MY SPAN LIVERPOOL!

Die stewige aanbod (ooraanbod?) van Engelse sokker op Supersport en e-nuus op Kyknet herinner my telkens aan my naaste belewenis van ’n FA Cup Final. Dit was in Mei 1974. Ek was nie die Saterdag by Wembley nie, wel in Londen in verband met die stigting van Beeld in September.
Die wedstryd is op 4 Mei uitgespook tussen Liverpool en Newcastle Unted voor ‘n skare van 100 000 singende, vlagswaaiende ondersteuners.
Die aksie het ek in my hotelkamer onder lekker warm komberse op BBC-TV gevolg, Dit was vrek koud. Die hotel se naam kan ek nie vergeet nie.
Dit is dieselfde as die groot moltreinstasie regoor die SA ambassade: die Hotel Charing Cross. Die hotel is/was as’t ware wydsbeen oor die stasie.
Die opbou ot die eindstryd het ek weldeeglik in lewende lywe beleef: die skares geesdrigtiges wat mekaar met vlaggies en ander kentekens op die moltreinstasies en pubs verdring, doodsing en koggel, ens.
Liverpool se maklike oorwinning van 3 – 0 het ek ook tot in die laatnag aan my eie bas gevoel. Jubelende Liverspool-geesdriftiges het op Trafalgar Square (vlakvoor my kamervenster van die Charing Cross ) toegesak.
Ondanks die koue is die spuitfonteine in ‘n swembad omgeskep waarin uitgelate rondgeduik en geplas is.
Vragte vars voorrade bier het periodiek opgedaag, Hoe meer bier, hoe meer vreugde … en hoe meer lawaai. Dat niemand verdrink het nie, is ‘n klein wonder.
‘n Paar dinge het ek daardie nag geleer: hoe allesoorheersend lief die Engelse vir hul sokker is, hoe uitermate lief hulle vir hul bier is en hoe uitbundig hulle kan jol as hulle ‘n FA Cup-oorwinning vier.
Van toe af is ek nogal ‘n Liverpoolman, al was ek nooit naby die plek nie. Dis boonop die komvandaan van die Beatles. En wat ”a hard day’s night” was dit nie daardie Saterdagnagnag 4 Mei 1974 nie.