EEN DOSYN REIERS

More uit Sabiepark

Een dosyn reiers, asseblief. Die “bestelling” is enkele dae gelede, laatmiddag, by Lake Panic presies uitgevoer.

By die gewilde voëlskuiling naby Skukuza is reier-aktiwiteit gereeld deel van die waterlewe. Ons het selfs al die skaam ralreier, die seldsame woudapie (klein rietreier) en die nagreier daar raakgeloop.

Die groot menere soos die reusereier,die bloureier die grootwitte en die rooie kom gereeld voor saam met al die visvangerspesies, slanghalse, rietduikers, grootlangtone, riethane, waterdikkkoppe en bontkieweiete wat die langste van lang lense van die toegewydste voëlkykers in strome lok.

In die somer van 2010 het ek en Tokkie twee reusereiers ‘n paringsdans langs die water sien uitvoer, grasieus soos ‘n outydse minuet.

Maar twaalf reiers tesame? Nog nie voorheen gesien nie. Oral in die bome was hulle, op broeineste, op die grond naas die skuiling, of swewende in die lug. Party was mekaar aan’t opdollie. Ander het net sit en staar. Een het met ‘n slanghals oor die besit van ‘n droë boomtak rusie gesoek.

Twee reusereiers het ons daar gesien, nege bloues en een witte. Verskuil agter takke, was daar dalk nog ‘n paar. Die witte het twee vangste kort na mekaar uitgevoer. Eers ‘n vet vis. Toe ons dink die ou wurg nog aan sy hoofgereg, deurboor hy met sy snawel ‘n nuuskierige padda vir poeding.

Die gewone tros seeekoeie het, eienaardig genoeg, ontbreek. Hul aandag was seker elders vereis. ‘n Krokodil het wel in die loom middagson lê en bak.

Ons is opnuut getref deur die salwende stilte van die plek. Al geluide wat gehoor is, was die klak-klak-klak van die kamera-snelvuur, die flap-flap-flap van die vlerke en die plong-plong-plong (ploems-ploems-ploems?) van die mis op die water.

‘n Dag of wat tevore had ons ‘n ander vermeldenswaardige voël-ervaring. Ons ry van Balule af huis toe met die ou hoofpad en daarna die S100 langs die Nwanetsirivier – vir diegene wat vergeet het: my gunstelingpad.

Juis by ‘n poeletjie in die Nwanetsi sien ons die groot voël met die houding van ‘n saalbek, maar oorwegend grys en wit. Ons dag eers ons het iets beet vir aanmelding by die SA Komitee vir Seldsame Voëls en dat die Van D’s waarskynlik net ‘n hanetreetjie daarvan weg is om hul name in die eksklusiewe ‘Africa: Birds & Birding’ gepubliseer te sien.

Toe help meer ervare kykers ons: Daardie vaal weergawe van ‘n saalbek is inderdaad ‘n saalbek, maar ‘n jong eksemplaar.

Interessant genoeg, het nie een van onse ingeligte vriende al eeen in lewende lywe gesien nie.

NASKRIF: Waarskynlik die VanD’s se gedenkwaardigste voël-oomblik tot dusver was op 7 Augustus 2009 by die Sunsertdam by Onder-Sabie: 100 plus nimmersatte ingeryg op die damwal. Die mededeling word meermale met kwalik verborge skeptisisme begroet. Dawie en Annatjie Strydom is darem getuies. Hulle was saam in die Honda.

(hvd)

VERBETE MENSE MET FRIS LENSE

Middag uit Sabiepark

Met tamaaie lense soos fris manne se bobene het entoesiaste vanjaar die Wildtuin se voëlskuilings so kant en wal gepak dat ‘n veldmuis skaars ‘n gaatjie sou vind.

‘n Swetterjoel indrukwekkende lense – party op sulke swaai-gedoentes soos ‘n tandarts-stoel – het Lake Panic, by Skukuza, veral een Saterdag van vroegdag onder militêre beleg gehad.

