MISTYKIES AAN DIE NUUSFRONT

‘n Ligte mistykie gewees by Kyknet, meen ‘n Burgerleser, om in sy hoofnuus geen woord te rep oor die sluiting van die N2 weens die ongedurigheid by Grabouw nie. Moet met die beswaarde saamstem. Die Burger staan ongelukkig self agter die deur. Die eerste vier dae van die moleste in Limpopo waarin 24 skole in vlamme opgegaan het, het die koerant daaroor geswyg. Selfs die Washington Post het dit nuuswaardig geag.

Geen koerant, TV-stasie, radiostasie of watter nuusmedium ook al is, helaas, immuun teen foutiewe menslike oordele nie. Meer besluite word dikwels in 24 uur in ‘n redaksiekantoor geneem as in ‘n minister se kantoor in ‘n maand. Nie elke besluit kan suiwer wees nie.

My eie koerant, Die Volksblad, het in 1966 daarin geslaag om ‘n storie totaal mis te vat waaroor die wereld in beroering was. Van een van die Beatles het die aanspraak gekom dat daardie groepie mopkop-kitaarspelers uit Liverpool gewilder is as Jesus Christus. Die hoofsubredakteur van Die Volksblad het geoordeel dis godslasterlik, heiligskennis, boos en onpubliseerbaar. Die berig is snippermandjie toe pleks van die voorblad.

Die struikelaar se kop is deeglik gewas. Sy naam was Hennie van Deventer. Van tyd tot tyd moet ‘n mens maar jou eie blapsies onthou. Anders neig jy om soms ietwat selfvoldaan te raak in jou kritiek

LIGTE MISTYKIES

More uit Melkbos

Nie sonder bymotief nie, glo ek, word in Die Burger meermale in die daaglikse terugblik op dag en datum 50 jaar gelede ‘n brokkie uit die sogenaamde “Persoonlik”-kolom uitgelig.

Dit word ongetwyfeld met ‘n meewarige glimlag gedoen. Dit lyk inderdaad ietwat verspot om in hierdie “global village” waarin ons in die moderne tyd woon, te moet lees van dese en gene wat met vakansie is of sakebesoek iewers aflê of dalk onwel is.

Om met die Oranjesnel in die Kaap aan te kom, was vir verskeie pilare van die gemeenskap al klaar ‘n vrypas tot ‘n stukkie in “Persoonlik”. Die Bloutrein het die deure wyd oopgegooi: sommer iedereen wat op daardie deftige manier gereis het, het vir gepaardgaande publisiteit gekwalifiseer.

Gister in die terugblik op Die Burger van 23 Maart 1962 is die “Persoonlik” aangehaal van “mnr. En mev. Dawie van Wyk van Goodwood en hul dogter Elsabe en hul kleinseun Kobus wat met die Windsor Castle na Durban” is. Nou toe nou!

Die rapport oor die gesinnetjie se ekspedisie herinner my dat ons in ons eie tyd darem ook by geleentheid vir ‘n “Persoonlik” (verleë?) geglimlag het. Nie omdat ons sulke indringende verslaggewing op voetsoolvlak geminag het nie, maar oor die “ligte mistykies” wat maklik kon insluip.

Ek het die storie al vertel, maar vandag weer ter sake is die korrespondent van Die Volksblad wat ná ‘n vermaning om duur telekskoste te bespaar, besluit het om, uit ekonomiese oorwegings, twee brokkies saam te voeg.

Hy berig toe: Mnr. Kosie Venter van die plaas Braklaagte en mev. Annatjie Louw van die plaas Mooifontein is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wens nie.”

‘n Korrespondent berig oor bekendes in die distrik wat in die huwelik bevestig is, en van die bruidjie wat van tabberd verwissel het vir die wittebroodsreis. “Albei is in die omgewing goed bekend.”

Nog ‘n huweliksaankondiging: “ Jannie Koekemoer en Sannie Poggenpoel is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”

Die Burger het in ‘n “Persoonlik” berig oor die eggenote van ‘wyle’ mnr. Marais Viljoen, oud-president, se ongesteldheid. Hy bel toe en kla: “Lyk my julle wil my dood hê.”

Die Burger maak sy fout reg, plus ‘n verskoning: “Mnr. Viljoen is nie dood nie. Ons is jammer.”

“Persoonlik” kon wel nuus oplewer – sommer groot nuus. In die dae toe die legendariese Skakel Kriek vir “Persoonlik” in Die Burger, Ronnie King, bontstaan, met die oproep van ‘n beswaarde omdat die koerant dan, strydig met sy onderneming, die naam van ‘n skenker in ‘n hartoorplanting gepubliseer het.

King het ten enemale ontken dat sy koerant woord gebreek het.

“Man, moenie vir my bog vertel nie. Hier staan dit op bladsy 21.” Ronnie blaai na pagina 21. Op daardie blad pryk Oom Skakel se “Persoonlik”. Derde van bo: Mnr. So-en-so het in die Groot Schuur-hospitaal ‘n nuwe hart gekry. Die skenker was mej. ……..” en hy noem die meisiekind se naam wat die familie graag geheim wou hou.

Verduidelik so ‘n ingewikkelde saak nou aan iemand wat nie ‘n koerant se binnewerkinge ken nie!