AS LERAARS STAAK …

Dr. Francois en "Pop"

Dr. Francois en “Pop”

Geweet hoekom predikante nie staak nie?  Omdat niemand dit sal agterkom nie. Die wysheid by Bybelstudie gehoor  – nogal uit die mond van ‘n predikant. Die spitsvondige dr. Francois Hanekom, eerste leraar van die NG gemeente Melkbosstrand en nou, ná sy aftrede,  bedienaar van die 75-plussers in die gemeente, is dikwels so ondeund. Ook van die kansel af.

‘n Keer het hy sy gemeente nog regopper as gewoonlik laat sit toe hulle  sy preektema verneem: “Hou jy van ‘striptease’?” Maar dit was darem net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois Hanekom. .

Die hulpmiddels waarmee hy sy boodskappe beklemtoon, is legendaries. Hy het bv. al ballonne laat bars, geraamde foto’s van die kansel gewerp dat die glas in stukkies spat, ‘n rooi bra aan sy vinger geswaai of met poppe, teddies, ander speelgoed, iinspuitnaalde, selfs vermomming vorendag gekom.

Dr. Marius Falck, medeleraar, onthou ‘n Sondag toe dr. Francois se keuse geval het op ‘n Pyrexbak uit sy “Pop” (mev. Riana Hanekom) se kombuiskas – boonop een waaraan sy buitengewoon waarde heg. Sy was orrelis. Toe sy van die orrel (destyds nog op die galery) afkyk, val haar oog op haar kosbare bak in sy vreemde rol.

Sy het verstyf en deur dun lippies uitgepers: “Mannetjie, vandag gaan ek jou vrek maak.”  Francois kon net antwoord: Ai, Pop, ai ….., aldus kollega Marius.

‘n Dominee se treffendste hulpmiddele is helaas nié altyd immuun teenoor die “onvoorsiene” nie. ‘n Keer het die “onvoorsiene” pynlik toegeslaan. Dit was toe Francois met boeie die houvas van die sonde wou demonstreer. ‘n Meisie van so plus-minus 10 kom op sy uitnodiging vol bravade na vore. Sy word met presiesheid “geboei”.

Toé tref die onheil – die sleutel wil om die dood nie die boeie oopsluit nie.

Terwyl die geproes en gelag in die gemeente al ‘n crescendo bereik, gaan skakel  die koster die polisiehoof. Die geregsdienaar hou met die vangwa voor die kerk stil, natuurlik met skreeuende bande! “Pop” speel en speel. Die dominee en die verskrikte meisieskind word weggeneem polisiekantoor toe. Eers daar word die regte sleutel gevind.

Die volgende oggend het Francois Die Burger se voorblad gehaal: Leraar se “gevangene” vas ná boeiende preek. ‘n BOEIENDE preek, inderdaad.

By die feesdiens met die kerkgebou se 30ste verjaardag was hy op die kansel. Voor die diens is die lidmate op ‘n geestige toer deur die vroeë geskiedenis geneem. ‘n Konneksie van die kerk met ‘n kroeg word toe onthul.

Klink gelukkig erger as wat dit werklik was. Die verkoper van die grond,   Harold Ashwell, ‘n eiendomsbaron na wie ‘n spogstraat van Melkbos genoem is, en verteenwoordigers van die gemeente Philadelphia waarvan Melkbos afgestig is, het afgespreek om die koopkontrak by die Hotel Miramar in Kusweg te teken.

By die hotel aangekom, was die sitkamer onder reparasie, Die kroeg was al uitweg. Die manne het darem nie die transaksie met ‘n dop beklink nie, het dr. Francois bekommerdes verseker.

Anders as sy destydse  kollegas, dr. Marius en dr. Hennie Swanepoel, is dr.  geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”

‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois Hanekom is, breek die son gou deur die wolke.

TROEBADOERE

Hennie Swanepoel toe hy nog ‘n kuifie gehad het

Middag uit Melkbos

Gee die man ‘n Emmy!

