LEEU, MOT OF SPREEU – SO JAG JY HOM
As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy sy stertjie en wag. Die wysheid (?) is by my ingeprent in een van die eerste liedjies wat ek in my prille jeug geleer het doer in die 1940’s.
En as jy ‘n mot wil jag?
Dit, deel C. Louis Leipoldt mee, is ‘n operasie wat tot die nagtelike ure beperk is. Die beste manier om nagmotte beet te kry, is om boomstamme met ‘n mengsel van moskonfyt en ‘n bietjie brandwyn te smeer. Die motte, aangelok deur die reuk, kom die soetigheid suip. Hulle word so hoenderkop dat hulle maklik gevang word, aldus Leipoldt.
So lees ek in die skrywer se Jeugherinneringe, soos opgeteken in JC Kannemeyer se UIt die skatkis van die slampamperman (Tafelberg, 1999). Pas ‘n genotvolle herbesoek gebring.
Om motte met brandwyn uit te oorlê, klink vir hierdie ou nogal na ‘n plan wat deur oud-kollega Piet Theron van Westerbloem in Bloemfontein gesmee kon gewees het. Piet had die probleem van spreeus wat die vye betakel net as hulle mooi ryp raak. Toe kry hy die raad (raat?) om die vrugte met Tabasco te dokter, Dit werk soos ‘n bom.
Toe die eerste spreeu gulsig hap, kom saam met die soet vlesige vrug ‘n skerp brandsmaak in sy mond wat hom kwetterend laat protesteer. “Kom,” gebied hy gesteurd sy manskappe. Hulle gee fladderend pad en kom nie terug na die verradderlike “brandboom” nie.
Naskrif: Die onthou van die liedjie oor die leeujag bring ook ander eerste liedjies in herinnering. Hier’s twee:
Daar’s ‘n apie op ‘n stokkie voor my ma se agterdeur; daar’s ‘n gaatjie in sy broekie en sy stertjie loer daar deur.
En
Tortelduifie koer in die eikeboom, sing die lied van sy lewensdroom, koer tortelduifie koer, koer tortelduifie koer, tortelduifie by die waterstroom.
En skielik is hierdie 81-jarige terug by die Laerskool Diamantveld in Kimberley in die 40’s – op mej. Muller se skoot met my gebreekte arm in standerd een.