UIT DIE HART VAN ‘n EGGENOOT

Jy kon ‘n speld hoor val toe ds. Heerden van Niekerk sy treffende boodskap oor die vrugte van die Gees by die gedenkdiens vir Lize van Rensburg gistermiddag in die NG kerk Welgemoed inlei met ‘n huldeblyk uit die hart van haar man, Rudie, die skrywer.

In my amper 83 jaar het ek al my kwota gedenkdienste of meer bygewoon. Slegs by drie wat ek kan onthou, was daar huldeblyke, hetsy mondeling of skriftelik, deur die eggenoot wat alleen agterbly. Al drie was deur koerantmanne.

Voor Rudie s’n vir sy “fyn, klein, liefdevolle” Lize, was daar Johan van Wyk s’n vir sy Zandra en Piet Cillié s’n vir sy Bettie. Vir al drie langslewendes haal ek my hoed af vir ‘n uiters moeilike taak wat in uitdagende omstandighede met onderskeiding en waardigheid uitgevoer is.

Elke gedenkdiens het momente en elemente wat dit van elke ander onderskei en op grond waarvan jy dit in jou geheue liasseer. Rudie se huldeblyk aan sy sonskyn-vrou was so ‘n moment.

‘n Tweede onderskeidende element van die diens was die program of begrafnisbrief, soos ons dit in vorige tye genoem het.

Dat Lize ‘n sprankelende vrou en moeder moet gewees het, intens lief vir die mense om haar, vir die lewe en vir helder kleure (o.m. waar te neem in haar keuse van serpe en brilrame) tref ‘n mens dadelik as jy die kleurryke blad met sy vrolike blompatrone ter hand neem (foto). Felisitasies aan die ontwerper vir ‘n klaarblyklik raakvat-produk.

‘n Derde uitstaande kenmerk van die gryse, nat middag was vir hierdie Volksblad-man die getal kollegas uit die jare 70 en 80 wat die laaste eer kom betuig het. Ons was elf in totaal as ek nie mistas nie. In alfabetiese volgorde: André Brink, Ansie Welman, Deon Meyer, Emile Terblanche, ekself, Jan Bezuidenhout, Johan Coetsee, Philip van Rensburg, Rudie, Tobie Wiese en Tom Ferreira. Nogal merkwaardig, sou ek reken.

By die tee agterna in die kerksaal het dit in een hoekie amper soos ‘n redaksievergadering van doerie tye gelyk, as dit nie vir die kieries, ander sigbare of verskuilde mankemente, plooie en grys hare was nie . Tye stap aan.