Dec 3, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Danksy ‘n vlytige brieweredakteur by Die Burger is daardie koerant se lesers die intellektuele uitdaging gespaar om die briefie hieronder te verteer.
Die resultaat is dat lesers van daardie gewaardeerde Kaapse Afrikaanse dagblad steeds onder die skromelike wanindruk verkeer dat Bulfontein se ouethuis ,Amper Daar sou heet – wat darem sielstergende ligsinnigheid sou weerspieël.
Ek meen nie rubriekskrywers durf straffeloos rondloop wat die waarheid so geweld aandoen ter wille van effek nie, en ook nie dat koerante hul rubriekskrywers so tot elke prys in watte moet toedraai dat hulle maar ongeopponeer mag kwytraak wat hulle wil, sonder bekommernis oor die waarheid aldan nie van hul skryfsels nie. .
Hiermee my verwerpte briefie:
Dit is nie eens amper waar dat die ouetehuis op Bultfontein in die Vrystaat se naam Amper daar is nie.
As aangetroude Bultfonteiner (31 Desember 1966 in die NG Moedergemeente neffens die kerkhof) neem ek des te meer eksepsie aan mnr. Dana Snyman se wanvoorstelling in die rubriek Van Alle Kante van 29 November.
Die huweliksband van amper 50 jaar vereis immers lojaliteit aan die dorp, aan Huis Vergeet My Nie (korrek) en aan sy tydgenootlike inwoners, van wie aan my bekend is.
Boonop kom ek uit ‘n skool vir wie name heilig was. As ‘n vrou haar naam as Anna aangee, het jy haar gevra: Anna met twee n’e of Ana met een n? Het mnr. Snyman iemand gevra? Het hy net die kluts met die spul name kwytgeraak? Of het hy sommer met kwaadwillige asprisheid die naam uit sy duim gesuig?
As ‘n mens oor die naam van ‘n ouetehuis lieg, kan jy oor enigiets lieg. Ek is amper daar dat ek mnr. Snyman se mededelings met ‘n knippie sout neem. (hvd)
Oct 22, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Mense sonder integriteit misbruik die internet om te lieg en te laster. Leuens sien ‘n mens amper elke dag op die web. Dit verbaas my dikwels dat intelligente mense hulle deur sulke onsin met slap rieme kan laat vang. Van laster was ek self al ‘n slagoffer.
Dat my eie bitter ervarings my nie dubbel versigtig gemaak het vir die valstrikke van die medium nie, strek my nie tot eer nie. ‘n Gesonde skeptisisme oor ander koerante se stories is boonop in ‘n leeftyd in die joernalistiek by my ingedril. Dit maak die pil nog bitterder dat die uwe self deur ‘n stuk koele bedrog meegesleur is.
Wel, helaas, ek is. Met die storie van “Herman Louw” se plaas by Komatipoort wat dan nog ‘n voorbeeld van “mislukte grondhervorming” sou wees, het ek hier groot skande gemaak. In mystorie@beeld.com kom die waarheid aan die lig – dit is ietwat anders as in my blog “Plase in hul peetjie” wat op 8 Oktober hier verskyn het.
Die les is opnuut pynlik tuisgebring: moenie eenvoudig aanvaar iets is die waarheid omdat dit uit tien verskillende oorde op jou reën nie. Toe die boodskap van soveel geloofwaardige vriende kom – van Mtunzini in Kwazulu-Natal tot Stilbaai in die Suid-Kaap tot Yzerfontein aan die Weskus, soos ek geskryf het – het ek aanvaar dit is die reine waarheid. Toe klouter ek self goedsmoeds op die propagandawa.
Maar ons almal was bitterlik naief en het ons laat “uitvang” deur iemand wat vir eie doeleindes die waarheid verwring het.
Die “voor- en–na-foto’ s” van die verwoeste plaasopstal is wel die ware Jakob, en dit is inderdaad deur die vorige eienaar geneem, maar hy is nie Herman Louw nie, hy is Phillipus Badenhorst, en omstandighede verskil aansienlik van die beeld wat in die e-pos (en later in my blog) geskep is. Die boerdery verloop voorspoedig.
Jammer aan al my vriende aan wie ek daardie e-pos as waar en bo verdenking versprei het – nog jammerder aan al die niksvermoedende bloglesers (moet ek liewer sê boglesers!) aan wie ek perdedrolle vir vye verkoop het, en aan die nuwe eienaars wat onverdiend bygekom is.
Hoe stel ‘n mens dit reg?
Oor skeidsregter Allain Rolland se rooikaart vir die Walliese rugbykaptein Sam Warburton was daar omstredenheid. Geen twyfel dat HvD hier ‘n rooikaart verdien nie. Van die veld af met jou ou maat!
