Nov 8, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die skoonheid van die Amerikaanse herfs – die “Fall” – word hierdie tyd van die jaar elke dag op Facebook besing en met skildergatige landskapfoto’s’ bevestig.

Herfs in New England
My eie ervaring van die skone seisoen kom uit die herfs van 1976 in New England aan die ooskus. Gister vang ‘n pragfoto uit die Shenadoah-park in Virginia egter my oog (hooffoto links). Dis ewe verruklik.
Die Shenandoahpark onthou ek vir sy lente. Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die blommeprag van die manjifieke dogwood (hooffoto regs) was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park.
Die sogenaamde Skyline Drive van 105 myl (nie kilometer nie) deur die park Washington toe was ‘n prentjie. Die snelheidsgrens is 35 m.p.u. Omring deur soveel natjuurskoon voel jy nooit om die versneller dieper in te trap nie.
Ek kon nie die versoeking weerstaan om elke af en toe te stop om my vrou saam met die bloeisels af gte neem nie: ‘n karnallie tussen die kornoelies.
Terloops, ek verstaan nie mooi of kornoelie die regte vertaling van dogwood is nie. Is dit ‘n spesifieke dogwoord of die versamelnaam vir alle dogwoods? Dalk kan ‘n plantkundige help.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in Maart ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Die fees vier, interessant genoeg, die geskenk van 3 000 Japanse kersiebome aan Amerika in 1912. Op sy beurt het Amerika toe in 1915 ‘n ewe getal Amerikaanse dogwoords aan Japan present gegee.
Moet erken, ek onderskei moeilik tussen die bloeisels, veral op ‘n afstand. Dis seker maar uit pure domheid.
Sep 9, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ironies genoeg moes ons ons laaste vuurtjie op Dinsdagaand 7 September in die agterste lapa aansteek en styf teen die muur skuil teen ‘n snerpende windjie. Later was daar rammelende donderweer.
Die vorige twee aande was dit “swembadweer”. Nou wel net een keer vinnig ingespring maar lekker gewees om skop-skop in die helder water ‘n wyntjie (en ‘n Jagermeistertjie) te geniet.
Hoe ‘n onvervangbare juweel daardie swembadjie is, is opnuut ingeprent. Soos Piet Cillié vir Harry Oppenheimer oor sy Blouberghuisie gesê het, sê ek vir al wat ‘n ryke is oor ons bos-swembad: “You can’t afford it.”
Ons kyk terug op ses wonderlike weke met vele vreugdes waarvan die sagte ontwaking van die lente dalk die grootste was. Dit was heerlik om weer in Sabiepark te kuier en te beleef dat dit in die algemeen goed gaan met ons plek wat ons so na aan die hart lê. In die hart leef die hoop dat daar nog sal wees. Tyd sal leer.
Minder en ‘n kleiner verskeidenheid wild is oor ons werf as wat ons sou hoop. Waar’s die koedoes? Die kameelperd wat kom water drink het, was darem ‘n gedenkwaardige eerste. Klein bokkies – rooibokke, bosbokke, najala-ooitjies en ‘n periodieke duiker – was gereelde besoekers. Die nagapies (en die bosnagape) het ná ‘n sorgwekkende afwesigheid weer hul ding kom doen.
Bloukuifloeries was aanvanklik elke dag om die huis … tot die vangs. Toe vat hulle skrik. Die naguiltjies se klankryke geroep was dalk die konstantste verskynsel. Elke aand het ons minstens enetjie hoor sing. Die laaste paar aande het die paddas by die watergat gekwaak dat dit dreun.
Die elektriese yskas het ‘n element van gerief bygedra wat voorheen ontbreek het, en die sonkrag het kranig meer as die mas opgekom. Die meeste oggende teen tienuur was die batterye vol gelaai. Maar nouja, ons was net twee. Daarvan getuig ook die konserwatiewe gasgebruik – minder as ‘n bottel.
Die Honda se stukkende agterlig – slagoffer van ‘n verdekselse boom – is herstel.
By die piekniekplek het ons een middag hope olifante gesien. Die opwinding met leeus en luiperds het ons telkens misgeloop. Maak nie saak nie. Net om daar langs die Sabie te sit, is ‘n voorreg. Die swartwitpense word bederf met voer by die kantoor. Gaan soek hulle maar daar. Hulle verruil gereeld die bos vir die kort groen gras.