‘n Mens gun daardie garde die vreugde van hul stokperdjie en duur toerusting, maar my vrou, Tokkie, merk op dat op die meeste gesigte geen vreugde te bespeur is nie – net verbetenheid om ‘n goeie kameraskoot tog tot elke prys nie te mis nie.

As ‘n voël net vlerke fladder of – halleluja! – opstyg vir ‘n demonstrasievlug, dan rat-tat-tat die sluiters soos masjiengeweervuur. Die groter prentjie van die natuur gaan vele egter verby.

Daardie dag het jy by Lake Panic vergeefs rustigheid gesoek. Selfs om ‘n sitplekkie te kry, was plus-minus onbegonne. Hoe dankbaar is hierdie ou nie vandag as hy met sy beskeie Canon Lake Panic se lang paadjie binnestap nie. Die wintervakansie van 2012 is – hoera! – iets van die verlede.

Nog rede vir stille blydskap: die drastiese afname in verkeer op die rivierpad na Onder-Sabie. Twee keer op een dag het ek by ‘n leeutjie of drie naby die pad in sulke knope vasgeval dat die wêreld se beste verkeersbeheerstelsel magteloos sou wees.

Hoe ontknoop jy die chaos as twee rye motors van een kant kom en twee rye van die ander kant? Vergeet dit – dis skaakmat.

By die hekke vloei sake heelwat vinniger. Die kansvatter-dagbesoekers met drank in hul kattebakke is genadiglik minder – veral ook diegene wat dan boos die pad versper terwyl hulle dreigend sake met die arme hekwagte probeer uitsorteer.

Twee stories wil ek graag deel:

Een is van die ou wat met sy mik-en-drukkie by Lake Panic instap net toe een van die beste sitplekke leegraak. Hy skuif dankbaar in en begin kiek. Sy gesig registreer net vreugde oor die pragtige natuurskoon.

Nommer twee is van ‘n vriend, ‘n dokter, wat onwetend met 14 biere van sy seun by die hek opdaag. Eerder as om die lafenis prys te gee, ry hy ‘n entjie terug en versteek dit, bedek met grassies, onder ‘n bossie. By die hek is sy motor weldeeglik ondersoek – waar’s daardie bier dan nou? En die bier? Dié het veilig onder die grassies op hom gewag! (hvd)

PANIEK OOR LAKE PANIC

Middag uit Melkibos

Oor my “Meer van Vreugdes” raak ek maklik liries. In “Duisend Dae Langs Die Sabie” besing ek opnuut die lof van Lake Panic, skilderagtige lafenis vir die siel digby Skukuza, net 15 kilometers van Sabiepark se hek af.

Lake Panic se voëlskuiling is op die S42 tussen die Krugerhek en die kamp. Dit is net ‘n klipgooi van Skukuza se gholfbaan en die skaduryke inheemse kwekery af. Watervoëls – van die yslike reusereiers tot die fyntjiese kleinkoningriethane – is gek na die plek. Ek ook. Om op die gholfbaan se stoep ontbyt te eet, is eweneens ‘n gunsteling-bosaktiwiteit.

In die duisend dae van die Van Deventers se bosbelewenis tot dusver was die nimlike Sabierivier soms rustig, soms onstuimig. Een keer, in Februarie 2000, het hy hand-uit geruk. Hierdie week, in Januarie 2012, sommer aan die begin van ons tweede duisend dae, was daar amper ‘n herhaling van daardie onheilsdag.

Namate die nuus oor die siedende rivier se stygende hoogte en berigte oor die skades begin inkom het, asook die asembenemende fotomateriaal uit alle oorde, is asem opgehou. Het wat voorheen met vaste vertroue ‘n “honderdjaarvloed” genoem is, dalk nou sy siklus tot slegs 12 jaar verkort?