‘n Afkoelperiode in die yskas sal egter kennelik onvoldoende straf wees. Die rooikaart word opgevolg deur ‘n persoonlike tugverhoor en ‘n vrywillige skorsing. Laat die ou sondaar hom liewer onbepaald uit die voete maak om sy ontnugtering in isolasie te gaan afskud en oor sy dwase liggelowigheid te gaan nadink.
Vat jou goed en trek Van Deventer, vat jou goed en trek! (HvD)
Sep 9, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Vir Dana Snyman voel ek om vandag toe te roep: “Hoor-hoor, my bloedbroer!” In sy “Van Alle Kante” vanoggend in Die Burger skryf hy oor die naamlose sluipskutters op koerante se webwerwe op ‘n manier wat my laat dink hy is op die hoogte van my eie persoonlike lyding hierdie week.
Die ou lyf voel of dit in dosyne trapskrums gekarnuffel is. Onkundiges, kwaadwilliges, moedswilliges, noem maar op; almal is bo-oor my met min genade oor my poging om doodeeenvoudig net die onbetwisbare feit op rekord te plaas dat die redakteurs van my geslag nie verslaggewers verplig het om te lieg nie.
Uiteindelik het die oorsprong van daardie liegstorie, Max du Preex, met ‘n elegante systappie vinnig daarvan weggestap. Dit is rede tot dankbaarheid dat die waarheid hier tog wel geseëvier het (lees blog hieronder: ‘n Leuen begrawe). Dit maak alles die moeite werd. Nogtans voel hierdie ou ietwat mishandel in die proses van “debatvoering”. Min respek vir feite of die onderwerp ter sake is in daardie “debat” geopenbaar. Glo my.
Wat jou voel om in wanhoop te laat uitroep, is daardie alwyse eiewyses wat met hul eie agendas vir jou wil voorskryf. As jy nie hierop en hierop reageer nie, is jy ‘n lafaard! Dan blyk dit hulle begryp nie ‘n snars van waarom dit gaan nie.
Oor koerante en hul verbintenis met die Nasionale Party (wat geen geheim is nie) en oor my verbintenis met die Broederbond (wat geen geheim is nie) , het ek hoofstukke geskryf in my loopbaanboekies, Kroniek van ‘n Koerantman en In Kamera. Hoeveel diepte-artikels uit my pen is in koerante gepubliseer.
Dan wil uitdagende jong Turke (van agter skuilname) jou uit die hoogte dwing om in kort woordgrepe (“word bytes”) opnuut te antwoord op ou-ou vrae waarop uitvoerige antwoorde beskikbaar is – as hulle maar net die moeite wou doen om ‘n biblioteek te besoek.
Maar weet hulle wat en waar ‘n biblioteek is? Ek twyfel soms. In hul ywer om jou te beledig en af te kraak, tel die waarheid en bewyse van die waarheid klaarblyklik min. Een verkondig brutaal: nee dankie, hy stel nie belang om HvD se boekies te lees nie; ek sal tog net daarin my eie beul blaas. Maar dan dring hy aan op antwoorde op die naiëfste vrae, wat eintlik net onthul hoe bloedmin hy weet en hoe oningelig hy deur die lewe gaan.
My antwoord is sonder omhaal: ek sal my nie deur liggewiggies laat dwing om vir hul gerief dinge op die internet in kortbegrip weer te gee wat in harde kopie uitvoerig en beredeneerd geraadpleeg kan word nie. Vergeet dit, liewe webmaatjies, en gaan soek vir julle ‘n ander speelplek.
Van die “kommentatore” op die koerante se webblaaie het my nogal geamuseer. Ene Retha beweer sy onthou die uwe uit sy Volksblad-dae as ‘n “vet, ronde spinnekop” in ‘n fluweelbaadjie (sic) en strikdas. Behoede dit – ek had sulke fyn kleertjies nie in my kas nie. Tokkie lag haar morsdood vir die beeld wat sy in haar verbeelding van die ou “spinnekop” met die strikdas oproep.
Die einste Retha het my meewarig laat glimlag met ‘n verontwaardigde bydrae oor HvD en ‘n KP-advertensie, waaroor ek – kan nie die okkasie onthou nie – volgens haar my onbehae sonder seremonie betuig het. Ek aanvaar dat ek die ding bekrap het. Ongelukkig ‘n slegte gewoonte gewees as iets my nie geval nie! Seker ook die woord “leuens” deur dun lippe uitgepers. KP-propaganda het nie lekker in my “fluweelbaadjie” gaan sit nie, en dit bely ek graag, ook teenoor diegene wat dit as ‘n aartssonde beskou om so “subjektief” te wees.
