‘N HAND VOL MOOI VERE

Terug na die vangs.

‘n Hand vol vere. Nie sommer enige vere nie, maar die glansende blou en rooi kleed van ‘n  vorstelike bloukuifloerie. Tokkie tel ‘n kleurryke hopie daarvan Woensdagoggend op onder ‘n rooiboswilg by ons watergat by 154 in Sabiepark.

Raaisel:  wat was die stomme voël se lot? Was die aanvaller ‘n  roofvoël, was dit ‘n mukeljaatkat?  Die verlies tref skynbaar diep in die loeriegemeenskap. Teen 09:00 soggens is ”ons”  bloukuifloeries gewoonlik hier; hang hulle soos trosse skarflakenrooi blomme aan die bome en wip-wip hulle koggelend van tak tot tak. Enkele dae gelede was hier ses. Vyf het gedrink. Nommer ses was brandwag.

Eers Donderdag om 12:00 was twee terug. Mooi vir my geposeer by die voëlbad. Ook met die nagapies – wat deesdae gereeld weer presies op 18:10 hul opwagting maak – gaan dit so.  As ‘n reuse-ooruil een gegryp het, bly die ander geruime tyd ver weg

Hand vol vere.

Aan die dierefront is dit stillerig. Maar soos Witnek die duikertjie – met ‘n nek wat al hoe witter geword het – en sy latere gesinnetjie ons aan die begin hier by eindeloos plesier verskaf het, doen  ‘n bosbokgesinnetjie dit nou.  Sal nie so ver gaan om te beweer dat hulle span Witnek se plek inneem nie, maar die aangenaamheid van hul teenwoordigheid wil ek graag hier boekstaaf.

Die laaste paar dae is ‘n duikertjie al hoe gereelder op die werf opgemerk. Ons romantiseer en glo dit kan ‘n afstammeling van Witnek wees, hoewel geen gryserigheid aan die kordate lyfie waargeneem word nie.

‘n Ander vermeldenswaardige bokbesoek was van vier najala-ooitjies en ‘n kordate jong bulletjie. Ek en Tokkie glo hulle het in die watergat kom drink. Ons was so ingestel op ons eerste glasies wyn dat ons hulle eers agtergekom het nadat die drinkery verby was.

Op  die langerige afwesigheidregister moet ook   vlakvarke gevoeg word.  Die luiperds het hulle uitgeroei.  Ons mis die rondlopers wat enige tyd by jou huis kon opdaag.

Sabiepark se sierade, die vier swartwitpense, het gistermiddag rustig by die tennisbaan gewei. ‘n Verruklike toneel. Ek en Tokkie het ‘n kwartier sit en kyk.  Ek het hope foto’s geneem, o.m, van die bul se ongeduld met ‘n lastige duikertjie. By die piekniekplek tot dusver een leeu gesien.  In Rooiboslaan ses kameelperde in een groep raakgeloop. Hier is dus nege of 10.

Sabiepark-sierade

“Ons noem die knoppiesdoring ons nasionale boom op erf 154 in Sabiepark. Waar jy kyk, staan ‘n rysige knoppiesdoring soos ‘n toringgebou.” So skryf ek in “Bure van nature”.  Op die oomblik kleur hul bloeiseldrag ons nasionale bome ‘n dowwe geel.  So ver soos die oog strek , staan die geel “toringgeboue”.  Uit ons slaapkamervenster sien jy hierdie geel muur.

‘n Verontrustende verwikkeling is dat sekere elemente Sabiepark al hoe meer wil druk om ‘n soort “Badplaas in die bos” te word. Dis net kappityt die heeltyd. Om rustig die natuur te geniet, tel by die sarsie min.   Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars.  Die piekniekplek, swemarea en TV-kamer is oorstroom. Drank het gevloei.

‘n Relletjie het uitgebars oor mense wat langdurige en luide Zoomvergaderings in die TV-kamer hou.  Dit is gelukkig stopgesit.

Ons twee oues kon rustig die laaste toets teen die Leeus en die eerste teen die Poemas by Frik en Martie Nel sit en kyk. Maar hul huis is in die mark. Die ou vriende raak erg uitgedun.

+ Op 9 September 2001 het Pieter en Alida Fourie van Durbanville vir ons die vlakvark-sleutelhouer by die voordeur present gegee.  Niemand kon toe raai dat dit 20 jaar later nie net vir sleutels sou wees nie, maar ook vir maskers –  veral vir maskers.

 

 

KAAL BENE

P1020048

Vleis groei nie terug aan kaalgevrete bene nie. Met die harde werklikheid  maak hiënas klaarblyklik maar moeilik vrede.

In Maart is ‘n kameelperd op ons motorpad dood – ouderdom of dalk ‘n slangbyt. Sy beendere lê tussen die tamboties gesaai. Tot aan die einde van die vakansie het hiënas steeds hoopvol kom kyk of daar nie weer iets te aas is nie.

‘n Ontdekking ‘n week of wat gelede is dat ook kameelperde nog in lewe graag besoek bring – nie as ‘n hulde-ritueel nie, maar om die oorblyfsels van hul bloedverwant te kou.   Lekker magnesium in daardie bleek beendere opgesluit, aldus die kenners.

Die vleisfees in Maart moet iets ysliks gewees het. Buiten die kaal bene het die sparretjie-heinings om die lapa’s  daarvan getuig. Knaagmerke was oral. Een  hekkie is total verinneweer.  Blykbaar gemeen die paaltjies kan nuttig as  tandestokkies ingespan word, reken Tokkie.

Die kleur en tekstuur van dammetjie se water verklap dat dit waarskynlik as yskas moes dien. Die sluipende lywe wat die lig van die “gorilla” aktiveer, dien ter stawing.

Drie nagte by Boulders was ‘n heuglike hoogtepunt.  Twee klipspringer-parades, groot olifanttroppe wat vier, vyf keer ‘n dag besoek bring, buffels soos tampans om die watergat en, les bes, twee resident-muskeljaatkatjies  by die braai het die kameras laat oortyd werk.

Vier klipspringers woon in die rotskoppies om die kamp. Twee keer het hulle hul tuiste verlaat en in ‘n ry in die natuurlike voëlbadjie vlakvoor ons oë kom drink.

Orpen2 was selwers weer ‘n heerlikheid, Maar die Kollegemanne is nou almal hier rondom 80. Op die oomblik heers nog onsekerheid of die tradisie ‘n 8ste jaar sal kan beleef.

By Tarlehoet was die bloukuifloeries amper nog aktiewer as die hiënas. Hulle het kom smul aan die reuserosyntjies, kom drink uit die watergat (ook in die kinders se plastiekdammetjie) en kom bad in die voëlbad. Mooier foto’s van die pragvoels is nog nie hier geneem nie. Gekroonde neushorings, tarentale, fisante was goed verteenwoordig in die reënboognasie van die gevleueldes.

Njalas het meermale hier rondgestap en ook uit die watergat gedrink.  By die piekniekplek het ‘n kameelperd en rooibokkies ons verras deur  by die olfante se plek in die Sabierivier te kom drink.

Ons peetkind Jaco van Wyk en die tweeling, Bernard en SJ, kon die paddas in die watergat identifiseer en het telkens een gaan uithaal vir ‘n fotosessie.

Die hoeveelste Sabieparkvakansie was dit? Moet al in die omgewing van 50 wees. Vyftig of nie vyftig nie  – weer eens het die tyd hopeloos te vinnig gevlieg.