Toe die skoknuus kom dat Lake Panic se wal gebreek het, het die vae onrus skielik die hart van skrik laat steier. Gaan Lake Panic sy naam gestand doen, was die vraag op almal se lippe. Vrese dat die dam se muur water die personeeldorp Skukuza kon platloop, het opgewel.

Die “panic” in Lake Panic se naam beteken immers werklik “paniek” oor daardie wal – die paniek van sy bouers dat dit kon breek. Terwyl die dam in 1977 in aanbou was, het die vrees ontstaan dat die nuwe wal, nog broos en ongevestig, voor die watergeweld sou meegee.

Jeanette Coetzee van Tennessee, voorheen van Skukuza, vertel: “‘n Vreeslike donderstorm het een middag losgebars – ‘n ware wolkbreuk. Sou daardie massa vloedwater oor die grondwal stort, sou dit verby wees met die nuwe dam. Dit het ons dadelik besef. Al wat leef en beef kom toe met hul grawe en pikke. Die manne werp alles in die stryd om die dam te red. Hulle het paniekerig net bly grawe om die uitloop dieper en groter te maak. Só red hulle toe die dam – ‘n heldedaad met pik en graaf.”

Na 35 jaar gebeur die ondenkbare toe wel – die damwal breek. Maar genade van bo: die dam se water stroom wel deur die dorp; egter nie bo-oor die dorp, soos gevrees nie. Om die huise lyk dit soos mere. Maar die huise bly staan. Slegs tuine, stukke paaie en ‘n hap van die kwekery word weggevoer. Die goeie mense van Skukuza en hul vriende oral kan ‘n sug van verligting slaak.

Die paniek van 1977 was dalk geregverdig; die paniek van 2012 was gelukkig van korte duur.

Oor waarom die ergste vrese nie bewaarheid is nie, kan ek nie uit Melkbos probeer bespiegel nie. Skukuza van 1977 en Skukuza van 2012 is egter in vele opsigte verskillende plekke. Die kwesbaarheid is waarskynlik deur omvangryke ontwikkeling verminder.

Soos ek hier tik, is ek diep dankbaar dat soveel van die mooi behoue gebly het. Kom die Van Deventers in die winter weer in die bos, soos nog altyd sedert 1997, sal ons bepaald binne die eerste paar dae gaan ontbyt eet op die gholfklub se stoep. Miskien wag dan nog ‘n uitgestrekte modderbad waar voorheen ‘n plaat blink water met hope seekoeie en ‘n ryke voëllewe was. Dalk hoor ek g’n seekoei proes nie. Dalk sit die gapende gat steeds in Lake Panic se wal, soos op die foto hierbo wat op die webwerf van die gemeente Krugerwildtuin (tik Krugerwildtuin Gemeente in Facebook se soekhokkie) verskyn het. Een wete sal egter oorheers: dit kon egter soveel erger gewees het.

Trouens, die hele vloed se impak kon soveel groter gewees het. Skade aan brûe – laagwater- en hoogwaterbrûe – het nie uitgebly nie, maar happe is darem nie uit brûe geruk soos op die foto hierby van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek nie – een van die onvergeetlike herinneringe van die vloed van 2000.

Mense soos ds. Carl Louwrens van Skukuza meen dat ons juis 2000 se vloed daarvoor moet bedank. Dié het die rivier skoon gespoel. Destyds is bome meegsleur. Die stamme het teen brûe opgestapel. Hemelhoë damwalle is gevorm. Die muur van water kon nie vorentoe nie en reusegolwe het o.m. oewerhuise ingesluk.

Vanjaar was die rivier oop, die water kon vloei – see toe.

Op die houtblad van Lake Panic se skuiling het iemand lank gelede uitgekrap: “What I saw here you could not even imagine.” Mense wat die vloed van 2012 en die wonder van die relatief beperkte skade beleef het, sou ongetwyfeld met diepe dankbaarheid dieselde kon rapporteer. Dit is inderdaad bo menslike verbeelding.