Maar die weiering om dit te publiseer? Ai, ai.ai. Arme ou HvD was maar net die instrument wat maatskappybeleid (direksiebeleid) moes toepas. Geen advertensie van enige ander party kon daardie tyd nog aanvaar word nie totdat die direksie, op aandrang van die redakteurs, die beleid hersien het. HvD, glo dit of nie, was een van die drywers van die voorstel dat ons moet oopmaak.
Maar pleks dat ek daaroor ‘n held is, is ek oor “my” weiering ‘n skurk. Harde lewe!
Dalk sal die huidige geslag dit moeilik vind om hierdie ou man te glo. Ek “lieg” egter nie; ek “verdraai ook nie die feite” nie, soos die strydvaardige Max du Preez beweer nie. Advokaat Langdavid de Villiers moes immers so kort gelede soos 1987 uit die Naspers-direksie skededdel omdat hy Esther Lategan, ‘n onafhanklike kandidaat in Stellenbosch, ondersteun het. So ‘n naakte anti-NP-demonstrasie is nie met “voortgesette lidmaatskap van die direksie versoenbaar geag nie”. Njannies.
Engelse advertensies was ook lank taboe. Nadat die Friend ter ruste gelede is (soos Max se verbeeldingryke beskuldiging nou), was HvD instrumenteel om daardie verbod opgehef te kry. Skryf, Retha, skryf!
Ongelukkig is die verbod op advertensies van sekswerkers in koerante ook opgehef. Daarin was HvD gelukkig nie instrumenteel nie. Miskien moes daardie vurige meisies se “gunsies” teen ‘n prys, en die katalogus van die beskikbare ware wat hulle adverteer, liewer “toe” gebly het!
En hiermee sela oor hierdie onderwerp – die 80’s en ons nare redakteurs van destyds se verskriklike vergrype, bedoel ek, nie die gewillige meisies se gulhartige dienste nie. (HvD)
Sep 9, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Opvallend afwesig in Max du Preez se repliek op my brief (Beeld/Die Volksblad, 7 September) is enige herbesoek aan die ongegronde bewering wat die kort polemiek op tou gesit het: dat politieke joernaliste kwansuis deur Naspers-redakteurs in die 70’s en 80’s “gedwing” sou gewees het om die waarheid geweld aan te doen.
Daardie verregaande beskuldiging is hopelik nou finaal begrawe. Rus in vrede. Verslaggewers is nie gedwing, verplig, aangesê of onder druk geplaas om te lieg nie. Punt. Die waarheid oor hierdie saak is op die wennerspodium – altyd ‘n mooi gesig.
Die “gesuiwerde” klagstaat teen ons generasie wat Du Preez in sy repliek opnuut stel, is nie ‘n verrassing nie. Ek het in my brief erken dat “baie foute” daardie tyd begaan is, en mense genooi om “na hartelus” te kritiseer. Du Preez laat hom nie twee keer nooi nie!
Hierdie “klagstaat” verteenwoordig hoe Du Preez sake mettertyd al hoe meer begin sien het, en ek respekteer volledig sy goeie reg om dit keer op keer op te rakel. Geen haan sou in ieder geval ná sy relatief standaard-onderhoud gekraai het nie, was dit nie vir daardie moedswillige “dwing-om-te-lieg”-stertjie nie.
My oorhoofse kritiek teen Du Preez is dat hy ‘n komplekse en veeleisende era gans te staties skilder. Die politieke, en joernalistieke, landskap het in min dekades só skouspelagtig verander soos juis in die 80’s. Afrikaanse koerante het in die herskepping ‘n sleutelrol gespeel. (Die Volksblad het dan selfs – agterlangs – KP-advertensies begin plaas!)
In ‘n versoenende gees sal ek my jonger oud-kollega, ondanks hierdie voorbehoud, tog dit toegee dat nie al sy feite en vertolkings voor die voet deur my afgemaak word nie. Hopelik boor hy ook nog in die ouer man se takserings ook ‘n raakpunt of twee oop, ongeag al die wantroue en misverstand.
Naskrif: Hiermee volstaan ek ongelukkig … of gelukkig. My doel was om te bewys dat ons geslag redakteurs NIE politieke joernaliste gedwing het om te lieg. soos Max du Preez in ‘n onderhoud beweer het nie. Toe die tafel vir hom gedek is, het hy verkies om nie die uitdaging te aanvaar nie. Hy het NIE daardie beskuldiging herhaal nie. Hy het ook NIE vlees en bloed daaraan gegee met ‘n naam of name nie. Dit bring ons by die logiese einde van daardie saak. Andere kan dalk brand om ‘n debat aan ‘n wye front te voer. Die politiek van die 80’s wek immers baie teenstrydige emosie. Mag ek mooi vra dat diegene daardie debat dan liefs elders voer, asseblief? Wat ek op die hart gehad het oor sake soos koerante se steun vir die NP, redakteurs en die AB, en dies meer is elders volledig en ook oor en oor opgeteken. HvD.