‘n Aspek wat my, ‘n ouer eienaar, werklik bekommer, is die gedrag van ‘n nuwe element in die geledere van Sabiepark-eienaars en hul plesiersoekende gaste wat eienaars wat aan die tradisionele Sabiepark-kultuur vashou, as ’t ware al hoe meer “uitboer”.
Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars. Die swemarea, TV-kamer en selfs piekniekplek is oorstroom. Drank het gevloei en ‘n geswets het voorgekom. Oor onstigtelike Zoom-vergaderings in die TV-kamer het ek dadelik my stem verhef. Ek is dankbaar oor die onmiddellike verbod wat ingestel is. Ongelukkig moet ek rapporteer dat balhorige mense eenvoudig voortgegaan het met die praktyk. Die kennisgewings by die deur is veronagsaam asof dit nie bestaan nie. Van die skuldiges se houding was heel astrant en aanmatigend teenoor mense wat wou TV kyk of in stilte op hul rekenaars werk.
Hoe anders beheer uitgeoefen kan word as deur strenge kontrole weet ek nie. Dit beteken waarskynlik toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand. Maar dit vereis ook volgehoue gedragsbeheer en optrede teen mense wat noodsaaklike reëls na willekeur buig en breek.
Ons leef in ‘n era dat ‘n nuwe geslag mense al hoe meer regte vir hulleself opeis en die regte van ander in die proses vertrap. Hoe om hierdie patroon ten minste t.o.v. Sabiepark om te keer, sal seker nie maklik wees nie. Die wysheid van Salomo word die bestuur toegewens.
Ten slotte ‘n buiging na Tokkie vir alles wat sy daar vermag het. Net die likkewane het haar gewen. HUlle is steeds in die dak. Maar wat in Sabiepark gaan gebeur as sy nie meer haar bekwame en flukse hand so op die plek kan hou nie, weet ek nie.
Mar 28, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Karnallie tussen die kornoelies. Lente in Shenandoah.

Herfs in New England
More uit Melkbos
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan….
‘n Skilderagtige jaargety is herfs inderdaad, en skilderagtiger kan niemand die natuur hierdie tyd van die jaar in woorde omsit nie as N.P. van Wyk Louw.
Ekself kan maar net die meester se wonderlike waarnemings woordeloos beaam: die goue akkerblare, die wingerd wat verbruin, die witter lug, die klare son, kaal bleek takke van die lang populiere – ons sien die eerste tekens om ons heen. Herfs is op ons.
In Amerika raak dit natuurlik nie nou herfs nie. Oral in die noordelike halfrond bars die lente vrolik uit. In Amerika blom die legendariese dogwood (regtig kornoelie, soos die woordeboek beduie?) van Florida af in die suide tot diep in New England.
Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die manjifieke dogwood was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park. Die sogenaamde Skyline Drive deur die park Washington toe was ‘n prentjie.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in die lente ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Eintlik is ek tog met hierdie skrywe op pad na die Amerikaanse herfs, wat in September kleurryk aanbreek. Veral in New England – waar die bome vroeg September in Maine en Vermont begin verkleur, dan in New Hampshire en Massachusetts en uiteindelik ook op die suidpunt van die komplilasie van state, in Rhode Island en Connecticut aan die einde van Oktober.
Wie nog nie die Amerikaanse “Fall” beleef het nie, mis iets skoupelagtig. Die gewone skakerings van groen, so volop in die oostelike state, raak ‘n dieprooi, helder geel, bruin en oranje. Van sekere punte is die hele landskap, so ver die oog kan sien, soos ‘n palet waarop die kleure deur ‘n reusehand deurmekaar geskommel is. Aangrypend mooi.
In ons Amerikaanse jaar, 1976/77, het ons die herfs ingedrink in naweek-uitstappie op naweek-uitstappie met my Toyota Corona-stasiewa, met sy matrassies agterin waarop die Van Deventers hulle in ‘n verskeidenheid “trailer camps” kon uitstrek. In albums van daardie tyd is verdroogde blare, blare, blare en hope foto’s van die kinders, Johan (toe 5) en Marisa (3), wat onder reusebome in ‘n uitgestrekte, ritselende bont mat sit en blare opskep.
Wonder of N.P. van Wyk Louw ooit gesien hoe die jaar in daardie geografiese regterskouer van daardie groot land “ryp word”. Slegs ‘n woordkunstenaar soos hy sou die woorde kon vind om dit te beskryf soos ek dit graag aan lesers van hierdie blog sou wou skets. Die foto hierby is mooi. Die werklikheid is mooier.
(HvD)