons geken het en oor al die plesier en plekke wat ons gesien en beleef het.”
Almal al saamstem: hulle is werklik mense wat hulle hart en siel in die klub gestort het. Waar interessante of avontuurlike dinge gedoen is, was die twee meesal op die voorpunt.

Frans verlaat die klub as chronologies die naasoudste aktiewe lid en na vele skofte as ‘n ankerlid in die komitee. Lourette wat een van die eerste vrouelede was, is die entoesiastiese ondernemer wat veral die laaste twee jaar – maar ook al tevore – die voortou geneem het om dosyne uitstappies te organiseer: toere, konserte en diverse ander feestelikhede.

Lourette klink ‘n glasie met Barbara Nel op ‘n Probus-uitstappie op Blaauwberg. Die twee verjaar saam.

Waar was ons nie oral toe die huppel in die stap nog daar was nie? Namibië, Kgalagadi, Krugerwildtuin, Oos-Kaapland – om net ‘n paar te noem. Ons het gevlieg, gevaar, trein gery of in konvooie met bussies en ons motors die pad aangedurf. En die Ellisse was sonder uitsondering ‘n dinamo.

Buite Probus het hulle bekendheid verwerf as jarelang eienaars van die Melkbosch-gastehuis in Mostertstraat. Frans het lank ’n suksevolle eiendomsagentskap bedryf. Na aftrede het hulle gewig ingegooi by die Woonwaklub en met ‘n gerieflike ryhuis die wêreld platgery.
Die Probusklub is ‘n borg van die woord “kuier” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Dis nie om dowe neute nie, soos hierbo blyk. In die egpaar Ellis is daardie gesellige kuier-element vergestalt.
So 15 jaar gelede het ek oor mede-Probuslede versies geskryf. So het Frans (en Lourette) se versie gelui:
Dis louter plesier as Frans Ellis jou pêl is;
En jy nog boonop by Lourette ook in tel is,
Dan kan jy reken op goeie wyntjies en kos
Só lekker kuier die Ellisse se pêlle mos!
Dis werklik hoe ons Frans en Lourette sal onthou – as van die lekkerste pêlle om saam mee te kuier. Hoe vreemd sal dit nie wees nie om dit vorentoe sonder hulle te doen.
.