So het ek vir een van ons Melkbosse leraars, Hennie Swanepoel, laat weet na sy optrede Sondagaand op Kyknet. Die geleentheid was ‘n bekendstelling van sy nuwe gospel-CD, “Na die Land”. (Hy was ‘n ATKV-wenner en het, in die dae toe hy nog ‘n jong man met ‘n kuif was, ‘n eerste CD “Anderkant” gemaak. Daarna het hy lank in sy dop gekruip.)

Die terug-op-die-toneel-troebadoer het Sondagaand só tuis gelyk voor die kameras asof hy op ‘n Sondagoggend op die kansel staan – met of sonder sy kitaar. Ek het gedink sy vertoning verdien eintlik ‘n Bell’s, maar ‘n man kan mos darem nie vir ‘n dominee ‘n stywe dop whiskey aanbied nie!

Dr. Hennie se “Na die land” kry soveel publisiteit dat ‘n hupstoot op hierdie blog nie boonop nodig is nie. Dit is in elk geval nie die doel van my skrywe nie. Eintlik wil ek spog met ons gemeente en sy TWEE troebadore. Die ander singende dominee (van die drie) is dr. Marius Falck.

Marius Falck – ses CD’s

Marius het ses CD’s op sy kerfstok, maar nie almal is meer beskikbaar nie: “Kersfees vir altyd” (nie meer beskikbaar), “Ek sing van die Lig”, “Die seewind” (nie meer beskikbaar), “Ek glo”, “ Leef in Sy droom” (beskikbaar as DVD) en “Alles is nuut”.

Waar Hennie ‘n “crooner” is, strelend soos Bing Crosby/Perry Como/Dean Martin, sing Marius weer met ‘n forse stem soos Mario Lanza. Sy “Onse Vader” laat my armhare orent staan. En sy “Battle Hymn of the Republic” – dit sleur jou mee.

Marius is landwyd gewild vir “Woord-en-lied”-optredes waar hy met kenmerkende entoesiasme sy Woordverkondiging met sy sang ondersteun. Met hierdie ander soort “noot vir noot” help hy gemeentes hul koffers vul.

Die Falcks is ‘n musiekgesin soos min. Wilna tokkel die klawers dat dit ‘n eer vir die klavier is. Hul dogters, Terina en Madeleen, sing soos engele. As die Falck-susters kragte saamgooi vir “Skipskop”, sal David Kramer nie anders kan nie as om breed te glimlag.

Melkbos se leraars is ‘n driemanskap van gevleueldes: Falck, Swanepoel en … Hanekom. Die Hanekom, dr. Francois, is nie juis ‘n musiek-ou nie, hoewel sy mooi vrou, Riana, die orrel kan laat dreun. Op my gedenkdiens moet sy asseblief “Going Home” uit die Nuwe Wêreldsimfonie uitvoer. Akkoord, Riana?

Francois en Riana Hanekom

Francois laat my dink aan my matriekafskeid in 1957 by Volkies op Potchefstroom. Ek is vriendelik gevra om liewer nie saam met die ander matrieks ‘n afskeidslied te sing nie, omdat ek die harmonie sou versteur! Francois versteur darem nie die harmonie van die gemeentesang van die kansel af nie, maar ek twyfel of sy kollegas hom sal nooi om ‘n trio te voltooi.

Sy waardevolste bydraes in die gemeente lê duidelik op ander terreine as die sang, soos my eie talente (?) hopelik ook op ander terreine as sang en musiek lê.

Een van die Hanekom-talente is ‘n gulle, eiesoortige humor, wat gereeld van die kansel na vore kom, onder meer in ‘n goedige (soms avontuurlike) gehekel met sy geliefde “Pop” as sy die dag die orrel beman. Die lewenslustige “Pop” is nie een wat haar onbetuig laat nie! Praat lustig terug!

Oor sy sanger-kollegas se musiektalente is Francois positief en ondersteunend. Maar – het hy sy gemeente een aand by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”.

Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..” ‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. (HvD)