INSPEKSIE IN LOCO

En nou, dames en here, glo dit of nie: kameelperde wat kan lees.
Pas het ek gister my Lentedagstukkie, Hol-a-drio-a, op Nagkantoor geplaas of twee langnekke daag op vir ‘n inspeksie in loco.
Wat hulle waarneem, verheug die hart en laat die mond water.
‘n Opgeskote rooiboswilg se vars lentekleed skitter in die Laeveld-son. ‘n Rosyntjiebos wat altyd eerste geel blommetjies stoot weens sy strategiese ligging vis-à-vis die swembad, het juis net gisteroggend presies dit begin doen. ‘n Gewone pendoring of twee begin herleef na die winter. Selfs die knoppiesdoring – ‘n groot langnek-lekkerny – het al kos.
Die twee sak toe met mening. Weldra lyk die arme rosyntjiebos soos ‘n hoenderhaan met geplukte stertvere. Die rooiboswilg staan kaalgevreet.
Verlede jaar was ‘n njala-ooitjie en ‘n sebra van die eerstes by die rosyntjiebosdis. Vanjaar is hulle te laat.
Slierte van takkies hang by die eters se monde uit; die lippe bly werskaf. Een ou draai sy nek met akrobatiese vernuf heen en weer om dan links, dan regs die vars blare te stroop.
Maklik ‘n uur of twee het die fees geduur. Vanoggend is Tarlehoet se werf heelwat minder groen. Maar vir daardie uur of twee die Gewer lof. Die Van Deventers se kameelperd-plesier was lank, lekker en meesleurend.
Verskoon tog maar die klomp foto’s; kon moeilik kies.

LENTE, LIEWE LENTE?

Lentedag – Melkbos 2011

Lentedag – Kimberley 1947

More uit ‘n gryse, koue, winderige Melkbos

Beentjies blou van die koue, daag kindertjies op 1 September by die skool op om die aanbreek van die lente te vier.

Was al in my dae só – ek het ‘n foto van 1947 se lentedag-optog by Kimberley se Diamantveld Laer (hierbo). Iewers daar in die see van wit broekies, wit rompies en koddige kadotjies op die kop staan die uwe, toe ‘n brose ses jaartjies oud: ‘n seuntjie in sub B.

Vandag nog só. Maar gister, in die Kaap veral, het die premature lentedag-vierders gebars, boeta. Bibberweer, noem ek dit as die ysige motreëntjie só uit ‘n grys hemel sif en die skuimende branders in ‘n loeiende wind in stormwoede die kus peper (hierbo).

Maar lentekleertjies wil ons dra – en blommetjies in onse hare of krampagtig vasgeklem in ‘n verkluimde handjie.

Laat ons nie die kindertjies beskuldig nie. Dis nie hul inisiatief nie. Die arme bloedjies word opgekommandeer en gemanipuleer.

Iewers het die lentedag-lawwigheid op 1 September vasgehaak soos ‘n ou vinielplaat op ‘n verrinneweerde draaitafel. Opeenvolgende generasies erf maar die “tradisie” by die ouer geslag, wat uit bitter ervaring beter behoort te weet.

Nou sê iemand iewers die Kaap is nie die norm nie . As ons hier klippers kou van die koue , beteken dit nie dis oral só nie.

Rêrig?

Tokkie onthou toe sy jong onderwyseres by Wilgehof in Bloemfontein was. Op “lentedag” kon die kindertjies “gewone klere” aantrek. Siestog, die blou are op die meisietjies se arms en bene wat potsierlik by die te klein geblomde tabberdjies uitsteek, was ‘n bron van onderwyser-hilariteit. Nie dat die hoendervel-seuntjies met hul kortmou-hempies meer vanpas geklee by die skool opgedaag het nie.

In Sabiepark, in die Laeveld van alle plekke, vermy ek die begin van September só ver ek kan – en dis ‘n bekvol omdat ek só lief vir die plek is. (Skryf dan nou weer ‘n boek oor hom – maar, wag, hierdie is nie ‘n reklameflits nie!) Hoekom ek op “lentedag” ver wegbly van my geliefde bos? Omdat die plek dan op sy lelikste is, dor en droog in sy vaal winterskleed, maar met die kwik wat al na somerhoogtes begin reik. Jy begin braai – sonder die visuele kompensasie van die natuur op sy geil groen feestelikste soos in Oktober.

Leipoldt had tog ‘n punt beet met sy “mooiste, mooiste maand”!

Mense, kom ons aanvaar tog nou maar die seisoene wissel nie aan die begin van September nie. Ewe min as wat dit in die noordelike halfrond op 1 September herfs word, word dit op 1 September in die suidelike halfrond lente. (Die aangrypende verkleuring van die herfsblare in Amerika se New England het ek in my Harvard-jaar in 76/77 op sy beste begin Oktober beleef.)

Die aardrykskundiges (of watter kundiges diegene ookal is wat hulle oor geleerde goeters soos “nageweninge” en “dageweninge” gesaghebbend kan uitspreek) vertel hoeka vir ons dit daar by 22/23 September rond dat die seisoene swaai.

Wat die Kaap betref, is selfs dit dalk ‘n ietwat optimistiese beskouing. Ek het mense al hoor kwytraak winter duur hier van Junie tot November – en soms kan ek nie anders as om saam te stem nie. Maar ter wille van die ouens wat jaarliks brandend in hul blokke wag om “lentedag” te vier, kan selfs ons Kapenaars dalk maar ‘n toegewing maak.

Kom ons besluit egter hier en nou: Lentedag is NIE 1 September nie. Kom ons bêre ons somergewaadjies (en allerlei vierinkies) vir op die vroegste 21 September (dis die toegewing). Dan sal ons ten minste nie só simpel lyk met die yl bloeiseltjie in die hare of ‘n oop sandaaltjie waar die robynrooi van die toonnael en die baftablou van die verkluimde voetjie omtrent in skelheid met mekaar meeding nie! (HvD)