VAT DIT KORT!
Iemand, veel jonger, vra my gister op my 83ste na ‘n lewensles. Sonder nadenke kom my antwoord: waak teen te lank.
Waarskynlik kan die antwoord, en die snelheid waarmee dit afgevuur is, verbind word met ‘n geleentheid wat onlangs bygewoon is. Daardie een is werklik ver by sy natuurlik einde verby.
Ek begin toe ‘n lysie maak: feeste, konserte, kerkdienste, preke, toesprake, prysuitdelings, dinees, partytjies, kuiers, telefoongesprekke … In my lewe was daar hope waar ek wanhopig op my horlosie begin loer het.
Laat my gerus ook maar introspeksie doen. Natuurlik was ekself in my lewe nie onskuldig nie. Meermale het ek voortgedreun as ek lankal moes gaan sit het. Of aanhou skryf as my sê al lankal gesê was.
‘n Kollektiewe verskoning is aangewese aan almal wat onder my hand onder die ongelukkige verskynsel van sogenaamde “woord-skittery” gely het. Al was my beweegrede dalk ook rein en onbesproke, was dit onvergeeflik. Vergewe my, asseblief.
Maar hoekom word grense so maklik oorgesteek? In ‘n sekere sin het dit met voorbereiding te make. Ek onthou ‘n storie van iemand wat iets sou gesê het soos: ‘n uur se toespraak kan ek in 10 minute voorberei; vir een van tien minute verg dit ‘n uur.
Dis nie al rede nie. Party mense is eenvoudig verlief op hul eie stemme of oorskat die waarde van hul eie insigte en spitsvondigheid. Al was Hamlet hul voorgeskrewe Shakespeare in matriek het hulle skoon vergeet van Polonius se wyse woorde: “Brevity is the soul of wit” (”and wisdom”, wil ‘n mens byvoeg).
Sommige het die skewe opvatting dat van hulle verwag word om eindeloos voort te borduur ten einde reg aan ‘n geleentheid te laat geskied. Ek ken mense wat die kuns ken om selfs ‘n dankwoord so woordryk uit te rek dat dit later dreig om die hoofrede na die kroon te steek.
Die etiket “te lank” geld natuurlik nie net interaksies met mense soos hierbo genoem nie. Mense klou soms te lank aan ‘n posisie vas en sportmanne hou verby hul rakleeftyd speel uit die dwase opvatting dat hulle onvervangbaar is.
Die waarheid oor die waan van onvervangbaarheid is immers opgesluit in ‘n ander storie wat ek ken. Druk jou hand in ‘n emmer water. Die gat wat oorbly as jy dit uithaal, so onvervangbaar is jy.
In party gevalle het jy natuurlik kwalik ‘n keuse. Jou base hou jou amper lewenslank in jou pos en gee jou nooit die kans om iets anders te doen nie. As jy te lank bly leef, is die reg, die mediese wetenskap en die waardes van die gemeenskap weer struikelblokke wat jou eie ingryping verhinder.
Meesal is die keuse egter jou eie. Kies dan reg, beveel die 83-jarige oom jou ernstig aan. Moenie afskeep nie, maar pas tog maar op vir die versoeking om net aan te hou, en aan te hou en aan te hou. Laat “brevitas” jou leuse wees.
Om ‘n langasem te wees, wek gewoonlik meer weersin as bewondering en rig aan jou beeld oneindig groter skade aan as wat dit vir jou statuur gee. Glo my maar. Ek praat uit ondervinding.